Vou jou hartseer in ’n blokkieskombers toe  

Hierdie blok het die hele projek afgeskop na Anja Janse van Vuuren se dood. Die tipiese Anja-blokkie word op elke kombers gewerk ter herinnering aan haar vroeë dood. (Foto: Verskaf)

Sewe jaar ná die ontydige dood van die 25-jarige Anja Janse van Vuuren, loop ’n omgeeprojek nou soos ’n lang ry kettingsteke deur die land. Sarie Marais-Nell vertel:

Katinka Steyn en haar twee dogters, Anja en Marike was altyd kreatiewe siele; hulle het ook aan dieselfde hekelgroep behoort. Toe Anja in Desember 2013 ’n ernstige hartoperasie ondergaan, was hul Facebook-hekelgroep die plek waar Katinka voorbidding vir haar herstel gevra het.

Dit was ook die plek waar Katinka ses weke later ’n bui (mood)-blokkie geplaas het, met die hartseer nuus dat Anja in haar man se arms gesterf het. Met drie peuters van drie jaar en jonger.

Terwyl Anja se man, ouers, sussie en broer Marnus met hierdie tragedie worstel, kyk hekelgroeplede herhaaldelik na Katinka se simboliese Anja-blokkie: ’n donkerpers vierkant waarop Katinka ’n rooi hart met wit rygstekies vasgewerk het. Pers was Anja se gunstelingkleur, die hartjie verwys na haar operasie en die rygstekies na haar genesing.

Tot iemand voorstel: “Kom ons hekel elkeen vir Katinka ’n pers vierkant.”

Honderde gehekelde vierkante en ondersteuningsbriewe het van oraloor ingestroom; elkeen met ’n titsel pers en eiesoortige patroon.

“Ek gee skool hier in Kempton Park, daar’s nie tyd vir vaswerk nie,” vertel Katinka. “My suster Erica het die blokkies tot komberse omskep: vier enkelbedkomberse (een vir elk van Anja se kinders en vir Marike) plus ’n dubbelbedkombers vir my en my man.”

Hierna ontwikkel die gedagte spontaan dat hierdie soort omgeeprojek moet voortgaan en Erica stig die Facebook-groep Anja Blokkies Trooskomberse.

“Hierdie omgeeprojek en die hekelvriende het my arms hoog gehou”, verklaar Katinka. “Dit het vir my struktuur gegee, gehelp om myself bymekaar te trek ter wille van ’n projek wat groter is as enigeen van die indiwidue wat hiermee help.”

Die blokkiespens is in Katinka se huis, waar alle bydraes volgens kleur geberg word. (Foto: Verskaf)

Langbeen of kortbeen – sewe jaar later hekel vrouegroepe landwyd steeds met liefde en voorbidding sodat bedroefdes ’n blokkieskombers kan ontvang:

“Mense wat weet van ons projek, versoek op Facebook ’n kombers vir iemand wat ’n geliefde aan die dood afgestaan het. Die enigste voorvereiste is dat die sterfdatum van die geliefde ná 22 Januarie 2014 (Anja se sterfdatum) moet wees. Indien iemand meer as twee komberse aanvra, moet ons ’n donasie vra omdat al die wol uit ons eie sakke kom. Ons het geen formele borge nie, behalwe ’n paar maandelikse bydraes wat wissel van R10 tot R100. Alle donasies word vir wol en posgeld aangewend.”

Toe Kwêla oor die projek berig, is die hekelgroep oorval met versoeke.

“Wat ’n leerkurwe! Hierna het ons die projek verfyn en ses vriendinne gekry wat die kombersversoeke op ons web- en Facebook-blaaie hanteer.”

Anja het nie van foto’s gehou nie, maar hier is Katinka op Kersdag 2010 tussen haar twee dogters Marike (links) en Anja met haar dogtertjie Adreana. (Foto: Verskaf)

Katinka hanteer die “blokkiespens” – ’n muurkas propvol hekelblokke wat volgens kleur gesorteer is.

“Sondagmiddae sit ek die 36 vierkante vir elke nuwe kombersversoek bymekaar en stuur dit na die hekelgroep wat die naaste woon aan die persoon wat die kombers moet kry. Posstakings het ons hierdie praktiese les geleer.”

Sodra sekere kleurskakerings min raak, trek die boodskap deur die WhatsApp- of Facebook-groep: “Ons kort wit blokke, aardse kleure, of pastelle.”

Elke trooskombers – maak nie saak watter kleurskema nie – kry die kenmerkende Anja-blokkie.

“As dit nie ’n pers Anja-blokkie het nie, is dit nie ’n Anja-trooskombers nie.

“Intussen is daar spesiaal ‘n etiket vir ons ontwerp, wat ons op elke hartjieblok vaswerk. Die patroonskrywer Kogi Naidoo het reeds twee blokkies spesiaal vir Anja Trooskomberse ontwerp.”

Een van die trooskomberse. Dis ook vir die meeste ontvangers van so ‘n trooskombers verbysterend dat vreemde mense saamwerk om so ‘n groot omgee-geskenk vir iemand te gee. (Foto: Verskaf)

Vir ’n persoonlike aanslag word die oorledene se voorkeurkleure en troetelnaam in die kombers ingewerk.

“Hekelvriende kan hul blokke van 20 x 20 cm in enige hekelpatroon voltooi. Party vroue verkies om die name op die vierkante te hekel, party verkies sekere kleure; ander wil eerder komberse vaswerk. So bring elkeen sy eie talent na die projek toe.

“Ons verkies dat hekelvriende slegs 10 blokke per kombers hekel, want só verseker ons dat meer mense bid vir en dink aan die persoon wat troos benodig.

“Ons kerngroep het die afgelope sewe jaar baie verander omdat mense se omstandighede verander. En onafwendbaar raak hekelmaats lief vir mekaar.

“Een hekelvriendin was altyd so eksieperfeksie, toe doop ons haar ons ‘Blokkies-polisie’. Haar onverwagse sterfte het ons baie ontstel. Ons het eenders aangetrek, haar troosdiens as ’n groep bygewoon en tydens die diens suutjies gesit en hekel as erkenning aan die liefdesdiens waaraan sy haar laaste jare gewy het.”

Meer as net die ontvangers van trooskomberse baat by hierdie hekeldiens: Baie van die hekelvroue vind vervulling daarin dat hulle – binne hul eie huise – steeds baie kan beteken vir ander mense.

“Dis wat my dankbaar maak – hierdie projek wat die ontvangers én die werkers se lewens aanraak.

“Die Here is so goed, ons het nog nooit iets in die pos verloor nie. Soms kom dit met ’n draai of eers ná ’n lang tyd by sy bestemming aan, maar áltyd op die regte tyd!

“Ons projek hét leer en probeer (trial and error) beleef, maar geleidelik het ons meer geoliede wiele gewerk en ontwikkel. Soms, wanneer dit vir my voel ek kan nie meer hiermee aangaan nie, kry ek ’n aanmoedigende boodskap en dan gáán ek weer vorentoe!”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.