Virseker Trust bring hoop vir studente

Ricke du Toit. (Foto: Verskaf.)

“Die ondersteuning wat die Virseker Trust en Helpende Hand se Studiefondssentrum vir my gegee het, beteken werklik die wêreld vir my. Hulle het vir my ʼn kans gegee om my drome uit te leef en om iets van myself te kan maak.”

Dit is die woorde van die 19-jarige Ricke du Toit van Centurion, wat al heelwat storms in haar lewe getrotseer het. Tog laat die jong voornemende sakevrou haar nie sommer deur enigiets stuit nie.

Ricke is vanaf die ouderdom van 15 in pleegsorg weens haglike omstandighede by haar huis. Ten spyte van uitdagings van die verlede, het sy in haar nuwe omgewing floreer en haar matriekjaar aan Hoërskool Tuine voltooi. Hierna het sy haar visier gestel op ʼn BCom-graad in Ondernemingsbestuur, maar met baie beperkte fondse het hierdie droom gelyk of dit net buite haar bereik gaan bly lê.

Sy het haar tot Solidariteit Helpende Hand en die Virseker Trust gewend en aansoek gedoen om ʼn rentevrye studielening. Danksy die voortgesette ondersteuning van Virseker‑polishouers – wat ʼn gedeelte van hul maandelikse premies aan die Trust skenk – kon dié lening toegestaan word en studeer Ricke tans as eerstejaarstudent aan Akademia, ʼn wêreldklas, trots-Afrikaanse universiteit, terwyl sy ook deeltyds as junior boekhouer werk.

Ricke se kop het nog altyd in die sakewêreld se rigting gestaan en sy het onlangs ʼn sterk belangstelling in die finansiële bedryf – iets wat sy uitdagend en interessant vind – begin ontwikkel. Sy het haar dit ten doel gestel om hard te werk en oor die volgende 10 jaar ʼn loopbaan in hierdie bedryf te bou en sodoende vir haarself, haar geliefdes en ook vir ander ʼn beter lewe te kan skep.

“My droom is om stabiele werk te hê sodat ek weet ek kan vir myself sorg. Ek sal ook graag mense wil help soos wat ek gehelp is. Ek wil my familie kan ondersteun en ek hoop ek kan eendag self ʼn verskil maak, al is dit klein, want ek het geleer elke klein dingetjie kan help.”

Sy mik ook vir ʼn plekkie van haar eie waar sy gemaklik en veilig kan voel – een wat sy dalk ook met iemand spesiaal kan deel.

Sy glo sterk in waardes van eerlikheid, opregtheid, vriendelikheid, hulpvaardigheid en hardwerkendheid. Sy glo verder dat ʼn mens nie net daarop moet fokus om jou eie lewe en suksesse te bou nie, maar ook klem daarop moet lê om uit te reik na ander, hulle te motiveer, by te staan, te inspireer en te bemagtig – iets wat sy glo ook jou eie karakter bou en die geleentheid bied om lewenslange vriendskappe te smee.

Ricke beskryf haarself as hulpvaardig, kreatief, vasbeslote, gedissiplineerd en avontuurlustig. Sy is ook iemand wat tyd inruim vir goeie balans en is mal daaroor om te teken en om te oefen, tyd saam met familie en vriende deur te bring en ʼn goeie boek, soos The Book Thief deur Markus Zusak, te lees.

Haar raad aan jongmense wat uitdagende tye in hul lewens deur is, of tans trotseer: “Werk hard, moenie opgee nie, maak nie saak hoe moeilik jou omstandighede is nie. Jy is altyd beter as jou omstandighede. Op die ou einde sal jou harde werk die moeite werd wees, jy sal die vrugte daarvan pluk.”

Sy meen jong voornemende studente wat uitdaging met hulle finansies ondervind, moenie te bang of te trots wees om vir hulp te vra nie.

“As jy bereid is om te erken jy het hulp nodig, sal daar mense wees wat bereid is om jou te help soos die Virseker Trust en Helpende Hand my gehelp het.”

Hanno Labuschagne. (Foto: Verskaf.)

Die VirSeker Trust het ook ʼn brief ontvang van Hanno Labuschagne, ʼn voormalige student wat ook hulp van die studiefonds ontvang het.

Hy skryf:

“Indien ek nie bystand van die Helpende Hand Studiefonds gehad het nie, sou ek beslis nie my studies kon voltooi en die werk gehad het wat ek vandag het nie. Dit het my in staat gestel om ’n goeie loopbaan in joernalistiek te kon bou.

“Ek het met die afhandeling van my graad- en honneursstudies begin werk by kykNET Verslag as kameraman in Januarie 2015. Daar was ek werksaam vir byna vyf jaar, waar ek ook later as verslaggewer opgetree het, stemwerk vir nuuspakkies gedoen het en uiteindelik ook agter die skerms met regstreekse uitsendings gewerk het. Ek werk nou al amper nege maande as joernalis en kopieskrywer by MyBroadband, ’n vooraanstaande tegnologienuuswebblad.

“Ek is nou ten volle onafhanklik, met ’n goeie salaris wat ten volle voorsien in al my behoeftes en genoeg oor laat vir ’n lekker dosis vermaak elke maand.

Baie dankie vir die donateur wat hierdie droom ’n werklikheid kom maak het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.