Vrou samel 50 000L water in een dag in vir boere

Watertenks vir Noordwes ter illustrasie. Foto: African News Agency

Watertenks vir Noordwes ter illustrasie. Foto: African News Agency

ʼn Vrou van Pretoria het vandeesweek ʼn trok met ongeveer 50 000L water na behoeftige boere in die Vrystaat gestuur.

Mariska Pretorius, ʼn klerk by ʼn verskaffingsmaatskappy, is oorval deur oproepe van mense wat wil help ná sy in ʼn Facebook-inskrywing gepleit het vir waterskenkings vir die Vrystaat.

Sy het Maroela Media Maandag vertel sy het nog net 20 5L bottels water bymekaargemaak. Ná haar pleitdooi wyd op sosiale media gedeel is, het sy ongeveer skenking van 50 000L water ontvang.

“Dit is absoluut oorweldigend. Dieselfde dag wat die storie gedeel is, is ek oorval met oproepe en e-posse. Ek kon amper nie eers by my erf inkom nie, want die water het die plek vol gestaan” het sy gesê.

ʼn Anonieme man het haar gebel en nog ʼn trok gestuur om die water op te laai omdat die skenkings te veel was vir die trok wat sy sou gebruik.

Mariska kry steeds baie oproepe en vanoggend het Shoprite gebel. “Die kettingwinkel het my gebel en nog ʼn trok aangebied. As ek genoeg water bymekaar kan kry, kan ons weer water na die Vrystaat stuur.”

Intussen het die ATKV besluit om op nasionale vlak en by hul onderskeie takke in te spring om hulp te verleen aan mense in droogtegebiede.

“Ons het groot waardering vir die rol wat boere speel in die verskaffing van voedsel vir Suid-Afrikaners en daarom het die ATKV besluit om hul harte en beursies oop te maak. Die ATKV-groep het ʼn finansiële bydrae van R50 000 gemaak tot AGRI SA se noodfonds en op takvlak word water landwyd ingesamel wat na gebiede in nood versprei sal word,” het Japie Gouws, die besturende direkteur van die ATKV-groep, gesê.

Gouws het mense ook aangemoedig om by AGRI se Hoop Gras-projek betrokke te raak. Dié projek is van stapel gestuur om boere te ondersteun met voer vir hul vee. Die doel van die projek is om die gesnyde gras by huise en ondernemings in te samel en dit aan boere te skenk as voer. Die gras word verwerk en verpak voordat dit onder boere versprei word.

Indien jy waterskenkings wil maak, bel Mariska Pretorius by 081 712 1822 of e-pos haar by [email protected]

As jy wil betrokke raak by die Hoop Gras-projek of skenkings oorweeg, bel die ATKV se kantoor by 083 696 0007 vir inligting oor versamelpunte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Lorna van Wyk ·

Nou wonder ek waar is die besighede wat kontrakte het met die munisipaliteite. Kan hulle nie die gras langs die hoofwee en oop velde sny en baal sodat dit aangery kan word nie? Daar is soveel oop stukke grond waar die gras knieghoogte staan? Kyk maar net die oop grond tussen Pta en Midrand

Amalia Lizemore ·

Ons is op ‘n plot met boorgat en baie ander het boorgate. Ons sal graag wil help.

charmaine ·

Dit is wonderlik om te sien hoe mense help ek kry trane in my oe. Ons boere is ook behoeftig in hierdie droogte tyd. Mag die sluise weer oopgaan oor die gebiede waar dit baie nodig is.

Theresa ·

Dankie aan die dame met inisiatief en dryfkrag om die Boere te help wat so deur trauma gaan om te oorleef en om kos op die tafel te sit – bravo!!
Dankie vir AgriSA vir jul inisiatief – altyd ‘n staatmaker – dankie, dankie, dankie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.