Ek doen elke twee weke my burgerlike plig en ry buurtwagpatrollie. Dis ’n uur of twee wat ek gewoonlik op ’n Woensdagoggend opsysit. Dan plak ek die groot OP PATROLLIE-plakkers teen my motor en laai hondekinders Mimi en Lienka in. Woensdagoggende is ’n stil en laerisikogleuf op die patrollierooster, want behalwe vir die gewerskaf van bouers en tuindienste gebeur daar maar weinig op ’n weeksoggend. Ek sluit my skof af met die verpligte WhatsApp-terugvoering aan my medebuurtwaglede wat gewoonlik kort en kragtig is: NTR (Nothing To Report).
Ons drie neem ons skof egter ernstig op en ek is seker Mimi en Lienka weet nou al as ons in ’n “amptelike hoedanigheid” rondry. Die twee, wat hulle waarlik verbeel hulle is Rottweilers, sal elke paar minute kop by die venster uitsteek en verwoed blaf. Vir absoluut niks nie, maar al wat leef en beef weet daar word gepatrolleer en dis eintlik maar die punt. Sigbaarheid, of in ons geval, hoorbaarheid.
So met die rondry, geniet ek dit altyd om huisname te lees, want dis ’n kusdorp en mense is mos meer gesellig op die platteland. Name soos “Af-en-Toe”, “So ja!”, “Genoeg” en “Net ’n bietjie rus” weerspieël die hart van die huis. My gunsteling is “Soms Tuis”. Die ooglopende betekenis, as mens so kyk na die toe hortjies, is dat die mense net vir vakansies hier kuier.
Die twee eenvoudige woordjies het my egter laat dink aan waar die meeste van ons onsself bevind. Nie in ons omgewing nie, maar in ons wese. Baie van ons bekommer onsself oor die dag van môre of haak vas in die verlede. Die ghoeroes sê ons moet mindful wees; in die oomblik leef – die hier en nou waardeer. Dis makliker gesê as gedaan, al is jy hoe geanker.
Ons is eintlik net “soms tuis”, want ons is aan die jaag en slaan nie ag op daardie eenvoudige, dog spesiale gebeure en gebare wat oor ons pad kom nie. ’n Skaterlag van ’n sorgvrye kind; ’n ma se gerusstellende drukkie; ’n betekenisvolle gesprek met ’n goeie vriend; ’n heldergeel veldblom; ’n nuuskierige dassie wat sy snoet by ’n rotsskeur uitdruk; meesleurende musiek; ’n uil se aandroep of net ’n glimlag van ’n vreemdeling. Ons is daar, maar neem nie in nie, want ons koppe is elders.
En so bevind ek my onlangs op ’n klein Hermanus-strandjie, Kwaaiwater. Die honde is al lankal vort op soek na krakerige bamboes om aan te kou of molshope met ’n teken van lewe.
Ek het my op ’n gedenkbankie gaan tuismaak waar vars blomme getuig van die gemis. ’n Heilige sitplek met ’n asemrowende uitsig oor die strand. En so, net voor ek my selfoon aanskakel om gou op e-posse in te haal, merk ek die buitengewone groot deining op die see op – skaars ’n 100 meter voor my. Dit kan net een ding beteken, want dis mos walvistyd! ’n Paar sekondes later styg twee van die kolossale soogdiere sierlik bo die branders uit en plons met grasie terug in die water. Vir die volgende paar minute het die ma en haar kalf hier digby my baljaar. Dit het gelyk soos ’n intieme verkenningspel tussen die matriarg en haar pasgeborene. En ek was die enigste toeskouer van dié skouspel.
My kop was vir daardie paar minute stil. Ek was tuis.
- Lizma van Zyl is ’n bekroonde veteraan radiojoernalis en –aanbieder met ’n meestersgraad in joernalistiek. Sy is stigterslid van die Kaapse kommersiële radiostasie, Smile 90.4FM. Lizma kan elke Vrydagmiddag 12h45 op Die Kwik Styg op RSG gehoor word. Sy is die aanbieder en regisseur van die reeks oor klimaatsverandering.
Baie dankie vir voorreg om te behoort
Dankie vir die deel van die mooi kosbare dinge in die lewe!!
My kop was stil,terwyl ek gelees het.Ek was tuis…
Dankie,so geniet!!