Vrou gryp ‘tweede kans’ ná gru-ongeluk

Karlien Coetzer (Foto: Verskaf)

Karlien Coetzer (48), ʼn prokureur van Edenvale in Gauteng, moes haarself ná ʼn ernstige motorongeluk in haar 20’s weer leer loop nadat sy haar rug gebreek het. Vandag is sy ʼn adrenalienvraat wat al tientalle marathons gehardloop het.

Coetzer was in haar laat 20’s op pad om vir vriende in Botswana te gaan kuier, toe die bestuurder beheer oor die voertuig verloor het. Coetzer het in die bak van die bakkie lê en slaap toe die ongeluk plaasgevind het. Die bakkie het gerol wat veroorsaak het dat die kappie afgekom het en Coetzer is by die voertuig uitgeslinger.

“Ek het op my sitvlak beland, en ʼn domino-effek het toe plaasgevind in my rugwerwels in. Die een werwel het seergekry, toe die ander een en toe die ander, al die pad tot by my skedel,” het Coetzer aan Maroela Media gesê.

Afgesien van Coetzer se rugbesering het sy ook onder meer albei bene, ribbes, neus en sleutelbeen gebreek.

“Ons het gehoop en bid dat iemand op die pad verby sou kom, want Botswana kan mos maar verlate wees. Maar daar het darem redelik gou ʼn wildbewaarder verbygekom wat ons gehelp het.”

Coetzer is eers na ʼn kliniek in Francistown geneem en toe verskuif na ʼn hospitaal in Orapa. Van daar af is sy per helikopter terug na Suid-Afrika gebring waar sy vir twee maande in die hospitaal moes bly.

“Ek moes 175 steke kry weens al die snye wat ek in die ongeluk opgedoen het. Die dokters was stomgeslaan dat ek dit oorleef het. Hulle het dikwels vir my gesê ek moes medies gesproke nie gelewe het ná alles wat ek deurgemaak het nie,” het sy gesê.

Coetzer kon ná die ongeluk nie behoorlik loop nie en moes weer van voor af leer.

“My ma het my na ʼn winkelsentrum toe geneem en my van bankie na bankie laat oefen om weer te loop. Ek het só gehuil, want ek kon dit nie doen nie. Ek kon dit nie eens om die blok haal nie.”

Coetzer se ma is ook die een wat haar ná die ongeluk aangemoedig het om te begin draf.

“‘Ons gaan nie nou sit en wag om dood te gaan nie,’ het my ma gesê. Sy het gesê ek kan nie net op ʼn hopie sit oor wat gebeur het nie, ek moet aangaan met my lewe. Dis toe dat ek begin hardloop het. Ek het so twee jaar ná die ongeluk die Two Oceans Marathon gedoen. Ek het die afsnytyd misgeloop, maar dit is waar die gogga gebyt het,” vertel sy.

“Volgende jaar is die 11de jaar dat ek die Comrades doen. Vanjaar het ek besluit om die Kalahari Augrabies Extreme Marathon (KAEM) ook te doen. Ek wou net kyk of ek dit regtig kan doen, en ek het!”

Die KAEM is ’n selfvoorsiende marathon wat oor 250 km en sewe dae strek en plaasvind in die Kalahariwoestyn in ekstreme omstandighede. Selfvoorsien beteken dat atlete al hul eie voorrade moet saamdra in die wedloop, onder meer kos, klere, toiletware en ʼn slaapsak.

Coetzer sê die ongeluk het haar lewe heeltemal verander.

“As jy daar in die hospitaal lê, weet jy nie regtig hoe erg dit is nie. Ek is bly die dokters het vir my gesê dat ek eintlik dood moes gewees het met my beserings, want dit het my laat besef wat ek het,” sê sy.

“My man sê altyd vir my daar is niks waarvoor ek nou bang is nie. Voorheen sou ek nie wou bergklim of valskerm spring nie. As dit nie vir die ongeluk was nie, sou my menswees nie so verander het nie. As jy eers een keer deur die dood in die gesig gestaar is, wil jy nie hierdie soort goed laat verbygaan nie.”

Sy doen juis ekstreme sport omdat die moontlikheid bestaan het dat sy dit nooit sal kan doen nie. “As dit nie vir die ongeluk was nie, sou ek nie begin hardloop het nie. Maar nou hardloop ek , want jy weet nie of jy dalk weer ’n kans gaan kry nie.”

Coetzer het gesê dit voel vir haar of sy ʼn tweede kans op die lewe gekry het, en nou wil sy alles beproef.

“Hoe meer ek doen, hoe meer van die lewe kry ek. Ek het ʼn tweede kans en nou probeer ek alles. Jy weet nooit, jy gaan dalk nie weer die kans kry nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Karien ·

Karlien, jy is sowaar vir elkeen van ons ‘couch potatoes’ ‘n inspirasie! Ek haal my hoed af vir jou. Welgedaan!

Abe ·

Wat ‘n mooi inspirerende storie. Mag jy en jou gesin nog baie sukses en vreugde saam geniet…ons bewonder jou!

Abe ·

Maroela,
Baie dankie aan julle vir die deeglike gedetaileerde verhaal van Karlien. So’n inspirasie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.