Vroetelkomberse, -voorskote bring kalmte vir Alzheimer-pasiënte

(Foto: Verskaf)

Die uitdeel van vroetelkomberse en -voorskote aan Ons Tuis-inwoners wat aan Alzheimer se siekte ly in Riviera in die Moot-omgewing van Pretoria was ʼn hoogtepunt.

Dit was deel van die jaarlikse Tooi Turkoois vir Bejaardes-veldtog wat die kollig op bejaardesorg in Suid-Afrika plaas en geld daarvoor insamel. Vanjaar se veldtog vind weer tot 15 Junie plaas.

Die vroetelkomberse help om Alzheimer-pasiënte se sensoriese en fyn motoriese vaardighede te stimuleer, en hou hulle terselfdertyd knus en warm in die winter.

“Die idee om vroetelkomberse en -voorskote vir Ons Tuis se Alzheimer-pasiënte te maak, het in November 2019 reeds vlamgevat. Beurtkrag en die Covid-19-inperkings het die projek egter gekniehalter, maar ons is ongelooflik opgewonde om uiteindelik nou 12 vrouevoorskote, ses mansvoorskote, ses skinkbordlappies vir mense in rolstoele en vier vroetelkussings aan die inwoners te verskaf,” het Elmien Botha, skriba van die algemene diakensvergadering (ADV) van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika, gesê.

Volgens haar vroetel en trek mense met Alzheimer se siekte gedurig aan hul klere, komberse en kussings. Wanneer hulle niks het om hul hande mee besig te hou nie, is hulle ook geneig om hulself seer te maak deur aan hul lywe en hande te begin byt en krap.

“Amper net soos wanneer ʼn mens kinders met ʼn speelding sou sus of kalmeer, kan jy hierdie mense met sulke ‘besighou-items’ rustig maak,” verduidelik sy.

Die konsep was om soveel moontlik items waarmee ʼn mens kan vroetel en speel stewig aan ʼn voorskoot vas te werk. Uiteraard moet dit hulle nie kan beseer nie en sluit daarom items soos ritssluiters, knope, toutjies, linte, lappies en skuurpapiertjies met verskillende teksture, poppies, beertjies en bolletjies wol in.

“Alles op hierdie interessante voorskote moet stewig vasgewerk word sodat dit op geen manier losgetorring kan word nie. Ander vroetelprojekte wat reeds sinvol vir Alzheimer-pasiënte aangepak is, was ook die maak van vroetelmoue wat oor die arms aangetrek kan word.”

Volgens Andries Pretorius, vise-voorsitter van die ADV van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika, is verskeie mense, instansies, kerke en groepe by die maak en uitrol van die unieke projek betrek.

“My vrou, Hanlie, en ʼn paar familielede het ʼn handwerkgroepie gestig wat saam brei-, hekel- of naaldwerk doen. Selfs ʼn niggie van my wat nou in Duitsland woon, het van die projek te hore gekom en iets vir die voorskote gemaak en gepos. Soos hulle sê: aanhouer wen,” het Pretorius gesê.

Volgens ds. Frikkie van Wyk, die voorsitter van die direksie van Ons Tuis, skep inisiatiewe soos Tooi Turkoois die geleentheid om kritiek belangrike aspekte rakende bejaardes uit te lig en aan te raak.

“Bejaardes in Suid-Afrika is ’n groep mense wat erg negatief deur beperkte dienste en verswakte instellings geraak word. Om nie eens te praat van hul kwynende pensioenfondse en beleggings wat deur inflasie opgevreet word nie,” het Van Wyk gesê.

Volgens hom is die Ons Tuis-groep se tehuise landwyd sedert middel Mei in turkoois geklee: van bome wat met lappe toegespan word, baniere en oulike T-hemde tot kompetisies om die gemeenskap aan te spoor om aan Tooi Turkoois-geldinsamelingsprojekte deel te neem.

“Ons is waarlik trots op die meelewendheid en die gemeenskap se betrokkenheid en omgee vir bejaardes.”

‘n Span ywerige naaldwerkers wat die komberse en voorskote gemaak het. (Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.