Vrijheidsreis-uitstalling open sy deure

Ds. Cassie Aucamp, voorsitter van die Voortrekkermonument, en prof. Danie Goosen, voorsitter van die FAK, het die uitstalling geopen. (Foto verskaf)

Dinsdag, byna 84 jaar na die hoeksteenlegging, 73 jaar na die inwyding en 65 jaar na die eerste museum in die kelderverdieping van die Voortrekkermonument in Pretoria geopen is, word ’n nuwe vergrote museum met die tema Vrijheidsreis bekendgestel.

Dié nuwe museum is eers as ’n drie jaar lange projek beplan, maar dit is in drie maande afgehandel en die museum is nou groter en beter as ooit tevore. Die uitstalling gooi ʼn kollig op die Voortrekkers se strewe na vryheid en maak dit lewendig met kleur en klank.

 “Vryheid is meer as ’n bestemming,” sê dr. Danie Langner, besturende direkteur van die Voortrekkermonument. “In dié konteks is Vrijheidsreis meer as ’n museum. Dit is ’n standpunt en ’n bevestiging van ’n ideaal en reisverhaal wat oor eeue geslagte Afrikaners aan mekaar verbind.”

Hierdie uitstalling kan gesien word as ’n tog deur die geskiedenis, vanwaar die Groot Trek sy ontstaan gekry het, tot by die uiteindelike vryheid wat dit gebring het.

Piet Retief se tafel, watervles en gebedsboek is deel van die uitstalling. (Foto verskaf)

Noemenswaardige gebeure uit die Groot Trek word in dié uitstalling uitgebeeld, soos die veldslae by Vegkop en Bloedrivier.

Wat die uitstalling so spesiaal maak, is die samewerking wat die Voortrekkermonument van sy personeel, maar selfs nog meer van ander museums en ook verskeie kultuurgroepe, ontvang het.

Vir die eerste keer in die monument se geskiedenis word jy op alle vlakke deur ’n reis geneem wat intrinsiek met mekaar verband hou en verbind is. As ’n voorbeeld kan jy in die Heldesaal Piet Retief se onderhandelingstafel en waterfles op die friese sien. Op die tapisserie in die Senotaafsaal word dieselfde voorwerpe uitgebeeld en nou vir die eerste keer in die geskiedenis kan jy die werklike voorwerpe op uitstalling in die nuwe museum sien.

Persoonlike items van leiers van die Groot Trek soos Sarel Cilliers en Piet Retief word ook as deel van hierdie reis vir die eerste keer in die geskiedenis by die Voortrekkermonument uitgestal.

Dr. Danie Lagner (Foto verskaf)

Die Msundusi-museum in Pietermaritzburg het die besondere items, waarvan Piet Retief se tafel en waterbottel deel is, goedgunstiglik met ʼn ooreenkoms uit die Geloftekerk se museum aan die Voortrekkermonument geleen.

Die uitstalling word ook afgerond met twee besondere fokuspunte wat nie noodwendig hul belang direk uit die geskiedenis van die Groot Trek vind nie, maar wat steeds ongelooflik is om te besigtig.

Die WH Coetzer-saal en die Moerdijk-saal is elk ’n uitstalling van belangrike individue wat diep spore in die geskiedenis van die Voortrekkermonument getrap het.

Hierdie uitstalling word anders aangepak as ’n tipiese museum-uitstalling, waar die besoeker nie net visueel die reis meemaak nie, maar waar die tonele met behulp van klank ook die besoeker oudiovisueel stimuleer.

Volgens Langner is dit nie ’n plek waar saggies gefluister word oor die geskiedenis nie, maar waar daar hard gesels word oor die gebeure van die verlede en die impak wat dit vandag steeds op ons vryheidsreis het.

Zöricke Snyman het ’n hartverskeurende monoloog uit “Die Gelofte” voor die Bloukrans-fries in die Heldesaal opgevoer. (Foto verskaf)

Tydens Dinsdagaand se amptelike opening het die Voortrekkermonument, asook die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK), dit goed gedink om spesiale oorkondes te oorhandig aan ’n paar mense wat oor die afgelope jaar ’n groot bydrae gelewer het tot die voortbou en bewaring van Afrikanergeskiedenis.

Johan Vorster, sanger en liedjieskrywer, Jannes Erasmus, akteur en dramaturg, en Jacomien de Wet, musikant en komponis, het elk ’n oorkonde ontvang vir hul werk aan die onlangse Die Gelofte-musiekblyspel. Langner en prof. Danie Goosen, voorsitter van die FAK, het namens dié organisasie die toekennings oorhandig.

Gerrit Pitout, skilder, Van Rooy van den Berg, direkteur van Afrison, en Chris Boshoff, loodglaskunstenaar, het elk oorkondes ontvang vir hul hulp en bydrae tot die Voortrekkermonument se Vrijheidsreis-uitstalling. Pitout het ses skilderye verskaf wat in die nuwe uitstalling pryk. Boshoff het die nuwe Gelofte-loodglaspaneel in die Senotaafsaal ontwerp en gemaak, terwyl Van den Berg se maatskappy die ontwikkeling van die nuwe uitstalling met tegniese hulp en verskeie borgskappe bygestaan het. Hul toekennings is oorhandig deur Langner en ds. Cassie Aucamp, voorsitter van die Voortrekkermonument en Erfenisstigting.

V.l.n.r. is Chris Boshoff, dr. Danie Langner, Van Rooy van den Berg en Gerrit Pitout voor die loodglasvenster wat deel van die uitstalling vorm. (Foto verskaf)

Zöricke Snyman het ’n hartverskeurende monoloog uit Die Gelofte opgevoer. Wat die oomblik meer spesiaal gemaak het, was dat die aktrise die monoloog wat die Bloukrans-moorde verwoord, opgevoer het voor die fries, wat in die monument se heldesaal dié bloedbad uitbeeld.

Johan Vorster het op sy beurt die gewilde “Waarheen, O God,” uit Die Gelofte-musiekblyspel gesing en dit opgevolg met die sing van “Die Gelofte”, voor die fries wat Sarel Cilliers se gelofte aflegging uitbeeld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.