Vol program vir 2022 se Suidoosterfees

Nataniël (Foto: Bernard Brand)

Kaapse gehore kan vanjaar uitsien na ʼn volgepakte feesprogram op die Suidoosterfees wat van 27 April tot 1 Mei by Kunstekaap in Kaapstad plaasvind.

Die fees word moontlik gemaak deur die departement van sport, kuns en kultuur; die Wes-Kaapse departement van kultuursake en sport; Stad Kaapstad; Media24; Die Burger; Nasionale Afrikaanse Teaterinisiatief (Nati) en kykNET.

Die afgelope twee jaar kon die Suidoosterfees daarin slaag om ondanks die Covid-19-pandemie ʼn verskeidenheid aktiwiteite en projekte aan te bied. Op dié manier het kunstenaars en persone wat aan die fees se ontwikkelingsprojekte deelgeneem het, steeds toegang tot ʼn professionele platform vir hul produksies gehad.

Volgens prof. Brian Figaji, voorsitter van die feesdireksie, is alles gereed om in 2022 ʼn veilige en onvergeetlike ervaring aan feesgangers te bied.

“Ons hoop om vanjaar weer op ʼn groter skaal fees te vier en nooi ieder en elk om dit saam met ons te kom doen.”

Die program bied ʼn verskeidenheid vermaak aan kunsteliefhebbers: Van operettes en klassieke musiek tot drama, jeugteater en skrywersgesprekke. Kunstenaars wat deel is van die feesprogram sluit in Nataniël, Brendon Daniels, Dean Smith, Antoinette Kellermann, Charlton George, Frank Opperman, Lauren Dasappa en Marlo Minnaar.

Die fees bied vanjaar ook ʼn paar gratis produksies aan. “Organiseerders is bewus van die ekonomiese druk wat die Covid-19-pandemie meegebring het, en daarom is kaartjiepryse aangepas sodat meer mense die fees kan ondersteun,” sê Figaji.

Daar is spesiale pakkette beskikbaar vir mense wat beplan om die fees in Kaapstad by te woon, en dit sluit onder meer verblyf en kaartjies in.

Die feesprogram word op 1 Maart bekendgestel. Mense wat die program per e-pos wil ontvang en op hoogte van feesnuus wil bly, kan ʼn e-pos stuur na [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.