Vier jy vandag Moedertaaldag?

taal-tale-wolk

‘n Moedertaal is ons kragtigste instrument vir die bewaring en die behoud van ons kulturele erfenis. Foto: Thebesttravelplaces.com

Ter viering van Internasionale Moedertaaldag Woensdag deel Akademia, ʼn hoër onderwysinstelling wat gebruik maak van Afrikaans as voertaal, in die merkwaardigheid van hierdie spesiale dag.

“Internasionale Moedertaaldag is ʼn besonderse dag om as Afrikaanssprekendes te vier, eerstens omdat Afrikaans as moedertaal ons kragtigste instrument vir die bewaring en die behoud van ons kulturele erfenis is. Tweedens is die viering van hierdie dag ʼn bewys dat alle tale in die wêreld ewe belangrik geag behoort te word,” sê dr. Saretha Brüssow, dekaan van Akademia.

Brüssow verduidelik verder dat ʼn moedertaal veel meer as net ʼn taal is. “Dit weerspieël ʼn eiesoortige identiteit, dit vorm die milieu waarbinne ʼn mens groei en kultuur bou, en dit koester ook ʼn gevoel van gebondenheid of gemeenskaplikheid. Vir hierdie redes behoort Internasionale Moedertaaldag wêreldwyd gevier te word.”

Volgens die Verenigde Nasies se Opvoedkundige, Wetenskaplike en Kulturele Organisasie (Unesco),[1] sterf daar gemiddeld een taal elke twee weke uit. Daarom is Akademia trots om ʼn onderrigleermodel wat geskoei is om hoë gehalte onderrig in studente se moedertaal – Afrikaans – te kan bied. Studies[2] het bewys dat moedertaalonderrig voordelig vir die student is. Van hierdie voordele sluit in dat moedertaalonderrig die verwerking van kennis en begrip bevorder, asook probleemoplossing en die integrasieproses van nuwe en bestaande kennis vergemaklik.

“Ons sien uit om Akademia se onderrigleermodel verder in Afrikaans uit te bou, en Afrikaans, met sy ryk erfenis, as wetenskaptaal te koester,” voeg Brüssow by.

  • Aansoeke om gedurende die 2019 akademiese jaar by Akademia te studeer, open op 1 Maart 2018. Vir meer inligting oor Akademia se akademiese aanbod, leermodel en 13 studiesentrums, besoek die instelling se webblad by ac.za, stuur ʼn e-pos na [email protected], bel +27 82 908 3362 of SMS jou navraag na 34933 (R2 per SMS).

Bronne:

[1] https://en.unesco.org/international-days/international-mother-language-day

[2] http://www.scielo.org.za/pdf/tvg/v57n3/04.pdf

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

JC ·

Wonderlik!
Ag, dit maak my hart so bly! Baie, baie dankie, die werk wat julle doen is verskriklik belangrik, kosbaar en hoopgewend
Voorspoed Akademia en Afrikaans, ons pragtige en unieke moedertaal wat ons saam met moedersmelk ingekry het!

Paul ·

JC, nie as die AWS anglisismes en woorde sommer direk uit Engels onderskryf nie, die AWS is deesdae deurspek daarvan. Wat ‘n tragedie, en dan word dit mildelik op die Afrikaanse webwerwe gebruik. Ek lees bv daar onder Herman Toerien se skrywe die woord ‘magnitude’.

JC ·

Dit is so Paul, dit is nie net vreemde woorde as sulks wat deesdae inkruip in ons Afrikaanse taal nie, maar ook volksvreemde slagspreuke, segswyses en maniere van wyer begrippe stel. Dit is te bejammer, ons is egter bewus daarvan en ek is seker elke Afrikaanse deskundige is aan die dink oor hoe om dit te verhoed en skeppende, verbeeldingryke oplossings te vind daarvoor; maar met die “lui” en gemaksugtige, effe ambisielose jeug van vandag is dit ‘n omslagtige en ingewikkelde taak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.