Vier babas in een jaar ná sy nie kon swanger raak

charlotte-en-babas

Charlotte en haar vier babas. Foto: Facebook/Charlotte Parker

ʼn Vrou van Wes-Sussex in die suide van Engeland het opslae gemaak nadat sy binne ʼn jaar lewe geskenk het aan vier babas nadat dokters glo gesê het sy sal nie natuurlik of selfs deur middel van in vitro-behandeling swanger kan raak nie.

Charlotte Parker was op moedverloor se vlakte ná dokters haar meegedeel het dat haar eierseltelling so laag was dat die vrugbaarheidsbehandeling nie sonder ʼn skenker sou werk nie. Parker het gesê dit was verpletterende nuus om vas te stel dat sy so ʼn uiters lae eierseltelling het. “Dit het gevoel of al ons toekomsplanne van ons af weggeneem is,” het sy gesê.

Terwyl Parker (32) en haar man, Billy (29), na moontlike skenkers gesoek het, was hulle verras om agter te kom sy het natuurlik swanger geword. Sy het ʼn week voor die eerste afspraak ʼn tuisswangerskaptoets gedoen en dit was positief. Sy het op 6 September verlede jaar aan hul seuntjie, Lewis, lewe geskenk.

parker-gesin

Die Parker-gesin. Foto: Facebook/Billy Parker

Die egpaar, wat in 2014 getroud is, het voortgegaan met hul soektog na skenkers aangesien hulle graag hul gesin wou uitbrei. Weke later het die geluk hulle egter weer getref, en selfs kenners verstom, toe ʼn sonar in Januarie vanjaar bevestig het Parker het weer natuurlik swanger word – dié keer met ʼn drieling.

Adam, Jamie en Ella is op 4 Augustus op 32 weke by die St. Peters-hospitaal in Chertsey, Surrey, gebore. Die drieling moes vir langer as ʼn maand in die neonatale eenheid van die hospitaal bly.

Ella het by geboorte slegs 1,3 kg geweeg, terwyl die twee seuns, Adam en Jamie, effe swaarder was, onderskeidelik 1,5 kg en 1,8 kg.

“Hulle was soos klein poppe,” het Parker gesê. “Lewis is nog ʼn bietjie jonk om heeltemal te verstaan dat hy drie nuwe sibbe het, maar hy is nie bekommerd nie.”

Die babas is tans gesond en tuis.

Parker het aan Mail Online gesê om vier babas te hê “voel soos malligheid”. “Daar is heelwat voedingstye met ongeveer 26 bottels in 24 uur en ons gaan deur omtrent 30 doeke per dag. Die dae gaan baie vinnig om. Ons gaan maar net aan met ons dinge, maar wanneer ons tyd kry om stil te raak kan ons nie anders as om oorweldig te voel deur ons vier babas nie.”

“Dit is vreemd om terug te dink aan die dae toe ons gedink het ons kan nie kinders hê nie,” het sy bygevoeg. Volgens Parker het sy en haar man, ʼn sjef, skofte uitgewerk om in die nag op te staan sodat elkeen ʼn paar uur rus inkry terwyl hulle na die kinders kyk. Parker se ouers verleen ook ondersteuning.

“Alles in ag genome, is dit vir ons so lekker om by die huis te wees as ʼn gesin. Ons is regtig bly om almal by die huis te hê en voel baie bevoorreg om vier gesonde en gelukkige babas te hê.

“Soveel mense kry daagliks dieselfde slegte tyding as ek destyds, en dieselfde gelukkige einde is baie mense nooit beskore nie. So, ek voel baie bevoorreg. Ek het nie gedink dit is enigsins moontlik nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Hannah ·

Sjoe! Dit moet ‘n besige huishouding wees! Hoop uit my hart sy het goeie ondersteuningsbasis.

Jakalas ·

Hulle vat die kinders by doesyne part baie erenstig op hahaha. Wat ‘n seëning om kinders te hê.

Ekke ·

Net weereens ‘n bewys dat ons ‘n Almagtige Liefdevolle God dien by wie niks onmoontlik is nie.

stefanie ·

By die Here is niks onmoontlik nie veelsgeluk julle twee

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.