Vra vir Susan: Voordele van tweetaligheid

Foto: Shutterstock

Goeie dag Susan,

My seuntjie is 15 maande oud en praat nog nie. Ek is Afrikaans en my man is Engels. Nou wonder ons of dit nie die oorsaak van die probleem is nie. Miskien verwar ons hom. Moet ons eerder net een taal kies en daarby hou? Dit sal moeilik wees, maar ter wille van ons kind sal ons dit doen.
Help asseblief.

Retha

Goeie dag Retha,

Bloot as voorsorgmaatreël sou ek aanbeveel dat jy jou kleinding se ore laat toets. By jong kinders is oorinfeksie (en die gevolglike opbou van vog in die middeloor) die mees algemene oorsaak van gehoorverlies. Ouers is ook dikwels onbewus van die teenwoordigheid van middeloorinfeksie of vog wat opbou, omdat dit nie altyd met koors gepaardgaan nie en kinders dikwels geen simptome toon nie. Dit kan egter ’n enorme effek hê op spraak- en taalontwikkeling en kan ook lei tot ouditiewe prosesseringsprobleme.

Tweedens bewonder ek julle gewilligheid om julle tweetalige gesinstruktuur te verander na eentalig, maar ek twyfel of dit werklik nodig is. Navorsing het bevind dat tweetaligheid baie voordele inhou, en die gedagte dat dit kinders verwar, weerlê.

Voordele van tweetaligheid

’n Studie wat aan die universiteit van Granada en die universiteit van York in Toronto, Kanada, gedoen is, het getoon dat tweetalige kinders ’n beter werkende geheue ontwikkel as kinders wat net een taal magtig is.

Werkende geheue is die vermoë om inligting in die brein te hou en verstandelik te manipuleer. ʼn Mens gebruik byvoorbeeld hierdie werkplek in jou brein wanneer jy twee getalle moet optel sonder die hulp van pen en papier of ’n sakrekenaar. ’n Belangrike en deurlopende bevinding is ook dat ʼn goeie werkende geheue nodig is vir leesbegrip.

Nuwe navorsing aan die universiteit van Washington het bevind dat 11 maande oue babas wat tweetalig grootgemaak word, se uitvoerende funksies in hulle breine beter ontwikkel is as eentalige babas. Uitvoerende funksies verwys na die verstandelike prosesse wat ’n persoon in staat stel om te beplan, met aandag te fokus, instruksies te onthou en veelvoudige take uit te voer.

Nog navorsing oor die onderwerp aan die nasionale universiteit van Singapoer het bevind dat babas tussen 12 en 13 maande wat vanaf geboorte aan Engels sowel as Mandaryns blootgestel word, die reëls van elkeen vinniger bemeester. Die kommer dat tweetaligheid babas verwar, is dus ongegrond, het die hoofnavorser, prof. L Singh, opgemerk. Die oplossing vir jou kleinding lê dus waarskynlik elders as om van twee tale af te skaal na een taal. Kom ons ondersoek hoe ’n kind taal leer. Hoe leer ʼn kind taal?

Dis belangrik om te onthou dat die verwerwing van taal nie ʼn natuurlike of outomatiese proses is nie. Daar is niks wat enige mens weet of kan doen wat hulle nie geleer het nie. Dit is veral waar van taal.

Die baba leer taal net op een manier, en dit is deurdat die ouers met hom praat en praat en praat

Die baba leer taal net op een manier, en dit is deurdat die ouers met hom praat en praat en praat. Hoe meer die ouers met hul kind praat, en dikwels dieselfde woorde, dieselfde sinsnedes, dieselfde strukture oor en oor herhaal, hoe gouer sal die kind taalgebruik aanleer.

ʼn Belangrike punt om hier te onthou is dat, teen die tyd dat die kind omtrent nege maande is, hy eenvoudige woorde en bevele behoort te verstaan. Hy mag ook moontlik ʼn paar eenvoudige woorde reeds kan sê. Sonder uitsondering vind ʼn mens egter dat die kind baie meer verstaan as wat hy self in staat is om te sê. Dit bly inderwaarheid so dwarsdeur ʼn mens se lewe. ʼn Mens kan altyd meer verstaan van enige taal as wat jy in aktiewe spraak of skrif kan gebruik, selfs in jou eie moedertaal.

