Voortrekkermonument bied naweke gevul met pret

Bill Pelser besig om ’n boom te snoei by die Voortrekkermonument. (Foto: Verskaf)

Gedurende die heel eerste naweek van die lente het tientalle drawwers en fietsryers van AfriForum Sport hulle spiere by die Voortrekkermonument in Pretoria gebult.

Oudlede van die Suid-Afrikaanse Weermag was Saterdag van vroegoggend ook reeds besig om die Voortrekkermonument se terrein gereed te kry.

Flip Marx, ’n lid van die Suid-Afrikaanse Spesmagte-vereniging en sakeman, het oudkollegas en van sy werknemers ingespan om bome by dié monument te snoei.

Marx sê hy en sy vrou, Nadia, het ’n ruk gelede die monument besoek en geweet dit is waar hulle wil help.

“Ons het piekniek hier kom hou en toe besluit ons wil bydra tot ons erfenis. Dit is toe dat ek met Danie Dreyer [die monument se terreinbestuurder] kontak gemaak het om vas te stel hoe ons hier kan help.

“Ons het ons werkers ingespan om bome te snoei in die tuine van die monument. Ons moet ons deel bydra, dit is ons verantwoordelikheid om die geskiedenis van dié besonderse monument te laat voortleef vir die nageslag,” sê Marx.

Danie Dreyer sê die hulp wat Marx en sy span bied, is van onskatbare waarde.

“Dit is so ’n wonderlike gebaar. Ons kan nie genoeg dankie sê vir die hulp wat ons kry nie. Dit maak ’n mens se hart warm om te sien dat mense nog so graag wil bydra om ons erfenis te bewaar,” sê Dreyer.

Thinus Els hard aan die werk by die Voortrekkermonument. (Foto: Verskaf)

AfriForum Sport het ook Saterdag sy eerste drafkompetisie by die Voortrekkermonument gehou.

Drawwers het 5 km, 10 km en 15 km aangedurf, terwyl fietsryers die sosiale roete kom geniet het.

Ronald Peters, hoof van AfriForum Sport, sê dit is net die begin van groot dinge by die Voortrekkermonument.

“Ons beoog om só ’n sportbyeenkoms elke naweek by die Voortrekkermonument te hou. Die monument is so ’n lekker terrein waar mense ’n heerlike dag kan kom geniet. Boonop is dit veilig ook, so dit skep ’n wonderlike atmosfeer vir die hele gesin.

“AfriForum Sport wil sy deel doen om mense weer by die monument te kry. Dit is ’n geskiedkundige baken en deel van ons Afrikanererfenis; ons moet ons deel doen om die voorbestaan van die monument te verseker,” sê Peters.

Voortrekkers van 17 kommando’s, onder wie Vories van die Laeveld-kommando in Mbombela (Nelspruit) spesiaal deurgery het, het van Vrydagaand op verskeie plekke op die Voortrekkermonumentterrein hulle tente kom opslaan.

Thinus Nienaber, kommandoleier van die Wapadrand Voortrekkerkommando, wat elke jaar ’n Gebiedsgoedgekeurde naweek (GGN) by die Voortrekkermonument hou en waar verskeie Voortrekkerkommando’s dan saamtrek, vertel vanjaar se kampnaweek is ingevolge Covid-19-inperkingsregulasies veel kleiner as ander jare.

Nienaber sê die samekoms is vir hom altyd die lekkerste van só ’n naweek.

“Kinders kampeer lekker as hulle lekker eet en moeg teruggaan huis toe. Dis ook my teruggee aan die gemeenskap.”

Die heel jongste kinders in gr. R het Saterdag aan ’n skattejag deelgeneem. Gr. 1’s het die junior kok-kenteken gedoen, waar hulle geleer is om ontbyt te maak. Hulle is eerste geleer hoe om kaas te rasper, ’n mes te gebruik en self broodrolletjies met botter te smeer. Hulle het ook roereiers gemaak en geleer hoe om ’n koppie koffie te maak. Die ouer kinders het onder meer kentekens in sterrekunde, spoorkennis, noodhulp, nutsman en elektronika gedoen.

’n Negejarige meisie aan die Laerskool Tygerpoort in die ooste van Pretoria het seker gemaak sy deel haar tent met haar gunstelingteddiebeer, Beeno, op haar heel eerste Voortrekkerkamp dié naweek by die Voortrekkermonument.

“Dis my eerste kamp en Beeno moes net saamkom,” vertel dié lid van die Dolfynspan van die Bronberg-kommando. In haar liggroen tent was daar ook ’n Mickey Muis-kombersie te bespeur terwyl sy dit toegerits het om haar vir die dag se aktiwiteite aan te meld.

Die Voortrekkers se kommando’s het oop die terrein kom kamp. (Foto: Verskaf)

Om die lente behoorlik te vier, is die heel eerste familiemark ook Saterdag by die Voortrekkermonument gehou.

Die familiemark met nagenoeg 70 stalletjies met kos en handgemaakte produkte sal van nou af elke Saterdag besoek kan word.

Dit is nog ’n inisiatief om meer mense na die Voortrekkermonument te lok en aan uitstallers die geleentheid te bied om ’n nuwe mark te ontgin.

Antoinette Human en haar dogter, Luané, het gesmul aan heerlike panini’s en koffie terwyl hulle deur die mark geloop en rondgesnuffel het.

Toegang tot die Voortrekkermonument se familiemark is gratis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Groen Ghoen ·

‘n Wonderlike inisiatief om voete daar te kry: Selfhelp in aksie om ons geskiedenis lewend te hou! Nog ‘n spyker in die doodkis van die dwarstrekkers, vertrekkers, stuiptrekkers, onttrekkers en wegtrekkers.

Frank ·

Mooi so organiseerders!!!
Ons Boere is die uniekste nasie in die wereld. Kyk hoe gaan dit in die wereld, kyk hoe gaan dit in ons land op alle terreine, ons laat ons deur NIKS en NIEMAND onderkry nie. Hierdie aksie gaan nog kleintjies kry ook. En hopelik in ander plekke in die land ook.
Dis hoekom ander groeperinge ons nie kan verdra nie!!

Willi ·

Moet darem ook noem dat die Voortrekker Monument baie moeite doen met hulle initiatiewe deesdae om mense daarheen te lok. Mens voel sommer lus om deel te wees van die erfenis en om die kultuur uit te leef en te bewaar.
Sowat ‘n jaar of wat gelede het ons Militere Veterane ook ingespring om die Voortrekker Hoogte begraafplaas skoon te maak en dit was net so ‘n groot vooreg.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.