Vrou leer dowe Yorkie reageer op gebaretaal

Carla Bester en haar Yorkie, Yogi. (Foto: Verskaf)

Carla Bester en haar Yorkie, Yogi. (Foto: Verskaf)

Carla Bester, ʼn 23-jarige student in sielkunde en gebaretaal van Bloemfontein, het ʼn diep passie vir gebaretaal. Nié net om dit vir mense aan te leer nie, maar ook om dowe honde te leer om op gebaretaal te reageer.

Sy vertel sy het Yogi, ʼn dowe Yorkie, as agt weke oue hondjie in Desember op haar verjaarsdag as verrassing gekry nadat sy maande lank na ʼn dowe hondjie gesoek en uiteindelik moed opgegee het.

“Ek het vroeër van ʼn groter beeshond gehoor wat doof is, maar ons woon op ʼn klein erf en ek kon dit nie oor my hart kry om so ʼn groot, energieke hond in ons erf vas te keer nie. So ʼn groot, dowe hond moet ook heeltyd by ʼn mens wees omdat hy nie kan hoor nie,” verduidelik sy.

Uiteindelik het ʼn vrou van Rustenburg met Bester se ma, Sandra, deur middel van Facebook kontak gemaak en gevra of hulle sou belangstel in ʼn dowe Yorkie. “Dit was in November, en my ma het dit toe vir my geheim gehou sodat hulle my op my verjaarsdag kon verras met die nuwe baba. Ek was uit my vel toe ek die klein hondjie kry! Hy was piepklein en het in my hand gepas.”

Yogi is nou amper drie maande oud. “Ek het hom van dag een af die gebaar geleer vir as hy ʼn draai wil gaan loop. Ek het hom buitentoe geneem en sodra hy sy ding gedoen het, het ek die gebaar vir hom gewys totdat hy dit geleer het. Ek het dieselfde gedoen met sy kos, en hom geleer hy moet eers sit voordat hy sy kos mag eet.”

Die skattige Yorkie, Yogi. (Foto: Verskaf)

Die skattige Yorkie, Yogi. (Foto: Verskaf)

Bester vertel sy leer hom ook om te reageer as sy sy naam met haar hande wys en leer ook haar eie naam vir hom. “Ek leer hom ook die gebaar vir soen. Ek wys vir hom hy moet my soen, dan lek hy my op die wang. Dit is net as hy nie te spelerig is nie, anders wil hy dit nie doen nie,” lag sy.

Hy weet ook wanneer hy moet gaan slaap. “In die aande wys ek hom die gebaar vir slaap, dan weet hy sommer hy moet gaan lê.”

Sy vertel laggend dat Yogi baie hard kan blaf, maar dat sy hom ook deur gebaretaal leer om stil te bly. “Ek hou net sy mond toe, ek knyp dit darem nie toe nie, en dan wys ek net vir hom hy moenie blaf nie.”

Sy voeg by sy kan uiteraard nie ʼn dowe hond roep nie en daarom gebruik sy ʼn rooi speelgoedlaser om Yogi se aandag te kry. “As hy nie vir my kyk nie, mis hy alles. So, ek skyn die laser voor hom en dan draai ek hom om na my toe. Hy kyk dan dadelik vir my hande, want hy weet ek gaan vir hom wys wat om te doen.”

Die gesin het nog twee Yorkies, Romeo en Hope, en hulle het ook ʼn blinde kat genaamd Tiggy. “Omdat ek die gebare saam met klank gebruik, leer die ander honde dit ook al aan, maar omdat hulle bietjie ouer is, gaan dit maar ietwat stadiger.”

Klein Yogi. (Foto: Verskaf)

Klein Yogi. (Foto: Verskaf)

Bester het in 2015 sielkunde studeer met gebaretaal as vak en is tans besig met haar honneursgraad aan die Universiteit van die Vrystaat. “Ek was binne die eerste maand van my kursus verlief op die taal. Ek kon nie wag om klas toe te gaan nie. Ek het kort daarna met dowe kinders begin werk. Sedertdien kry ek elke dag met dowes te doen en werk ook by ʼn kantoor met ʼn dowe assistent. Ek het nog baie projekte in gedagte wat gebaretaal behels en droom ook daarvan om ʼn skool vir dowe kinders in Bloemfontein op die been te bring.”