Dit bewys dat ons twee min of meer afsonderlike brokke taalkennis het, ons passiewe kennis aan die een kant en ons aktiewe kennis aan die ander. Wanneer ons luister of lees, maak ons gebruik van ons passiewe woordeskat, en wanneer ons praat of skryf, van ons aktiewe woordeskat.

Dit is belangrik om in hierdie stadium daarop te let dat die kind se passiewe woordeskat daargestel is deur die voortdurende herhaling van woorde, sinsnedes en strukture. Sodra ʼn woord, ʼn sinsnede of ʼn taalstruktuur genoeg kere herhaal is, word dit ook deel van die aktiewe woordeskat. Dit beteken dat die aktiewe woordeskat slegs via die passiewe verbeter kan word. Volgens prof. Beve Hornsby is daar bevind dat ʼn kind wat net begin leer om te praat, ’n woord ongeveer 500 keer moet hoor voordat dit deel van sy aktiewe woordeskat sal word. Lank voor hierdie tyd sal dit reeds deel van sy passiewe woordeskat wees.

Dit beteken dat ouers soveel moontlik geleenthede moet skep vir hul baba om hulle te hoor praat. Dit is veral waar as ʼn kind tweetalig grootgemaak word. As ’n x hoeveelheid herhalings nodig is om ʼn kind in een taal te leer praat, kan ons nie x deel deur twee nie, ons moet x eerder maal met twee. ʼn Kind wat tweetalig grootgemaak word, moet dus meer aan taal blootgestel word as ʼn kind wat net eentalig grootgemaak word.

 ʼn Kind wat tweetalig grootgemaak word, moet dus meer aan taal blootgestel word as ʼn kind wat net eentalig grootgemaak word

Behalwe om soveel as moontlik met ʼn kind te praat, moet ouers ook so dikwels as moontlik vir hulle kinders lees. Die geheim, volgens kundiges, wat sal lei tot optimale taalontwikkeling, is om dieselfde storie(s) oor en oor en oor te lees. Dieselfde storie(s) is die geheim.

Wanneer ʼn kind ouer is, behoort mens ook vir hom rympies te leer. Navorsing het bevind dat die kennis van kleuterrympies op die ouderdom van drie ʼn betekenisvolle verskil maak in ʼn kind se leesvermoë.

ʼn Ander belangrike aspek, glo ek, is dat ouers nie twee tale moet meng nie. Pappa moet streng Engels met kleinding praat en Mamma Afrikaans. As tweetaligheid tot verwarring kan lei, is dit bloot omdat ouers die tale meng.

Sterkte en laat my weet hoe dit gaan.

Susan oor Skoolkwessies

Vra vir Susan oor Skoolkwessies:

Is jy bekommerd oor jou kind se skoolprestasie? Stuur jou vrae aan [email protected] Probeer om soveel moontlik besonderhede te verskaf, sowel as jou kind se ouderdom en graad. Gebruik jou eie naam of ʼn skuilnaam as jy verkies om anoniem te bly.

Meer oor Susan:

Susan du Plessis is ’n opvoedkundekenner en gepubliseerde skrywer op die gebied van leerprobleme en disleksie, met meer as 25 jaar praktiese ondervinding. Sy het ’n BA Honneursgraad in Sielkunde sowel as ’n BD-graad aan die Universiteit van Pretoria verwerf, en die eerste Edublox Lees-, Wiskunde en Leerkliniek in 2007 geopen. Vandag is daar 26 Edublox-klinieke in Suidelike Afrika. Besoek die Edublox-webtuiste met meer as 590 suksesverhale by www.edubloxsa.co.za

Verwysings:

Morales, J, Calvo, A & Bialystok, E. 2013. Working memory development in monolingual and bilingual children. Journal of Experimental Child Psychology 114 (2): 187.

Ramírez, N F et al. 2016. Speech discrimination in 11-month-old bilingual and monolingual infants: a magnetoencephalography study. Developmental Science.

Singh, L, Poh, F L S & Fu, C S L. 2016. Limits on monolingualism? A comparison of monolingual and bilingual infants’ abilities to integrate lexical tone in novel word learning. Frontiers in Psychology.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae