Vrou en geliefde hond herenig ná bakkie rol

Wian Venter, Suné Roux en Benedict. (Foto: Verskaf)

ʼn Jong vrou van Bloemfontein is ongelooflik dankbaar om weer met haar geliefde hond herenig te wees nadat hy vermis geraak het toe die twee in ʼn ongeluk betrokke was en hy uit die bakkie geval terwyl die voertuig gerol het.

Benedict, ʼn swart Labradorreun, is Dinsdag deur ʼn boer in ʼn sloot naby die ongelukstoneel tussen Bloemfontein en Bultfontein gevind. Hy is kort daarna met sy eienaar, Suné Roux (22), herenig.

Roux vertel aan Maroela Media sy en die 18 maande oue Benedict het die naweek by haar ouers op Stilfontein in Noordwes gekuier en was Maandagoggend op pad terug Bloemfontein toe waar sy nou woon en werk.

Omstreeks 10:20 het Roux op die R700 gery toe ʼn bok voor haar bakkie ingespring het. Sy het beheer oor die voertuig verloor en die bakkie het gerol.

Suné Roux en haar geliefde Benedict is na die ongeluk herenig. (Foto: Verskaf)

Toe die voertuig tot stilstand kom, het Roux onmiddellik besef Benedict het uitgeval. “Ek was seker so 15 minute in die voertuig vasgekeer tot een van die plaaslike boere my te hulp gesnel het. Die eerste ding wat ek gevra het toe mense daar aankom, was ‘Waar is my hond?’. Ek wou net weet of hy oukei is,” sê sy.

Benedict was egter nêrens op die ongelukstoneel te vind nie.

Roux is hospitaal toe geneem waar sy onder narkose geplaas is om haar ontwrigte skouer terug in sy plek te sit. Intussen het haar suster ʼn inskrywing op Facebook geplaas om te vertel wat gebeur het en mense te vra om op die uitkyk vir Benedict te wees.

Wian Venter, ʼn boer van die distrik, het gehoor dat Benedict vermis word en het na hom begin soek. Hy het uiteindelik gisteroggend net ná 08:00 vir Benedict naby die ongelukstoneel sowat 10 km buite Bultfontein gevind. Hy het met Roux se suster kontak gemaak en Roux, wat tans by haar ouers op Stilfontein aansterk, is kort daarna met haar geliefde Benedict herenig.

Wian Venter het vir Benedict gevind. (Foto: Verskaf)

“Ek was ongelooflik verlig toe ek hoor hy is gevind. Ek het vir Benedict gekry toe hy net ses weke oud was en is verskriklik erg oor hom,” sê sy.

Roux sê dat Benedict nie in die ongeluk seergekry het nie, maar wel baie getraumatiseerd is. “Hy is baie geheg aan my, loop oral agter my aan en slaap baie. So, ek kan sien die ongeluk het hom erg geraak.”

Sy sê sy en Benedict sal vir die volgende twee weke net rustig by haar ouers se huis wees en van hul beproewing herstel. Roux se bakkie is in die ongeluk afgeskryf.

“My skouer is redelik opgeneuk en dokters sê daar is ʼn kans dat hulle dalk later sal moet opereer. Maar dit kon beslis baie erger gewees het. Ek is net dankbaar ek en Benedict is oukei.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Anni ·

Wonderlik dat Benedict terug gevind is. Hoop nou as Wian ni getroud of in verhouding is ni. Dat hy en sunè dalk verlief raak.

Mariet Landman ·

Ai toggie Anni, dit sal nou ‘n wonderlike draai maak in die storie. Lekker om goeie nuus te sien wat mens se geloof in jou medemens versterk.

Alta Williams ·

So lekker om ‘n storie met’ n gelukkige einde te lees… Sterkte met die Herstel proses.. so bly jou Hondekind is weer aan jou sy❤️❤️

George ·

Sune baie dankbaar saam met jou. Kan jy dink die GROOT DANKBAARHEID van Benedict teenoor Wian? As hy maar net kon praat, maar die gesiggie wys alles!

Wilma Venter ·

Baie baie dankie dat jy na Ben gaan soek het, en hom herenig het met sy mens-mamma…. ons diere is vir ons baie baie kosbaar. Geseënd is jy, Wian

Erika ·

Fantasties!! Ek is soooo bly jou hondekind is terug en veilig….Dankbaar hy het nie seergekry nie… Dankie Wian jy is ‘n ster!

jAN ·

mooi storie . benedict het op ongeluks toneel gewag vir hulp …

Sons ·

Wat n mooi storie, ek wou amper huil van vreugde. So bly benedict is gevind en dat hy en sy baas herenig is. Sterkte vir altwee.

Pieter du plessis ·

N baie positiewe gebaar ,ons moet teruggaan in tyd en weer vir mekaar begin omgee.

Meermin ·

Ek stem saam met jou Pieter du Plessis, ons moet teruggaan in tyd, en regtig begin omgee vir mekaar.

Baie mooi gebaar, so bly hierdie prag woef en sy nooi is bymekaar, dankie aan hierdie boer wat hierdie prag woef gevind het, en terug besorg het.

Boerin ·

So mooi storie…dankie Wian!! Jy het n mooi hart…en Sune,word gou gesond !

Pieter ·

Dankie Wian, vir jou moeite om na Benedict te gaan soek! Al het jy en Suné ‘per ongeluk’ ontmoet, dink ek julle gaan goeie vriende word want julle het iets besonders in gemeen met jul liefde vir diere.

Esme ·

Ek kan haar vreugde verstaan.. Ons het ook ‘n labrador, wat eintlik dink hy is ‘n mens, en en net so geheg aan my dogter.. Ons dierekinders is vir ons kosbaar.. al verstaan alle mense dit nie…

Charlene ·

Baie baie dankie Wian vir jou omgee. Ek het sommer emosioneel geraak toe ek die berig lees. Ek kan sien God se hand het hier gewerk. Alle sterkte Suné. Julle moet gou gesond word

Wian Venter is ware Held!! ·

Baie Dankie vir jou opregtheid..om na Sune se hond te gaan soek het..jy het vandag my en baie ander mense se lewens aangeraak en laat verander in hierdie verskriklike negatiewe era wat ons onself in bevind!! Ware Held en bewys van jou opregtheid teenoor mens en dier!!

lee ·

Wat ‘n awesome storie – met ‘n gelukkige einde !
Ek is só dankbaar dat die woef oukei is (en natuurlik sy nooi ook)
Ek is nou maar net eenmaal ‘n sucker vir diere-veral honne.
My hart breek in stukke as diere seer kry of mishandel of verwaarloos word.
As kind wou ek bitter graag ‘n veearts word – maar dit was my ongelukkig nie beskore nie.
Lank lewe die mense se BESTE vriend !!

Jane ·

BESTE NUUS, baie dankie vir ‘n wonderlike positiewe boodskap … so bly vir julle. Sterk gou aan.

Annamarie Olivier ·

Ek het gehuil! Dit is wonderlik ons is so uitgehonger vir positiewe stories.
Die mens se beste vriend.

Annelize ·

Arme hondekind! Daardie gesiggie tussen die grasse in die sloot spreek boekdele, het sommer trane in my oe. En slim genoeg om by die toneel te gaan wag.

Baie dankie aan Wian wat na Benedict gaan soek het. Mense soos jy skop mens nie deesdae meer agter elke bos uit nie, ons land kan doen met meer mense soos jy. Sterkte aan Benedict en “mamma” Sune, hoop julle albei herstel sommer gou van julle beproewing.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.