Voortrekkers gaan nóg groter om renosters, kinders te help

Arthur, die renosterkalfie. (Foto: Verskaf)

Arthur, die renosterkalfie. (Foto: Verskaf)

Die Voortrekkers se bewusmakingsveldtog teen renosterstroping, “Renoster red is vet pret”, word uitgebrei om die renosterkalfie Arthur, wat einde verlede jaar as penkop ingelyf is, volhoubaar finansieel te ondersteun en om vir 200 pleegkinders en kinders uit minder gegoede omstandighede ʼn Voortrekkerbaadjie aan te trek.

Só het Carinda Habig, projekleier van Die Voortrekkers, luidens ʼn mediaverklaring gesê. Volgens Habig is daar reeds altesaam 7 737 renosters in Suid-Afrika gestroop waarvan 769 renosters nét in 2018 vir hul horings doodgemaak is.

“Die laaste renoster wat doodgemaak word voordat die spesie uitsterf is waarskynlik reeds gebore. Teen die huidige tempo is daar net 2 768 dae oor voordat stropers die laaste renoster uitwis,” het Habig gesê.

“Deur hul afgryslike vernietigingswerk pleeg die stropers sonder twyfel ʼn misdaad teen die mensdom. Hulle steel ons kinders se toekoms.”

Volgens Habig wil Die Voortrekkers met positiewe en pro-aktiewe projekte meer as net bewusmaking doen oor die omvang van renosterstropery. “Ons wil, deur Arthur, kinders persoonlike blootstelling gee aan ons natuurerfenis. Terselfdertyd wil ons deur volhoubare befondsing Arthur en ander renosterwesies bystaan om eendag weer vry en veilig in die Krugerwildtuin te kan loop.”

Die Voortrekkers word vanjaar ondersteun deur die Afrikaanse Toekomstrust (ATT), ʼn openbare welsynsorganisasie wat fokus op die versorging van kinders, sowel as natuurerfenis. Volgens Dinah Bronkhorst, uitvoerende hoof van die ATT, help dié organisasie jaarliks ʼn niewinsgewende kultuurorganisasie om gemeenskapsprojekte volhoubaar te befonds.

Dr. Danie Langer, hoof van Die Voortrekkers, saam met Arthur. (Foto: Verskaf)

Dr. Danie Langer, hoof van Die Voortrekkers, saam met Arthur. (Foto: Verskaf)

“Die ATT ondersteun die gemeenskapsprojek van Die Voortrekkers omdat Arthur vir ons soveel meer verteenwoordig as net ʼn klein renostertjie wat skielik wees gelaat is. Arthur is vir ons ʼn simbool van die onreg en mishandeling waaraan soveel diere-kleintjies onderwerp word.”

Volgens Bronkhorst beoog die ATT ook om vir 200 pleegkinders en kinders uit mindergegoede omstandighede ʼn Voortrekkerbaadjie aan te trek.

“By Die Voortrekkers vra niemand wie jou pa en ma is nie. Niemand vra in watter woonbuurt jy bly nie. Niemand beoordeel jou volgens jou kleredrag nie. By Die Voortrekkers is elke kind ʼn iemand en het elke kind ʼn gelyke kans om sy potensiaal ten volle te ontwikkel en daarvoor erkenning te kry.”

Habig sê dit is nie moeilik om betrokke te raak nie. “Elkeen wat omgee kan ʼn daadwerklike verskil maak aan die toekoms van ʼn gebroke kind en dier.”

Die Voortrekkers en die ATT beplan ook om tussen 7 en 9 Junie vanjaar saam met die kinders ʼn besoek aan renosters wat wees gelaat is, teenstropingshonde en ʼn reservaat af te lê.

ʼn Aangekondig volg binnekort oor ʼn bekende kunstenaar wat sal optree as beskermheer van dié projek en renosterwesies.

SMS die woord “renoster” na 38502 as jy die veldtog wil ondersteun. ʼn SMS kos R10.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Stellie ·

Ongelukkig is nie al die offisiere so nie. My kind was geteiken en het uiteindelik die voortrekkers verlaat agv n offisier wat onderskeid tref!

Veldmuis ·

Stellie jammer om te hoor van jou ongelukkige insident. Wat ek hoor van vriende in die plaaslike Voortrekker groep, is dat daar baie moeite gedoen word om aktiwiteite vir al die kinders moontlik te maak selfs borge kry. Alles klaarblyklik sonder die mede wete van die kind of groep. Dit tref my egter nog meer hoe hulle uit hul pad gaan vir kinders met mediese uitdagings. Ek praat uit hoor sê, maar geen organisasie is sonder enkele uitsonderings nie.

Pierre ·

Stellie ek voel regtig jammer vir jou, maar om hierdie platform te gebruik om ‘n standpunt in te neem teen die Voortrekkers is regtig onnodig. Ek moet se dat ek al baie jare by die Voortrekkers betrokke is en was daar gevalle wat wel opduik, maar dit is ook na behore bestuur. Hierdie gaan oor ‘n groot poging van die Voortrekkers om ons bedreigde diere te beskerm. Carinda is aan my wel bekend en die passie wat sy het, het ongetwyfeld by almal ingekruip. Kyk liewers na die poging wat alreeds ‘n groot verskil gemaak het, waar kinders nie kon wag om deel te word van hierdie projek nie. Hierdie is alreeds ‘n tweede rondte wat nou van stapel gestuur word. Steun liewers hierdie positiewe gesindheid as om dit agv ‘n persoonlike insident te wil gooi asof aal Voortrekker Offisiere afbrekend is. Ons is dit beslis nie.

Suz ·

Stellie is dit nou regtig die beste platform om so uitlating te maak? Well done Voortrekkers, ons is trots dat ons kinders deel kan wees van Arthur se lewe en ‘n verskil maak!

Leon ·

Daar is meer as 15 000 renosters in SA self met n 10% (1500) aawas vermeeder die populasie al word 800 gestroop. Met die getalle wat nou gestroop word sal die wit nie uitsterf nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.