‘Vloedgolf van positiewe veranderinge in onderrig’

Nadia Shuttleworth van die SOS se Wolkskool-platform. (Foto: Nina Buys.)

Toe die inperking in Maart vanjaar en weer in Julie skole se deure gesluit het, het Solidariteit se Skoleondersteuningsentrum nuwe deure vir onderwysers en leerders oopgemaak met die Wolkskool-platform.

Met byna 121 000 leerders en 3 500 onderwysers wat vir Wolkskool se lesse geregistreer het, moes die personeelkorps vinnig en drasties uitgebrei word om voor te bly. Danksy ʼn skenking van Solidariteit se krisisfonds kon die SOS sy kapasiteit met byna 40 personeellede en konsultante versterk, en die lesse vir die res van die jaar gratis vir gebruikers beskikbaar stel.

Een so ʼn speler wat tot die SOS-span gevoeg is, is Nadia Shuttleworth. Sy dra verskillende hoede by die SOS, soos om e-posse en oproepe van ouers wat tegniese hulp nodig het te beantwoord, nuwe inhoud te redigeer en op Wolkskool se platform te laai, en nuwe, innoverende idees uit te dink. “Hierdie inhoud help ons leerders om te vorder met hulle studies en gee vir hulle elke week iets nuuts om na uit te sien,” sê sy.

Shuttleworth is op ʼn klein Natalse dorpie gebore en getoë en het eers van graad 7 af in Afrikaans begin skoolgaan. Haar passie vir tale, wat ook Frans insluit, het haar egter ʼn hupstoot gegee om Afrikaans behoorlik onder die knie te kry. Om werklik goeie Afrikaans te praat is soms nog ʼn uitdaging, maar sy leer elke dag iets nuuts by en glo haar taalgebruik het al baie verbeter.

Covid-19 en die gepaardgaande inperking, wat haar nes die meeste mense noop om dikwels van die huis af te werk, kon nie haar passie vir haar werk blus nie. “Ek het met tegnologie grootgeword, so ek werk gemaklik van die huis af. Ek glo ook dat tegnologie dit vir kinders moontlik maak om onder enige omstandighede hul onderrig voort te sit, veral met ʼn platform en inhoud soos dié wat Wolkskool bied.”

Tog meen sy die inperking veroorsaak skade aan die gehalte van onderwys en aan leerders in ons land wat jare sal neem om te herstel.

“Die situasie is nie net vanuit ʼn akademiese oogpunt tragies en frustrerend nie, maar ook vanuit ʼn geestesgesondheid en sosiale oogpunt. Kinders het ʼn skoolomgewing nodig waar hulle veilig kan speel, sosialiseer en leer sodat hulle gesond kan ontwikkel in alle aspekte van hulle menswees.”

Leerders is die toekoms van ons land en ons moet in hulle belê terwyl ons die kans het, sê Shuttleworth. Sy ontvang weekliks e-posse van ouers en leerders wat bloot dankie wil sê vir die Wolkskool-platform. “Dis so lekker om boodskappe te kry van leerders wat vertel dat hulle ʼn wiskundesom of wetenskapformule nou beter verstaan danksy die verduidelikings in Wolkskool se videolesse. Om te weet ons maak ʼn verskil en dat ons ten minste een leerder gehelp het, is al die bemoediging wat ek nodig het.”

Shuttleworth ervaar dat daar talle kinders is wat só graag wil leer, asook ouers wat bereid is om enige iets te doen om hulle kinders te ondersteun. Onderwysers is bereid om die tradisionele manier van onderwys op sy kop te draai en nuwe metodes van klasgee aan te leer, net sodat hulle die jaar suksesvol kan voltooi en hul leerders beter kan ondersteun. Die omgee, passie en liefde wat sy elke dag beleef, gee haar hoop en wys haar dat dinge behoorlik gedoen kan word en mense ʼn verskil kan maak – selfs tydens ʼn wêreldwye pandemie – as hulle net ʼn bietjie ekstra moeite doen en goeie ondersteuning kry vanaf ʼn instansie soos die SOS.

“Ek is trots om deel te wees van ʼn span wat so ʼn groot verskil maak in onderwys, wat die toekoms van Afrikaanse onderwys omskep en wat duisende leerders en onderwysers se lewens verbeter. Ek voorspel ʼn vloedgolf van positiewe veranderinge vir die toekoms in Suid-Afrikaanse onderrig danksy die SOS,” sê sy.

  • As jy ook ʼn hoopdraer wil wees, maak ʼn skenking aan die Solidariteit Beweging se krisisfonds. Die publiek kan skenkings maak aan die Solidariteit Beweging se noodfonds om hierdie projek te ondersteun by Helpendehand.co.za of by Krisisfonds.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Adam Adriaan ·

Met laterale denke en geloof sal hierdie klomp marksiste ons nooit onderkry nie!!!

Jakes ·

Baie geluk, sulke goeie dinge gebeur met bekwame mense aan die stuur. Trots op julle almal.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.