Sy het die idee om met honde deur gebaretaal te kommunikeer op ʼn YouTube-video gesien en wou graag haar eie dowe hond hê om haar studie mee te beoefen. “Ek en Yogi het nog nie so ver gevorder nie, want hy is nog baie jonk, maar ek wil kyk hoeveel ek hom nog kan leer. As ek sien die opleiding werk goed vir hom, gaan dit beslis vir horende honde ook werk. Ek dink daaraan om vir ander mense die gebare aan te leer sodat hulle ook hul honde op daardie manier kan dissiplineer.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

willem Botha ·

Yorkies is intelegente honde,baie liefdevol en elkeen het sy eie persoonlikheid. Ek wens die ” pitbull” eienaars wil eerder yorkies aanneem en ontslae raak van hulle moord masjiene.

logika ·

Daar is nie so ding soos n slegte of ‘moord masjien’ hond nie, net slegte eienaars

Iemand ·

Wat logika gesê het. Ons het ‘n pitbul gehad met die mooiste hart en liefde volste ogies. Hy was selfs bang vir sy eie stert. Nooit teen mens gespring of vir mens gegrom nie, nie eers geblaf nie, net sulke brom geluide gemaak as hy verveeld was. Net soos mense het honde ook persoonlikhede.

chantelle ·

Wens mense met die stigma van n pitbull is n moord masjien wil wakker skrik. weet julle dan nog nie dat die hond is soos die eienaar hom groot maak? enige large breed / power breed hond het opleiding nodig! en met dit geen probleme nie. onthou ook net n hond byt nie net omdat byt byt is nie. daar is altyd n rede!

Ronel ·

Willem, skrik wakker toe? My ma se poedel was wreder as my kastige moordmasjien.

Lizelda ·

Carla en Yogi hierdie is nou wat ek noem “n feel good story.” Wys jou net wat geduld, liefde kan vermag.xxx

Lizelda ·

Logika en Iemand vd een of ander rede wil MM nie my antwoord op Willem Botha se nare kommentaar publiseer nie. Maar ja ek stem saam met julle 2. Dis net n jammerte dat Willem nou die goeie positiewe storie wil versuur met sy lelike kommentaar. Of hy wil die aandag op hom he.

willem Botha ·

Ek vra verskoning jy is heeltemal reg ek is seker net so lief vir my yorkies as julle vir julle pitbulls.

Wannie ·

Wel gedaam Carla en Yogi dit is so ‘n pragtige storie en is so bly om sulke goeie nuus in die nuus te sien en nie net slegte nuus nie. Dankie vir dit………

Nettie ·

“Super sweetness”. Ek dink enige hond kan ‘gebaretaal’ aanleer – ek kan selfs my honde, sonder om verbaal te wees – ‘roep’, laat sit, lê ens. deur net ‘n handgebaar te maak.

Judge Dredd ·

Ja, Carla is baie oulik – die hondjie is ook nie te lelik ?

Bamsie ·

Wat n mooi storie en die res van die “gesin” is net so oulik. Daar is nie slegte honde, net slegte eienaars. Natuurlik gaan n groter hond se byt seeder maak as bv n yorki. Ek wonder of Willem nie ook dalk wil he die polisie moet hul honde ook met yorkies vervang nie.

Bamsie ·

Dit was die eerste storie wat ek gelees het. Dankie Mm. Willem moet die SAP nie ook eerder yorkies kry?

Blommie ·

Ek dink dis te oulik maar w graag weet hoe het oorspronklike eienaar/teler geweet die yorki is doof. Verneem graag daaroor.

Moppy ·

Ek stem volkome saam daars niks fout met honde ni maar net hoe di eienaar hul behandel en ook een groot probleem honde moet gesteriliseer word want hul hormone maak hul soms di probleem, dis soos n olifant wat aggresief word, ons het n dame wat honde klasse gee en sy het 3 pragtige German Sherpards – puppy school !! Wat honde baie goed ken en leer, Pittbulls is eintlik n baie beskermde dier teenoor sy eienaar en baie dierbaar en gehoorsaam dis soos my Doberman wat ek ook opgetel het en mooi geleer

NICKEY VAN NIEKERK ·

Daar bestaan nie so iets soos ‘n “lelike” hond nie.
Hulle het almal harte van goud. Gee hulle net liefde,aandag en kossies.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.