Voortrekkers vereer Vryburgse skoolhoof

Danie Langner en Barry Fuleni. (Foto: Verskaf)

Danie Langner en Barry Fuleni. (Foto: Verskaf)

“By Die Voortrekkers glo ons ons kinders is ons beste toekomsbelegging. Ons wil graag hande vat met skole en opvoeders wat ook belê in die lewe van ons kinders.”

Met dié woorde het dr. Danie Langner, hoofleier van die Voortrekkers, mnr. Barry Fuleni, hoof van Hoërskool Vryburg, Dinsdagaand tydens ʼn prysuitdelingsfunksie as Vriend van Die Voortrekkers verwelkom.

“Ons is ongelooflik trots om mnr. Fuleni as Vriend van Die Voortrekkers te verwelkom, want in Hoërskool Vryburg, wat ʼn multikulturele skool is, ʼn veeltalige skool met Afrikaans, Engels en Setswana, het mnr. Fuleni die ruimte geskep vir Die Voortrekkers, vir Afrikaans en vir kultuur en gesê: ‘Hier kan jy jouself wees, hier is kultuur nie ʼn bedreiging nie, hier is dit nie ʼn rasseding nie. Hier word identiteit deel van die skool en deel van die gemeenskap.’”

Volgens Langner is dit ʼn voorreg om saam met Fuleni te werk.“Die Voortrekkers kan in ʼn  multikulturele, veelrassige en veeltalige skool floreer. Dit hang alles af van die skoolhoof se leierskap. Hiervan is mnr. Fuleni ʼn voorbeeld.”

Vir Fuleni, wat sedert 2013 die hoof van Hoërskool Vryburg is, is die gehalte van die kinders wat deel is van Die Voortrekkers, baie uitsonderlik.

Hy beskou dié Voortrekkers as staatmakers op wie hy enige tyd kan staatmaak in terme van dissipline en om te alle tye die skool se naam hoog te hou.

“Ek sal seker maak dat dié tradisie of gewoonte om ’n Voortrekker te wees, voortleef, want dit bou ons kinders.”

Mnr. Fuleni se toekenning. (Foto: Verskaf)

Mnr. Fuleni se toekenning. (Foto: Verskaf)

Langner sê dié kultuurstorie is ’n storie van hoop. “Daar waar so ruimteskeppend met kultuur gewerk word en dít so ruimteskeppend gehuisves word, leer ’n mens nie net van mekaar se kulture nie, maar word daar ook in die gemeenskap ’n besef geskep van die waarde van kultuur.”

Fuleni het aan die onderwyskollege in Kimberley studeer waarna hy ook sy meestersgraad behaal het. In 1999 sluit hy by Hoërskool Vryburg as adjunkhoof aan en in Junie 2014 los hy as hoof by dié skool af. Op 1 Januarie 2015 word hy as voltydse skoolhoof aangestel.

Die Vryburg-kommando is al 35 jaar deel van die Hoërskool Vryburg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Oud-Vorie ·

Voortrekkers is oral en altyd staatmakers. Dankie dat hulle ook hierdie mooi kompliment vanuit n ander bron (ras en kultuur) hoor.
Hou aan om Koers te Hou

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.