Vroeë Kersgeskenk vir matrikulant wat skryfdebuut oorsee maak

Emily Hart se debuutroman word eersdaags deur ʼn Europese uitgewer uitgegee (Foto: Verskaf)

Emily Hart, ’n gr. 12-leerder aan die Rynse Hoër Meisieskool, of Rhenish soos dit algemeen bekend staan, in Stellenbosch se droom om voor die einde van haar matriekjaar ʼn gepubliseerde skrywer te wees, is onlangs deur ʼn internasionale uitgewer bewaarheid.

Europa Editions het twee weke nadat Hart haar manuskrip ingedien het, vir dié debuutskrywer ʼn kontrak aangebied. Die misdaadfiksieroman wat nog nie ’n naam het nie, word voor Kersfees vanjaar in Engeland, Italië, Duitsland, Frankryk en Portugal gepubliseer.

“Ek het eerlikwaar nie verwag dat dit so vinnig sou gebeur nie,” sê Hart. Sy het haar manuskrip aan byna 20 verskillende uitgewers gestuur voor Europa Editions die publikasie-ooreenkoms met haar beklink het.

Hart het in gr. 10 reeds begin om haar roman te skryf en dit vanjaar tydens die afsonderingstyd voltooi. Hart verklap dat sy die inleiding skelm in een van haar klasse geskryf het.

“ʼn Toneel met dialoog het een dag in 2018 deur my kop gemaal,” vertel sy. “Ek het dit vinnig neergeskryf – en ek moes dit skelm doen terwyl ek in die klas was.” ʼn Paar maande later het Hart weer na die toneel gekyk en gedink dit is ʼn storie werd. Sy het die dialoog as inleiding vir haar roman gebruik.

Hart was nog altyd mal daaroor om te skryf en onthou dat haar ouma vir haar kortverhale gepos het.

Emily Hart (Foto: Verskaf)

“Ek het dan aandagtig gesit en luister terwyl my ouers dit voorgelees het. Ek het verlief geraak op hoe ’n oneindige wêreld van kleur en lewe uit nét 26 swart-en-wit-letters geskep word.”

Dit was egter nie so maklik vir haar om te leer lees nie. “Tot gr. 3 het ek ’n geringe leesgestremdheid gehad, waar ek gesukkel het om woorde te lees en uit te spreek,” vertel Hart.

Sy moes gedurende en na skool bykomende leesklasse bywoon. Dit was nie maklik nie, maar toe Hart dit eers oorkom het, het sy geleer dat die wêreld van boeke nie so eng was as wat sy gedink het nie.

“Die wêreld wat deur lees ontsluit word, is eerder ’n plek vir my verbeelding om asem te haal en te groei.”

Hart is tans besig om twee nuwe romans te ontwikkel. Sy beplan ook om volgende jaar vir ʼn BA-graad in taal en kultuur by die Universiteit Stellenbosch in te skryf.

“Ek beplan om te reis, die wêreld te sien, inspirerende mense te ontmoet en mense te herinner hoe lief Jesus hulle het. Die toekoms hou soveel moontlikhede in, maar soms moet ek myself daaraan herinner om net die oomblik te geniet.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Louise ·

Geluk jonge dame, ek self is mal oor lees en selfs my kleindogter van 10 kan enige boek wat sy in die kry verslind. Sal graag ook die boek wil lees. Ek lees ook skelm by die werk veral as dit so stil is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.