Vierpotiges bring vreugde vir tehuis se inwoners

Engela Meintjies en haar drie honde. (Foto: Verskaf)

ʼn Nat hondesnoet teen jou hand en stert wat entoesiasties heen en weer swaai, kan soms ook terapeuties wees – dít het ʼn boervrou van die Mokopane-distrik in Limpopo alte goed besef.

Engela Meintjies en haar drie hondekinders – ʼn Jack Russel en twee groot honde – besoek weekliks die Ons Tuis Piet Potgieter Tehuis om glimlagte op die gesigte van dié tehuis se inwoners te bring nadat die tehuisbestuur besef het hoeveel voordele hierdie interaksie vir inwoners inhou.

Die tehuis sien om na 28 inwoners met Alzheimer se siekte.

Mariaan van Tonder, die bestuurder van die tehuis, verduidelik dit was tydens ʼn demonstrasie van Paws for People, wat gidshonde oplei, dat sy en haar span gesien het hoe die Alzheimer-inwoners op die honde reageer. Van Tonder is besig met haar meestersgraadstudie in maatskaplike werk en het deur haar navorsing oor mens-en-dier-interaksie besef hoeveel waarde dit kan inhou.

“Hier is katte op die perseel, maar hulle vermy maar eintlik mense,” verduidelik sy. “Ons vat die pasiënte ook graag uit na die tuin om na die voëls te sit en kyk. Maar dit was eers ná die demonstrasie van Paws for People dat ons besluit het om honde as deel van die terapie in te span.”

Meintjies het ingestem om een keer per week saam met haar honde die tehuis te besoek, waar die entoesiastiese woewe al stertswaaiend die inwoners groet. Van Tonder vertel Meintjies en haar honde bring ongeveer drie uur, maar soms selfs die hele oggend, saam met die inwoners deur. Tydens die sessies gesels sy met die inwoners en help hulle om oor die honde se pelse te vryf.

“Die Jack Russel is so oulik!” sê Mariaan. “Terwyl Engela nog met die twee groot honde ingestap kom, hardloop sy vooruit en begin solank werk! Sy ken die uitleg van die tehuis en weet self waarheen om te gaan.”

Meintjies is nou sommer al ʼn ervare hand met dié hondeterapie. “In die begin het ek saam met Engela gebly vir die terapie, maar sy het so ʼn natuurlike aanvoeling en liefde vir mense en diere dat sy nou op haar eie met die geriatriese personeel werk. Sy doen ook terapie met perde vir gestremde kinders. Engela het regtig ʼn passie daarvoor om mense te help,” sê Van Tonder.

Die drie honde bring glimlagte op die inwoners se gesigte so ver hulle gaan. (Foto: Verskaf)

Die inwoners van die Ons Tuis Piet Potgieter Tehuis se Alzheimer-simptome wissel van inwoners wat nou eers in die beginfase van die ongeneeslike siekte is en sukkel met geheueverlies en ʼn onvermoë om bekende take uit te voer, tot dié wat in die gevorderde fase daarvan is en bloot voor hulle sit en uitstaar, onbewus van hulle omgewing en tyd. Van Tonder verduidelik dié inwoners is dikwels angstig omdat hulle hele wêreld onbekend en deurmekaar voel.

Maar as Meintjies en haar drie “terapeute” ingestap kom, kwyn die inwoners se angstigheid weg. “Dis ongelooflik! Om te sien hoe ʼn tannie van ʼn so te sê katatoniese toestand, waar sy nie meer praat of beweeg nie en net voor haar sit en uitstaar, begin glimlag en haar oë blink, en dan haar hand uitsteek om oor die pels te streel. Dis regtig ongelooflik,” sê Van Tonder.

“Hierdie mense is maar ons afvlerkvoëltjies vir wie ons baie lief is. Die tehuis bied ook verblyf en versorging aan ander bejaardes, maar hierdie groep het ekstra aandag nodig.”

Van Tonder verduidelik Alzheimer-lyers is dikwels angstig, onrustig en toon onvanpaste gedrag. “By die tehuis ervaar die personeel dat die inwoners gereeld lukraak woorde herhaal en uitroep. Lyers se verstandelike vermoëns begin afneem, hulle sukkel om helder te dink en verstaan, of om nuwe herinneringe te vorm of selfs bekende dinge, mense of omgewings te eien.”

Verder kan die pasiënte aggressief, geïrriteerd en onrustig raak terwyl hulle dit moeisaam vind om na hulleself om te sien of selfs hulle spierbewegings te beheer.

“Ons vind dat die inwoners ná ʼn besoek van die honde ʼn rustigheid oor hulle kry,” sê Van Tonder. “Die angstigheid en geroepery is beslis heelwat minder. Dit is asof die inwoners die honde as hulle eie troeteldiere van hulle verlede identifiseer. Hulle noem dan ook die honde op dié spesifieke name. En vir ʼn wyle is dit dan asof hulle weer op ʼn gelukkige tyd en plek saam met ʼn vierpotige vriend is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Lena Jonk ·

My een kleindogter was ook heeltemaal gestrem, ek het haar eenkeer per week gevat vir perdry deur opgeleide mense. Glo my sy het dit vreeslik geniet, die armpies en beentjies het sy so opgewonde beweeg en het uit die magie gelag. Dit is absoluut so dat diere terapeuties is vir mense met gestremdheid.

Rottweiler ·

My maggies!! Kyk, dis twee Rotties….nie een aggressiewe haar op daai lywe nie! Ek gee nie om wie wat sê nie, my Rottie is die liefde self en ja, hy sal verseker sy baas beskerm teen gevaar. Maar dit is al wanneer daar enige aggressie uit hom kom. Verder, bitter liefdevolle honde! Welgedaan met jou projek Engela Meintjies!

Piet Pompies ·

daai lyk meer na Rotties – niks verkeerd nie se maar net

Mariné Lourens ·

Dagsê Piet Pompies

Dankie vir jou kommentaar. Volgens die inligting wat die tehuis deurgegee het, is die twee groot honde Labradors. Ons het egter die berig gewysig om enige verwarring te voorkom.

Groete
Mariné
nms Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.