Voortrekkerskatte kry nuwe tuiste danksy ooreenkoms  

Marno Strauss, Jaco Cilliers, Rebecca Letsoene, Slindokuhle Tshisevhe, Mabo Mdluli en Reggie Moodley. (Foto verskaf)

Die Msunduzi-museum in Pietermaritzburg, bekende tuiste van die Geloftekerk, het ingestem tot ’n samewerkingsooreenkoms met die Voortrekkermonument. Hierdie ooreenkoms is deur ’n span vroue van die Voortrekkermonument en die Msunduzi-museum bewerkstellig.

Vroeër vandeesmaand het Rebecca Letsoene, Marike Prins en Marianda Schlebusch van die Voortrekkermonument die Toerisme Indaba in Durban bygewoon en op hul reis na die Msunduzi-museum uitgereik.

Die items wat onder meer nou by die Voortrekkermonument bewaar word, is ’n tafel wat aan Piet Retief behoort het, asook sy waterfles en gebedeboek.

Dié tafel is die einste tafel waarop die onderhandeling tussen Retief en Dingaan in 1838 onderteken is. Dié tafel word ook in die friese in die Heldesaal by die Voortrekkermonument uitgebeeld. Die waterfles word ook afgebeeld in die friese.

Suid-Afrikaanse vroue word as’t ware uit klip gekap en hierdie onderhandelingsproses het dit weereens duidelik bewys. Letsoene, wat al 20 jaar by die Voortrekkermonument betrokke is, vertel watter groot eer dit vir haar is om deel van die proses te kon wees.

“Ek werk nou al vir soveel jare vir die monument en ek voel nou werklik deel van die span. Die monument akkommodeer meer as net twee nasies. Elke volk kan hier tuis voel en ons probeer regtig om geskiedenis te vertel soos wat dit regtig is,” sê Letsoene.

Nosipho Gwala, hoof van die departement van navorsing, inligting en versamelings by die Msunduzi-museum, het ook opgewondenheid oor die ooreenkoms uitgespreek.

“Dis gaaf om saam met die Voortrekkermonument in hierdie samewerkingsooreenkoms te tree.”

Phumelele Ngubane, uitvoerende adjunk-direkteur van Msunduzi, het saam met die Voortrekkermonument gewerk en die proses gedryf om binne slegs ’n week hierdie ooreenkoms tot stand te bring.

Verder het die Msunduzi-museum ook ’n bebloede broek wat Sarel Cilliers by die Slag van Vegkop gedra het en ’n houtkissie wat by die aanval by Bloukrans teenwoordig was, aan die Voortrekkermonument toevertrou.

Rebecca Letsoene by die standbeeld van Piet Retief. (Foto verskaf)

Dr. Danie Langner, besturende direkteur van die Voortrekkermonument, sê dié ooreenkoms met Msunduzi bevestig weer eens die belang van samewerking vir die bewaring van alle Suid-Afrikaners erfenis.

“Piet Retief is een van ons grootste en bekendste Afrikanerfigure en om artefakte soos dié te kan bewaar, is ’n enorme voorreg en verantwoordelikheid. Dit is ons plig en trots om dié skatte te kan bewaar en om die storie aan die volgende geslag te kan oorvertel.”

Die nuwe Vryheidsreis-uitstalling wat binnekort in die Voortrekkermonument te sien gaan wees, word tans gereedgemaak om hierdie museumvoorwerpe ook vir die publiek te vertoon.

Hierdie is maar slegs ’n voorsmakie van al die Voortrekkerskatte wat in dié uitstalling te siene gaan wees en die publiek word genooi om eersdaags die Voortrekkermonument te besoek vir ’n nuwe uitstalling wat lig werp op die Afrikaner se reis na vryheid.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.