Volk(sie)besit: 70 jaar later

Die eerste Volkswagen Beetle wat 70 jaar gelede in Suid-Afrika vervaardig is. (Foto: Verskaf)

Daar is min motorvervaardigers wat daarmee kan spog dat hulle enersyds volksbesit geword en andersyds midde-in ’n wêreldwye pandemie woema opgetel het. Volkswagen is gewis ’n handelsmerk wat ons land op horings geneem én in ons harte ingekruip het.

Ofskoon sy wortels in Duitsland lê, het dié groep op 31 Augustus, presies sewe dekades gelede, diep Suid-Afrikaanse spore begin ry toe die eerste kewer van Volkswagen Suid-Afrika (VWSA) se monteeraanleg in Uitenhage (nou Kariega) gewoerts het. Binne vier maande sou 290 bestuurders met blinknuwe kewers spog.

Die Volkswagen-groep het wêreldwyd sedert die Tweede Wêreldoorlog altesame 21 529 464 van die klassieke kewers (nie die latere moderne weergawe nie) gebou, waarvan die laaste op 30 Julie 2003 in Meksiko was.

VWSA se geskiedenis strek egter veel verder terug. In 1946 is ’n konsessie-ooreenkoms tussen die Suid-Afrikaanse Industrial and Commercial Holdings en die Studebaker Export Corporation onderteken. Hierdie ooreenkoms het letterlik die grondslag gelê vir die plaaslike vervaardiging van Studebaker-motors en -handelsvoertuie.

Sowat 200 hektaar grond is vir R2 500 aan die buitewyke van die destydse Uitenhage gekoop en die eerste sooi gespit vir wat een van ons land se motorreuse sou word. Vandag is VWSA die grootste privaat werkgewer in Nelson Mandelabaai met meer as 4 000 werknemers.

Sy plaaslike verhaal oor 70 jaar sluit verskeie prestasies en mylpale in. Die ikoniese voertuie wat al oor die fabrieksvloer in Kariega gegly het, sluit in die kewer (Beetle), die kombi wat danksy David Kramer met sy rooi vellies vlerke gegee is, verskeie Audi-modelle, die Golf (ook die baie gewilde Citi Golf), die Polo-reeks en die Polo Vivo. Die fabriek het ook vandeesmaand begin met die vervaardiging van die nuwe Polo, wat ’n verjongingskuur ondergaan het.

Vier miljoen motors later. Dié mylpaal is in November 2020 bereik met die vervaardiging van ’n Volkswagen Polo. (Foto: Verskaf)

VWSA het ’n belangrikte mylpaal bereik toe die 4 miljoenste voertuig, ’n Polo, in November verlede jaar vervaardig is. Vorige merkwaardige merkers is onder andere die 2 miljoen-mylpaal in Maart 2003 met ’n Jetta, en die 3 miljoen-merk in 2012.

Die groep het verlede jaar, ondanks die koronaviruspandemie, behoorlik stof in sy mededingers se oë gejaag toe hy sy plaaslike markaandeel tot 21,6% opgestoot en 63 482 motors verkoop het. Audi het ook in die mark vir luukser motors sy stem dik gemaak en ’n 18%-markkleim teen die einde van verlede jaar afgesteek.

Dit het gevolg op ’n 2019-rekordjaar toe VWSA se plaaslike aanleg 161 954 voertuie vervaardig het. VWSA is sedert 2010 die alleenvervaardiger van alle Polo-luikrugmotors met regterstuur.

Volgens dr. Robert Cisek, voorsitter en besturende direkteur van VWSA, is die maatskappy trots op sewe dekades se harde werk en uitnemendheid. “Ons werknemers is ’n onmisbare onderdeel van ons welslae en waardevolle reputasie.”

Afrika suid van die Sahara is ’n belangrike stuk in die VWSA-sukseslegkaart. Hierdie streek het in Maart 2017 amptelik deel geword van VWSA, slegs drie maande nadat Volkswagen sy voertuigmonteringsaanleg in Kenia geopen het. Sedertdien het die handelsmerk sy voetspoor tot in Rwanda (in 2018) en Ghana (in 2020) uitgebrei.

Boonop het die Volkswagen-gemeenskapstrust, wat in 1989 op die been gebring is, tot dusver R268 miljoen belê om gemeenskappe op die gebied van onderwys en jeugontwikkeling te bemagtig.

Herbie, die gelyknamige kewer wat sedert die jare sestig in vyf rolprente verskyn het, met sy kenmerkende strepe en nommer 53 op die neus. (Foto: iStock)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

VaalDonkie ·

Verf hom soos Herbie en sit vir hom ‘n Subaru enjin in.

smith ·

Ons spog nog met 2 kewers en het ook n VW Air-Cooled klub begin in ons area en ons is n hele klomp beetle’s en n paar kombi’s wat so 2 keer n maand met ons kewers rond ry. Dis ongelooflik om mense se glimlag te sien as hulle ons so saam sien. Maak some emns se hart warm om te sien die vreugde wat die ou karretjies vir mense bring.

Mad Mike die Rhodesiër ·

Heimwee… My 1967-model het my baie vreugde verskaf en ons het baie kilometers saam afgelê. Ek onthou nog selfs haar TON-registrasie vandag…

Eend Bessinger ·

My pa het meer as een kewertjie gehad, een na die ander. Dit was sy gunstelingmotor en hy het hulle ook self versien.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.