Vindingryke tiener koop haar eie bakkie

Kimoné van der Merwe by haar 1973 Volkswagen-bakkie. (Foto: Verskaf)

Wanneer die gemiddelde 17-jarige nie agter die skoolboeke is nie, geniet hulle dit gewoonlik om tyd te verwyl met Netflix-reekse en TikTok-video’s.

Kimoné van der Merwe, ʼn gr. 11-leerder aan Hoërskool Zwartkop in Centurion, verkies dit egter om haarself as entrepreneur te bekwaam en bestee die meeste van haar tyd om haar sakevernuf te verskerp.

Sy vertel aan Maroela Media haar drome het verlede jaar tydens die inperking vlerke – en toe wiele – gekry toe sy en haar gesin gaan stap en sy ʼn 1973 Volkswagen-bakkie in iemand se erf gewaar het.

Dié bakkie het by Kimoné, ʼn liefhebber van ou motors, gespook en sy het geweet dit het haar naam op.

Die bakkie het egter aan oom Peet, ʼn bejaarde inwoner van die buurt behoort en hy was maar skepties om die bakkie aan ʼn 17-jarige skoolmeisie te verkoop.

Kimoné het begin braaihout aflewer met haar nuwe bakkie. (Foto: Verskaf)

“Oom Peet was aanvanklik huiwerig om die bakkie aan my te verkoop, want hy het dit gebruik om sy tuinvullis mee weg te ry. Ek en my pa het met hom onderhandel en hy het ingestem om die bakkie aan my te verkoop, mits ek ook sy tuinvullis 12 maande lank wegry.”

Sy vertel dit was pa Nico wat voorgestel het dat hulle ander mense in die omgewing se tuinvullis ook verwyder om ʼn ekstra inkomste te verdien.

Vandaar het hulle begin om sekelbos-, hardekool- en swartwattel-braaihout te verkoop en het hulle uiteindelik kompos en hondekos ook by die lys van produkte gevoeg wat hulle verskaf.

Spekbome, vuuraanstekers en houtskool sal ook later deel uitmaak van hulle dienste – alles in ʼn poging om geld in te samel om vir Kimoné se nuwe speelding te betaal.

“Ek het tydens die inperking dié blou bakkie in oom Peet se erf sien staan met die lang gras wat om die wiele groei en my oë het geblink.

Kimoné ry ook tuinvullis aan vir ‘n ekstra inkomste. (Foto: Verskaf)

“Die buurman oorkant die pad het gesien ons kyk na die bakkie en het, asof hy gestuur is, ons genader en gevra of ons oom Peet se nommer wil hê. Oom Peet het uiteindelik die bakkie vir ʼn baie billike prys aan my verkoop.”

Vir haar 17de verjaardag op 23 Junie sou Kimoné die laaste paaiement op die bakkie gaan betaal, maar was verras toe sy meegedeel is dat iemand anders reeds namens haar die laaste paaiement betaal het.

Sy weet egter nie wie dié aardsengel is nie, maar is baie dankbaar vir dié bydrae. “Ek het op my verjaarsdag wakker geword met die plan om die bakkie af te betaal, toe kry ek ‘n Whatsapp-boodskap van oom Peet se vrou af dat sy die betaling ontvang het, maar ek weet glad nie wie dit was nie.”

Die volgende stap is om die bakkie weer spiksplinternuut te laat lyk. Kimoné sê daar moet aandag aan die remme en ʼn paar ander sake gegee word en wil sy ook graag ʼn radio laat installeer.

Sy sê dat lede van die gemeenskap intussen aangebied het om sekere van dié take gratis vir haar te verrig in ruil vir ʼn advertensie op haar Facebook-bladsy.

Ma Marinda het ook ure op dié platform deurgebring om Kimoné te help adverteer.

Kimoné vertel sy kan nog nie self bestuur nie en beplan om binnekort haar leerlinglisensie te kry. (Foto: Verskaf)

Kimoné vertel dat sy nog nie self kan bestuur nie en dat sy binnekort haar leerlinglisensie gaan kry.

“Ek het nog altyd ʼn groot liefde vir ou motors want dit is uniek. Ek wil nie soos ander mense wees met ʼn gewone motor nie.”

Haar ouers en broer, Kyle (18), is baie trots op haar, vertel sy.

“Ons is ʼn baie hegte gesin en ons doen alles saam. Ons is baie na aan mekaar.”

Sy vertel die entrepreneursgogga het haar lankal reeds gebyt en dat besigheidstudies benewens visuele kunste haar gunstelingvak op skool is.

“Ek het ʼn paar jaar gelede Kerskaartjies verkoop wat ek self gemaak het. Dit het baie goed gevaar. Daarna het ek ook kosmetiese produkte verkoop en toe kom die bakkie en die houtverkope oor my pad.”

Kimoné maak saans tyd vir skoolwerk en sê sy werk soms tot middernag aan skooltake en kunsprojekte.

Kimoné is ook ‘n kranige kunstenaar en hou daarvan om kombi’s te teken. Sy wil self eendag in ‘n kombi die land plat reis. (Foto: Verskaf)

“Ek het in ʼn stadium gewonder hoe ek by alles gaan uitkom, maar ek maak dit werk en my skoolwerk is sommer ook beter sedert ek met my sakeonderneming begin het.”

Sy vertel die hoof van haar skool, dr. Dewald Strydom, het ook van haar onderneming te hore gekom en gesorg dat die personeel van die skool haar ook ondersteun.

“My droom is om eendag ʼn kombi te besit waarmee ek ná skool die vasteland kan gaan plat toer. Ek wil nie universiteit toe gaan nie – ek dink nie dit is vir my nie. Ek is mal oor video’s maak, so ek wil graag inhoud vir YouTube skep terwyl ek reis.”

Besoek die Facebook-blad Oom Peet se dienste of stuur vir Kimoné ʼn Whatsapp by 061 627 5374 om haar te ondersteun.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

isabelle ·

dis soooo n piekante bakkie….bietjie werk en haar bakkie is van die mees spontane voertuie op die pad

a3a3 ·

so ‘n mooi nooientjie met so ‘n lelike ***** (Grappie) Voorspoed vir jou met ‘n pragtige droom! Oom Peet sal jou nie in die steek laat nie!

Strandloper ·

Wow jy kan! Wens daar was meer van jou soort! Jou pad le oop voor jou!

Johann ·

Wonderlik om te sien die jeug kom aan die gang!
Daai is nie sommer ‘n netso bakkie nie, het in die vroeë 80’s ‘n tydren motor sy dae gegee met so een… was voor toe ek moes afdraai!

Johanna ·

Waar n will is, is n weg.. Dis goed om GROOT te droom..
Welgedaan.. ons hou jou dop, gaan vir goud.

Danie ·

Wel sy sal baie vinnig haar kombi moet koop want hulle is reeds ongelooflik duur.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.