Volkslied-sangertjie slaan groot prys los

willem-op-kwela-bank

Willem en sy gesin op die Kwêla-bank saam met aanbieder Hannes van Wyk. (Foto: Verskaf)

Klein Willem Minnaar (4) van Pretoria het vroeër vanjaar harte verower toe ʼn video van hom waar hy die volkslied uit volle bors sing soos ʼn veldbrand op sosiale media versprei het. Dié video is Sondagaand as kykNET se Kwêla Funnies, Feite en Geite-kompetisie 2017, se snaaksste video van die jaar aangewys.

Carmen Minnaar, Willem se ma, het aan Maroela Media gesê Willem is baie trots dat hy gewen het. “Hy was so opgewonde om homself op televisie te sien. Ons het twee weke gelede reeds die opname gedoen by kykNET se ateljee, maar toe ons voor die kassie inskuif om na die episode te kyk, het ons sein verdwyn. Hy was so teleurgesteld, maar gelukkig kon ons vanoggend na die episode kyk.”

Willem het vir sy gesin ʼn sewenagvakansie in Mauritius losgesing. “Ons gaan beslis ʼn plan maak dat hy en sy sussie, Mila, saam met ons die vakansie kan benut,” vertel Carmen.

Carmen het vroeër aan Maroela Media vertel Willem is nog altyd passievol oor rugby, en het ʼn YouTube-video gekyk waar die Springbokke dié liedjie voor hul wedstryd gesing het.

“Sy sussie moes ook onlangs die volkslied vir skool leer, daarom het ek die liedjie toe op iTunes afgelaai en op my selfoon gestoor sodat sy dit gereeld kon hoor. Hy het die liedjie op my selfoon hoor speel, en dit toe ook sommer self geleer,” het sy vertel.

Volgens Carmen herken die publiek nou vir Willem wanneer hulle op straat is. “Veral die ouer tannies is gek oor hom en vra hom om vir hulle te sing. Gelukkig is sy persoonlikheid van so ʼn aard dat hy die aandag en geselsies geniet.”

This young man is leading the way of Reconciliation in South Africa!

Posted by Mike Moriarty on Tuesday, July 25, 2017

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Theresa B ·

Baie geluk Boeta!! Julle ouers MOET die kinders saamvat- diè vakansie moet hulle ook kan geniet.

Hanna ·

Baie geluk, het van die begin af geweet die outjie gaan wen. Hy sing sy hart uit. Pragtig

Penellope Jones ·

Ai, dis te dierbaar,! Ek kan oor en oor daarna kyk.
Baie geluk en geniet die vakansie .!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.