Op ʼn plaas aan die westelike buitewyke van Pretoria pryk daar ʼn splinternuwe meule en ʼn duisend geskenkte hoenders kloek rustig in hul hokke. Op hierdie plaas, genaamd Filadelfia Ark, word kos vir die 500 behoeftige inwoners van die plaas, en tot 6 000 mense van die omgewing geproduseer.
Dirk van Vuuren, die plaaseienaar, neem al vir 12 jaar haweloses in en versorg hulle daar. Daar is ook ʼn skool en ʼn ouetehuis op die plaas en Solidariteit Helpende Hand se Centurion-tak sit al jare lank hand by om die mense te versorg.
Van Vuuren vertel dat 150 van die 500 inwoners kinders is, wat die plaas se eie laerskool of ander skole in die omgewing bywoon. Die volwassenes op die plaas het elkeen sy en haar werk om te doen – of dit nou met die skape, bosvarke, vissery of groentetuin op die plaas is, of elders in die omgewing. Die bejaardes wat kan, skil groente of doen kleiner takies. Daar is genoeg werk om te doen, veral nou met die meule en eiers by.
Anton Smith van Helpende Hand in Centurion vertel dat die nuwe meule ʼn groot aanwins is, omdat daar nou mieliemeel en stampmielies geproduseer kan word. “Ons kan 4 ton meel per dag produseer en dit wyd versprei. Die hoenders lewer weer 600 tot 800 eiers per dag en sodoende word proteïen ook by talle borde kos gevoeg. Die plan is om die produksie al meer te verhoog, asook om die model moontlik in die toekoms in ander dele van die land te dupliseer,” sê hy.
Smith vertel dat ʼn baie goeie bestuurspan sorg dat die bedrywighede glad verloop. Hulle bepaal die arbeidsbehoeftes, wat wissel van mielies skep tot verpakking, hoenders voer, eierverpakking en nog meer.
Hierdie projek se doel is om behoeftiges in die omgewing met skuiling en kos te help, asook om hulle op te hef. “Ons kry baie geknakte riete en gebluste lampe op ons drumpel, mense wat hul werk, huis en motor verloor het en letterlik op straat slaap. Dan begin die rehabilitasieproses. Ons bied eerstens geestelike ondersteuning en probeer om mense wat van ʼn kruk soos dwelms of drank afhanklik is, terug na die groot Kruk lei. As die rehabilitasie suksesvol is, kry ons vir hulle werk op of buite die plaas,” verduidelik Van Vuuren.
Elke oggend om 7:00 is daar ʼn vrywillige geestelike byeenkoms, waarna die dag se werk begin. “Elkeen het sy werk en verdien boonop ʼn inkomste daaruit – ek weet nie of daar nog ʼn sorgsentrum is wat sy inwoners betaal nie. By die meule word daar heeldag verpak en daarna saam met ander produkte versprei. Ons sorg altyd dat daar vars produkte by ons kospakkies is, wat by boere of die mark aangekoop word. Ek het byvoorbeeld nou 5 000 pampoene wat ek kan uitdeel,” sê hy.
Tientalle voedselskemas van reg oor die land plaas hul bestellings by Filadelfia Ark en die plaas se bakkies neem dit dan daarheen, of dit word afgehaal. Solidariteit Helpende Hand se voedingsprojek is een van Van Vuuren se groot begunstigdes.
Die omvang van sorg wat op Filadelfia Ark plaasvind ontvang dankbaar enige donasies, maar kan nie net daarop staatmaak nie. Daarom vul Van Vuuren dit aan met werk wat hy as siviele ingenieur doen.
Volgens Smith is kosvoorsiening die grootste uitdaging wat hulle in die gesig staar. “Die aanvraag is groot, veral in hierdie tye. Dit is ʼn voorreg om in tye van nood en behoefte verligting te kan bring en sodoende ons Vader se hande en voete in die wêreld te wees,” sê hy.
Hierdie voedingsprojek dra in die vorm van voedsel by tot die Solidariteit Beweging se krisisfonds, sodat ander mense ook bygestaan kan word in hierdie tye van erge nood.
- As jy ook ʼn verskil wil maak, maak ʼn skenking aan die Solidariteit Beweging se krisisfonds. Lesers kan skenkings maak aan die Solidariteit Beweging se noodfonds by Helpendehand.co.za of by Krisisfonds.co.za.
Mag die Here jou oorvloediglik in alle opsigte seën Dirk. Verblydend om te hoor daars nog Afrikaners soos jy!!
Dit is die pad om te loop vir die toekoms, self versorging!
Nie bakhand staan en bedel vir aalmoese nie. To get on your feet, you must get off your …
Ek is aangenaam verras en beslis beindruk, mag dit van krag tot krag groei.
Baie dankie aan Dirk en solidariteit. Daar is beslis in ander dele van die land ‘n groot behoefte aan so iets. Die hoeveelheid gesinne hier in Kaapstad wat op straat is raak net al hoe meer.
Wat ‘n voorbeeld stel die mense nie ? Wonderlik !
Gee enige uitdaging vir ‘n Afrikaner en hy/sy maak ‘n plan en bou iets uit die as & stof wat wys die lewe sal hom/haar nie onderkry nie want sy God leef en sy beginsels is suiwer. Welgedaan, elke druppel sweet wat val en elke plan van sukses en deursetting maak my as Afrikaner so trots dog so nederig en dankbaar want die Hoop op ‘n toekoms beskaam nie. Dank aan hul wat lei en ons Hemelse Vader!!
Ek moet dit ongelukkig sê, blankes in beheer
Ek haal my hoed af vir julle almal wat betrokke is by hierdie onderneming en bid dat julle oorvloedig geseënd sal wees.
wonderlik!!! nog altyd geglo as jy op ‘n plaas bly kan jy amper heeltemal selfversorgend wees