Vir my verjaardag: 42 McDonald’s-burgers aan hawelose mense

David Sanei, ʼn lid van die #ImStaying-beweging, het besluit om vir sy 42ste verjaardag 42 McDonalds-maaltye te koop vir minder bevoorregte mense, en nou daag hy die res van Suid-Afrika uit om deel te neem aan die #TakeOutChallange in die feesseisoen.

Sanei is ʼn radiojoggie, filantroop en passievolle lid van #ImStaying. Hy sê hy en ʼn vriend het in die winter ʼn slaapsakveldtog begin toe hulle slaapsakke vir hawelose mense gegee het. Hy wou vir sy verjaardag iets soortgelyks doen.

“Elke keer as ek verby hawelose kinders ry, breek dit my hart, en ek het nog altyd gedink daar moet iets meer wees wat ek vir hulle kan doen.

“Vanjaar het ek besluit om 42 lewens te seën [met ʼn ete]. Vir daardie paar minute is dié mense se geloof in die mensheid weer herstel. Ek glo dat een mens dalk nie die wêreld kan verander nie, maar jy kan die wêreld van een mens verander.”

Nou, met die feesseisoen op hande, wil Sanei en #ImStaying die res van die land uitdaag om op die positiewe feesgesindheid voort te bou deur vir ʼn minder bevoorregte persoon ʼn wegneemete te koop.

“Of jy nou een ete koop, of tien – dit hang van jou af. Daar is nie so iets soos ʼn té klein goeie daad nie. Wat belangrik is, is die feit dat jy ʼn verskil in iemand se lewe gaan maak.”

#ImStaying moedig mense aan om dié goeie dade op die groep se Facebook-blad te deel, maar herinner mense daaraan om daarop bedag te wees om die waardigheid van minderbevoorregte mense in ag te neem wanneer hulle foto’s of video’s publiseer.

Deel jou weergawe van die #TakeOutChallenge hier of maak ʼn skenking.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Hoekom ·

“Give a man a fish and you feed him for a day. Teach a man how to fish and you feed him for a lifetime”

Keelvol ·

Dis waar. Die gedatgte is edelbaar maar sy bedoelings bevraagteken ek.

Annakapat ·

Dis ‘n edel gedagte maar die publisering van goeie dade op ‘n facebook blad klink of julle erkenning soek vir die goeie daad!
Dis jammer dat alles altyd op sosiale media gepubliseer word vir erkenning.

Anton ·

Miskien is dit net ‘n manier om die veldtog vinniger te versprei?

Die Wolf ·

Ondersteun eerder iemand wat nie aan n politikus behoort nie. In elk geval die smaaklooste burgers op die mark.

Keelvol ·

Om bekend te maak beteken hy soek aandag. Hy wil hê almal moet sien wat hy doen sodat hulle in verwondering na hom moet staar. Dis verkeerd. Doen dit stil weg. Challenge jou vriende en familie en laat hulle iemand anderste so challenged. Dit Sal n groter inpak hé.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.