Vrou ná 13 jaar met familie herenig danksy weldoener

Anton saam met Sarah en haar familie (Foto: Verskaf)

ʼn Noord-Kaapse vrou wat al vir langer as 13 jaar sonder heenkome of ʼn inkomste die wind en weer op Kaapstad se strate aandurf en daagliks haar etes uit asblikke moes grawe, is dié maand vir die eerste keer in langer as ʼn dekade met haar familie in Prieska herenig.

Anton Oliver, ʼn klerk vir die Stad Kaapstad, sê hy het die 58-jarige Sarah ʼn paar maande gelede vir die eerste keer in sy straat in Goodwood in Kaapstad opgemerk.

Aanvanklik het Oliver eers net aan haar en die man saam met wie sy op die strate gewoon het kos gegee, maar daar was iets omtrent haar wat hom nuuskierig gelaat het: haar storie was nóg soortgelyk nóg verskillend aan dié van duisende ander op Suid-Afrikaanse strate; daar was iets aan haar verhaal wat hom bygebly het.

Sarah kon nie haar presiese ouderdom onthou nie. Oliver sê sy kon wel vertel dat sy van Prieska afkomstig is en so byna twee dekades gelede na Kaapstad verhuis het om as ʼn kombuiswerker te werk. Toe haar pa 13 jaar gelede dood is, het sy ná sy begrafnis gehoor dat sy nie meer werk het nie.

Sarah destyds op die straat in Goodwood (Foto: Verskaf)

Daar was sy gestrand in die Moederstad; sonder heenkome, sonder iemand wat bereid is om te help en sonder ʼn enkele sent op haar naam om terug te keer na Prieska. Haar enigste uitweg was die strate, het sy vertel, en as jy eers op straat is, raak niemand meer aan jou nie.

Dán is jou dae getel; alle hoop vir uitkoms verdwyn soos mis voor die son. Jy leef van dag tot dag, krap in asblikke vir kos en hoop om genoeg in jou maag te hê om die volgende dag te sien. Behalwe as ʼn weldoener jou ʼn kans gee – en dís presies wat met Sarah gebeur het.

“Ek het aanvanklik gedink Sarah en die man is getroud,” vertel Oliver. “Later sou sy vir my vertel dat hulle maar net saam rondbeweeg op die strate en vir die hitte ook saans saam slaap. Ek wou hulle eers help om dalk Sassa-toelae te kry, maar ek het ʼn behoefte gehad om haar meer te help as net ʼn bietjie geld.”

Oliver het ʼn Facebook-groep vir die Prieska-gemeenskap opgesoek en Sarah se storie hier gedeel. Ná 13 jaar kon sy presies onthou waar haar ouers gebly het en wat haar kinders se name was.

Weldoeners op dié blad het ondersoek ingestel, en vasgestel dat Sarah se ouers reeds albei oorlede is. Die huurders in haar ouers se huis kon haar egter in kontak sit met Sarah se skoondogter wat op haar beurt vertel het dat Sarah se seun ook dood is. Maar toe maak hulle ʼn plan en spoor Sarah se suster se nommer op en nou is dié vrou ná langer as ʼn dekade terug by die familie.

Sarah saam met haar geliefdes (Foto: Verskaf)

“Ek het haar verlede week sommer self Prieska toe geneem,” sê Oliver. “Ons het die nedersetting met polisie-begeleiding binnegery. Daar was soveel vreugde, maar ook baie hartseer. Sarah moes vrede maak met haar seun en ouers se afsterwe – dít nadat een van haar dogters in die Kaap dood is. Sy is egter net dankbaar om nou weer met familie herenig te wees; sy gaan vir tyd en wyl by haar skoondogter bly totdat die huurders uit haar ouerhuis trek.”

Weldoeners van Prieska én Kaapstad het in die laaste paar weke klere en kos aan Sarah geskenk sodat sy weer op haar voete kan kom. Sarah is glo besig om aan te sterk en net dankbaar om weer saam met haar geliefdes te wees.

Oliver wil ander ook nou aanmoedig om met ʼn klein gebaar ʼn ander persoon se lewe aan te raak. As jy in kontak met hom wil tree, stuur ʼn e-pos aan [email protected].

Anton en Sarah (Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Blue Butterfly ·

Fantastiese positiewe storie. Welgedaan aan Anton dat hy so ‘n omgee-mens is.

Noordkaper ·

Dankie Anton, ons het meer mense soos jy nodig in ons land. Laat jy somer n warm gevoel in my hart.

Hannatjie ·

Hoe goed om ‘n slag ‘n positiewe storie te hoor. Knap gedaan Anton. Kom ons probeer elkeen om minstens een persoon van die straat af te help.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.