Vriendskap, geloof in Noord-Koreaanse tronk

Hee-Yol sal nooit die mishandeling vergeet wat sy in Noord-Korea ervaar het nie.

Dink aan die gevangenes asof julle self ook gevangenes is, en aan dié wat mishandel word asof julle self ook mishandel word. – Hebreërs 13:3

Geopende Deure het onlangs sy 2021 Wêreldwaarnemingslys bekendgestel – ʼn jaarlikse lys van die 50 top-lande ter wêreld waar Christene die ergste vervolging ervaar. Noord-Korea beklee die 20ste jaar in ʼn ry (sedert 2002) die top-posisie in dié lys.

Talle hartseer verhale ontvou oor die afgryslike ontberings wat Noord-Koreaanse Christene moet deurmaak. Een só ʼn verhaal is dié van Hee-Yol*, ʼn Noord-Koreaanse vrou wat in die 1990’s van Noord-Korea na China gevlug het weens die voortdurende hongersnood. Sy het in China die eerste keer van Jesus gehoor. Haar werklike ontmoeting met Hom het egter eers gekom nadat sy gevang is en teruggestuur is na Noord-Korea, waar sy onder haglike omstandighede in die tronk aangehou is.

Agter die donker, siellose ystertralies – en te midde van harde arbeid, trauma en intense swaarkry – het Hee-Yol vriendskap by Lydia, ʼn medegevangene wat ook ʼn Christen was, gevind. Lydia was ʼn suster in geloof wat haar geleer het wat dit beteken om waarlik vir Jesus Christus te leef en te ly.

Hee-Yol is in China verkoop en in ʼn huwelik gedwing. Sy het twee keer probeer vlug, maar is albei kere gevang. Haar derde poging om te ontsnap was egter suksesvol en sy het na ʼn ander stad verhuis waar die vrou wat haar gehelp het haar meer van Jesus vertel het.

Sy het vir jare in China gewoon en gewerk, maar is later gearresteer en na Noord-Korea teruggestuur omdat sy nie haar Chinese identiteit aan die polisie kon bewys nie. Sy is vir tien dae na ʼn aanhoudingsentrum en daarna na ʼn tronk gestuur.

“Daar was nege gevangenes in die klein tronksel waar ons aangehou is. Ons kon nie gemaklik lê nie en die kos was nie eens geskik vir diere nie. Ek was die hele tyd honger en dit was so koud. Ek het gesukkel om God te vertrou en het Hom vir my omstandighede blameer,” vertel sy.

Ná haar verhoor is sy na ʼn ander tronk gestuur om haar vonnis van vier jaar uit te dien. “Hoewel ek voorheen kwaad was vir die Here, het ek hom nou met my hele hart aangeroep. Ek het gepleit dat Hy my uit die tronk moes red.

“Die aanhouding was erger as wat ek verwag het. Elke dag was ʼn marteling en daar was 50 tot 60 gevangenes in een klein tronksel. Die toilet was binne-in die sel en die stank was ondraaglik. Ons is snags deur luise, weeluise, kakkerlakke en selfs rotte getreiter.

Hee-Yol is weens haar geloof onder haglike omstandighede in die tronk aangehou.

“Ons was so honger. Ons moes rotte en slange vang om te eet. Mense was gedurig siek van wanvoeding. Maar toe ontmoet ek vir Lydia, ʼn ouer vrou wat haar kos met die sieklikes gedeel het. Sy was glad nie soos die ander gevangenes nie, want God se liefde was in haar sigbaar.”

Die twee vroue het gou hegte vriende geword. “Ek het vasgeklou aan Lydia se stories uit die Woord om te oorleef en het baie op haar bystand geleun. Sy het my aangemoedig om die Here te vertrou.”

Hee-Yol is ná twee jaar vrygelaat en is daarna terug na haar Noord-Koreaanse huis waar sy gesukkel het om weer aan te pas onder die konstante monitering van die polisie. Sy het na drie jaar terug by die huis besluit om weer te ontsnap – hierdie keer na Suid-Korea. Vandag leef sy as ʼn vry mens in Suid-Korea. Sy doen naaldwerk vir ʼn inkomste en studeer kunsterapie. Ten spyte van haar geskiedenis as ʼn slagoffer van mensehandel en ʼn voormalige Noord-Koreaanse gevangene, hou sy steeds vas aan Jesus.

ʼn Beraamde 50 000 tot 70 000 Christene is weens hul geloof gevangenes in onmenslike omstandighede in Noord-Koreaanse tronke. Jy kan vandag ʼn bron van hoop vir ons Noord-Koreaanse broers en susters wees deur vir hulle te bid. Jou gebede sal hulle help om Jesus se oorwinning te beleef en aan hulle wys dat hulle nooit alleen is nie.

Klik hier om jou gratis Wêreldwaarnemingslys-gebedskaart af te laai as ʼn hulpmiddel om ons vervolgde geloofsfamilie deur jou gebede te ondersteun.

*Naam verander en gesig verberg vir veiligheidsredes.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Goeie nuus

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.