Vriendskap bly ’n kosbare besitting

vriende-vriendskap-reisgenoot

(Foto: Joshua Sazon/Unsplash)

In “Bridge over troubled water” sing Paul Simon:

When you’re down and out
When you’re on the street
When evening falls so hard
I will comfort you
I’ll take your part…

Oh, if you need a friend, I am sailing right behind…”

Ek het hierdie afgelope twee weke baie aan die lirieke van dié ikoniese lied gedink, want ek het die voorreg gehad om in ʼn paar mense se pyn te kon deel, en ek gebruik die woord “voorreg” nie ligtelik nie.

  • ʼn Vriendin wat hoor haar dogtertjie het ʼn ongeneeslike siekte.
  • ʼn Vriend wat, na ʼn ewigheid van stilswye, erken dat hy as kind in sy ouerhuis gemolesteer is.
  • ʼn Vriendin wat die voorwoord van haar oorlede man se memoirs moet skryf, maar nie deur haar trane kan sien nie.
  • ʼn Vriend wat Londen toe moet vlieg om afskeid te neem van sy boesemvriend wat in sy laaste dae met breinkanker is.
  • ʼn Nie-rokervriend wat gediagnoseer word met gevorderde longkanker.
  • ʼn Vriendin wat haar lieflinghond en enigste huismaat vir dae lank met die grootste teerheid deur die doodsproses begelei.
  • ʼn Vriendin wat al vir ses jaar aanhou seerkry by ʼn man, maar steeds hoop…

Wanneer iemand voor jou sit en sy hartseer of diepste bekommernisse met jou deel, sonder enige vrees of voorbehoud, is dit ʼn voorreg om in daardie oomblik te kan wees. Dit is van albei kante af menswees op sy suiwerste, in sy mees gestroopte vorm.

Lyding is universeel en niemand word in ʼn leeftyd daarvan gespaar nie – nie die mooistes, slimstes, of rykstes onder ons nie. Lewenskinkels en -kabels gaan daar altyd wees, maar sielkundiges sonder vyf gebeure uit wat die grootste trauma veroorsaak:

  • Die dood van ʼn geliefde
  • Egskeiding of verbrokkeling van ʼn ernstige verhouding
  • Verhuising
  • Ernstige siekte of besering
  • Werkverlies

Ek is seker ons almal kan ʼn paar items by die lysie voeg, want alles is relatief. Vir party mense sal “eensaamheid” of die vrees vir alleen-oudword die topvyf haal. Vir mense wie se harte warm klop vir diere, kan die dood van ʼn hond of ʼn kat hulle wêreld onderstebo dompel. Ek het ʼn vriendin wat nog altyd gesmag het na kinders en met ʼn permanente holte in haar hart leef. Die lys is legio.

Ons weet die menslike liggaam reageer op trauma deur streshormone (adrenalien en kortisol) af te skei wat ons laat “veg of vlug”. En afhangende van ons reaksie op die stressors kan dit tot ernstige liggaamlike sowel as geestelike probleme lei. Wetenskaplikes sê die uitdrukking, dat dit beter is om te gee as te neem, is egter nie net mooi woorde nie. Daar is bewys dat mense wat vir ander omgee én na hulle uitreik, gesonder is en selfs langer leef.

Deur dáár te wees vir iemand in nood kan ons ons medereisigers se seer so ʼn bietjie verlig, want solidariteit is salf. Ons hoef nie al die wysheid in pag te hê nie. Ons hoef nie berge te versit nie. ʼn Geduldige oor en ʼn sagte aanraking is soms al wat nodig is.

Lizma van Zyl saam met haar ouers Gerrit en Bettie in 2002. (Foto verskaf)

Vir my is “kindness” die sleutelkonsep en “kindness” is meer as net “vriendelikheid” wat Google se vertaling so vinnig uitskop. Ek glo kindness is deernis + aksie.

Ek kan die afgelope twee weke se ontboesemings aan my lyf voel, want ʼn mens kan nie onaangeraak wegstap van soveel pyn nie, maar dit het my ook opnuut laat besef hoe kosbaar goeie vriende is. Dit was die laaste tyd dalk my beurt om te gee maar ek was al male sonder tel aan die ontvangkant hiervan, en ek is diep dankbaar vir elkeen wat opdaag wanneer hartseer en verlies aan my deur klop.

My diepste donga was my ouers se dood – presies drie maande na mekaar. Ek en my suster het nog nie eers naastenby begin om die massiewe verlies van my ma te verwerk, toe my pa ook weg is nie. Maar vriendinne het handgevat en raakgevat, wat my weer deur die mis van verdriet help sien het. En soos een vriendin en mentor destyds vir my gesê het: “Die pyn gaan nie weg nie. Ons raak net treurfiks”. Liefde en ondersteuning help egter daardie proses aan.

Herodotus, die antieke Griekse historikus, was reg:

Van alle besittings is ʼn vriend die kosbaarste.

Meer oor die skrywer: Lizma van Zyl

Lizma van Zyl is ’n bekroonde veteraan radiojoernalis en –aanbieder met ’n meestersgraad in joernalistiek. Sy is stigterslid van die Kaapse kommersiële radiostasie, Smile 90.4FM.

Deel van: Goeie nuus, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.