Vier wenke vir beginneronderwysers

Deur Celeste Labuschagne

Argieffoto ter illustrasie. (Foto: goconqr.com)

Dit is 2022 en jy staan op die drumpel van jou splinternuwe loopbaan as onderwyser!

Jy kan nie wag om jou lewenslange roeping te vervul nie. As gebore onderwyser is al wat jy wil doen om kinders te “leer”. Jy kom gewapen met al die kennis wat jy ná vier jaar op universiteit versamel het. Dit is nou jou kans om dit toe te pas en jy gaan sommer van die begin af ʼn indruk maak! Dissipline gaan te alle tye in jou klas gehandhaaf word; leerders gaan al die werk verstaan wat jy met hulle behandel; en die leerders gaan mal wees oor jou.

Liewe beginner-onnie …

Ek skryf hierdie stuk vir jou omdat ek ook daar begin het. Ek het ook my onderwysloopbaan aangepak met sterre in die oë en alle kennis in pag. En dan moet ek bely: die praktykskok wat ek beleef het, was ontnugterend.

Gou het ek ontdek dat onderwys in Suid-Afrika oor veel meer gaan as net kennis van die vak wat jy aanbied. In die deursneeskool sal jy nie net jou vak onderrig nie, maar ten minste een of twee sportsoorte aanbied, asook toesig hou tydens buitekurrikulêre aktiwiteite. Nie-vakgerigte sokkies en busdiens op pad na sportgeleenthede sal jou pligtestaat verder inkleur.

Die genadelose Covid-19-pandemie sal ook vir nog meer verantwoordelikhede sorg. Jy sal moet verseker dat leerders sosiale afstand hou; hulle maskers dra; en dat jou klas ná elke periode gesaniteer word! ʼn Onderwyser se dae is lank. Gou sal jy besef dat vakansies nie ʼn luukse is nie, maar welverdiend. Al is dit ook net om werk op datum te kry óf voor te berei vir die volgende kwartaal.

Wag, voor jy weghardloop! Daar is hoop. As ek dit deur 22 jaar van onderwys kon oorleef, kan jy ook. Wat meer is, jy sal jou loopbaan ook nog geniet, al sal dit soms uitputtend wees.

Ek het algaande en uit ondervinding ʼn paar “truuks” geleer wat ek graag met jou wil deel in die hoop dat jy daarby baat sal vind:

  1. Moenie gewild probeer wees nie

Die grootste fout wat ʼn beginner-onderwyser kan maak, is om gewild by die leerders te probeer wees. ʼn Mens is nog jonk wanneer jy begin skoolhou en baie beginner-onderwysers probeer leerders se maat wees in plaas daarvan om die onderwyser te wees – al is jy net enkele jare ouer as die matrikulante. Hierdie fout kan veral in hoërskole tot dissiplinêre probleme in die klaskamer lei. “ʼn Maat-onderwyser” sal nie deur leerders as die gesagsfiguur beskou en gerespekteer word nie. Gevolglike dissiplinêre probleme sal dan ook moontlik deurspoel na jou vak. Dié soort praktyk kan uitwys dat leerders nie op standaard presteer nie omdat hulle klastyd as kuiertyd beskou. Wanneer ʼn beginner-onderwyser die situasie reeds ver laat vorder het, is dit baie moeilik om terug te keer om die professionele verhouding van leerkrag teenoor leerder reg te stel.

ʼn Beginner-onderwyser moet van die begin af besef dat onderwys nie ʼn gewildheidskompetisie is nie; begin jou loopbaan daarom op ʼn ferm maar regverdige grondslag. Neem beheer van jou klaskamersituasie vanaf die eerste minuut dat jy in jou klaskamer instap. Maak verder seker dat leerders presies weet waar hulle met jou staan en wees altyd konsekwent in jou optrede. Wees die opvoeder-onderwyser in die klaskamer en dring op wedersydse respek aan. Namate die jaar vorder, sal jy sien dat leerders van jou hou – nie omdat jy hulle maat is nie, maar omdat jy goed voorbereid is, vakkundig is en veral omdat jy ʼn gesonde onderwyser-leerderverhouding vanuit respek handhaaf.

  1. Kry jou eie dissiplinêre styl

Vir enige onderwyser is uiters belangrik om ʼn eie dissiplinêre styl te ontwikkel. Dit mag dalk beteken dat jy aanvanklik eers ʼn paar foute sal maak. Dit is normaal en onvermydelik. Leer uit hierdie foute. Dit sal vir jou duidelik raak watter optrede of dissiplinestyle nie slaag nie. In die proses sal jy ook gou agterkom dat daar klaskamerpraktyke en -tegnieke is wat werk. Na my mening is die grootste fout wat ʼn beginner-onderwyser kan maak om elke keer wanneer die dissipline in jou klas handuit ruk, by die klaskamer uit te storm om ʼn departementshoof of dissiplinêre hoof te gaan roep om te kom help. Moet ook in geen omstandighede ooit op leerders skreeu nie. Dit veroorsaak dat leerders afsluit en net glad nie na jou luister nie. Soms is stilbly en ferme sagte opdragte baie meer doeltreffend. Probeer dit. Bly ook te alle tye kalm en wys dat jy in beheer van die klaskamersituasie is, al voel dit nie noodwendig so vir jou nie. Maak ook seker dat jy jou persoonlike probleme by jou klas se deur los en dit nie met die kinders bespreek of op hulle uithaal nie. Dit sal dalk ʼn wyle neem tot jy jou eie styl gevestig het, maar hou aan en moenie moed verloor nie.

  1. Wees altyd voorbereid

Wanneer jy met ʼn skooldag begin, sorg dat jy voorbereid is. Wees voorbereid wat die vakinhoud betref, maar wees ook voorbereid op alle gebeurlikhede. Jy beplan dalk ʼn les wat ten volle deur middel van multimedia aangebied moet word, en dan skop die krag skielik uit net voordat jou les begin. Indien jy nie ʼn alternatiewe plan het nie, sal dit beteken dat kosbare onderrigtyd verlore gaan. ʼn Ander onderrigmetode sal dalk in hierdie geval die oplossing wees. Maak daarom seker dat jy nie net op datum met die inhoud van jou vak is nie, maar ook onderlê is in die jongste onderrigmetodes soos onder meer die omgekeerde klaskamermetode. Leerders weet instinktief wanneer ʼn onderwyser nie voorbereid is nie, en hulle sal die situasie altyd uitbuit om nie te werk nie. Indien hulle egter agterkom dat jy altyd ʼn plan het vir enige gebeurlikheid, sal hulle self ook vinnig skouer aan die wiel begin sit om in jou klas te werk.

  1. Byt vas

Mense wat nie in die onderwys staan nie, sal nooit weet wat onderwysers in ʼn jaar beleef nie. Onderwysers werk elke dag met mense en nie met saaklikhede nie. Dit beteken dat daar honderde veranderlikes is wat ʼn onderwyser elke dag moet bestuur. Dit is nie noodwendig maklik nie. As onderwyser sal jy soms oorweldig voel deur al die administratiewe papierwerk en voorbereiding. Jy sal in die middae besig wees met óf sportafrigting óf kultuuraktiwiteite en gevolglik in die aande tot laat moet werk om vir die volgende skooldag voorbereid te wees. Vakansietye sal dikwels ook opgeslurp word met voorbereiding, sporttoere óf winterskool-aanbiedings vir matrikulante. Om tot op die been moeg te wees, is iets wat jy beslis sal ervaar. Maar hoe langer jy skoolhou, sal jy jou eie metodes ontwikkel om take vinniger en makliker af te handel. Jy sal beslis leer wat werk, en wat nie werk nie. Voor jy jou oë uitvee, sal jy twee of drie jaar ondervinding hê en skielik besef dat jy jou in die beste en edelste beroep op aarde bevind. 

Byt net vas!

 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Goeie nuus, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Di ·

Byt net vas! Dis presies wat ek ook vir hulle sal se. Kan nie maklik wees om onderwysers te wees in die huidige omstandighede in die land nie.

Daizee ·

Sterkte vir elke een wat ‘n onderwys loopbaan aanpak!!! Mag jou loopbaan met báie hare op jou tanne en tonne genade saamgaan!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.