Vrou se droom word waar toe boekwinkel haar deurnag toesluit

Carina (Foto: Facebook)

ʼn 60-jarige vrou van Kempton Park in Gauteng se grootste droom het waar geword toe sy onlangs ʼn hele nag in ʼn Exclusive Books-winkel deurgebring het – ʼn wens wat al etlike jare op haar emmerlysie is.

Carina Greyling, wat Sondag 60 jaar oud geword het, het Dinsdag aan Maroela Media gesê dié ervaring was waarskynlik “die wonderlikste” belewenis nóg in haar lewe.

Greyling vertel sy verwys al jare lank spottenderwys na haar grootste droom as juis dié ervaring: om ʼn hele nag tussen hordes boekrakke in ʼn boekwinkel opgesluit te wees en soveel boeke moontlik te lees.

Sy het egter nooit gedink dat dié droom bewaarheid sou word nie. “Ek kan vir niemand beskryf watter groot droom vir my waar geword het nie. Dit was ʼn totaal onbeskryflike ervaring en ek kan steeds nie glo dat dit verwesenlik is nie,” vertel sy.

Carina saam met haar man en dogter (Foto: Facebook)

Volgens Greyling het haar vier kinders haar die dag voor haar verjaarsdag bederf met ʼn daguitstappie na ʼn spa. Hulle het weer Sondag met ʼn groot koek en geskenke by haar opgedaag, maar gesê dat hulle later sou terugkeer.

“Ek het gedink dit was baie spesiaal en dat my verjaarsdag nou verby is. My dogters het egter gesê hulle het vir my nuwe klere gekoop en wil my kom grimeer dat ons kan gaan uiteet. Ek het gesê: ‘Maar my klere is dan oukei!’ En toe sê hulle net: ‘Ons wil dit vir jou spesiaal maak.’ Ons het gaan uiteet by die wonderlikste restaurant waar die kos opgedaag het binne twee minute nadat ons gaan sit het. Die hele tyd het ek nie een oomblik onraad vermoed nie.”

Sy was onder die indruk dat hulle daarna huis toe sou gaan, maar haar kinders het met haar na die Hyde Park-winkelsentrum gery. “Ek was só verbaas, ek het gevra: ‘Wat maak ons nou hier?’ Toe sê hulle: ‘Ons het vir jou ʼn geskenkbewys gekoop en ons gaan nou vir jou ʼn boek koop.’ Toe sê ek: ‘Maar dis mos al laat – die plek gaan nie oop wees nie.’ Hulle het my verseker dat dié boekwinkel tot laat oop is; en kyk, jy hoef my nie twee keer te nooi om na ʼn boekwinkel te gaan nie, om die waarheid te sê, jy kry my nie weer uit nie.”

Met haar aankoms by die boekwinkel is sy deur die bestuur verwelkom. ʼn Tydelike kamer met ʼn bed, lekkernye en vars koffie is vir haar voorberei sodat sy en haar dogter in die boekwinkel kon uitspan.

Die bed in die boekwinkel (Foto: Facebook)

“My kinders het net gesê: ‘Jy is nie hier om ʼn boek te koop nie – jy is hier om te bly!’ Ek kon nie glo dat ek so bevoorreg was nie. Die mooiste bed is vir my reggemaak met die sagste linne en kussings. Ek het egter nie té lank op die bed deurgebring nie; die oomblik dat alles ingesink het, het ek deur die rakke en rakke boeke geloop en met vragte boeke na my stoel teruggekeer. Ek het dadelik boeke van Kathy Reichs en James Patterson nadergetrek, ek wou hulle almal sommer in een aand klaar lees.

“Ek het nooit gedink dat ek só iets kan doen nie. Ek kyk vandag daarop terug en is ontsettend dankbaar vir al die moeite wat almal ingesit het om dié droom te bewaarheid; dis ʼn ervaring wat ek nooit sal vergeet nie.”

Benjamin Trisk, uitvoerende hoof van Exclusive Books, sê dié maatskappy het besluit om Greyling se wens te bewaarheid omdat dit in ooreenstemming is met hul handelsmerk.

“Ons het onder meer al mense gehelp om die jawoord te vra. Ons kon nie Carina se verjaarsdagwens van die hand wys nie – veral omdat ek en sy dieselfde verjaarsdag deel. Ons het alles verskaf wat sy nodig gehad het om gemaklik te wees terwyl sy haar droom uitleef, en ons glo dat dit alles is waaroor sy nog altyd gedroom het.”

Greyling het buiten dié geskenk ʼn R1 000-geskenkbewys ontvang om by Exclusive Books haar gunstelingboeke te koop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Nakkie ·

Dis nou ‘n pragtige gebaar en ‘n heerlike verjaarsdag! Mag ek ook eendag so bevoorreg wees.

Johan ·

Moet erken ek beny haar dat haar kinders haar so heerlik bederf het. Ek word ook die einde van die maand 60 maar dink nie eers my kinders weet dit nie, Is gelukkig as hulle onthou ek verjaar

AP ·

Dit is baie hartseer Johan, ek hoop van harte dat hulle aan jou sal dink hierdie jaar, ek word vanuit NZ en hier baie bederf op my verjaarsdae.

Vicky ·

Ai Johan, my hart is sommer seer vir jou. Ek wens weer so dat my ouers nader aan my bly. Baie sterkte. Mag jou verjaardag vir jou hierdie jaar die spesiaalste en mooiste een wees.

LB S ·

Dan sê sommer almal van ons “vriende” hier op die kommentaarblaaie vir jou VEELS GELUK, JOHAN, mag jy net vreugde en gesondheid ervaar. ♥

Gisela van Reenen ·

Ag, ek het gedink hulle het haar per ongeluk daar toegesluit. Dit sou nou vir jou ‘n ding gewees het!

wow! ·

Beste geskenk OOIT! Boeke, boeke, boeke en nogmaals boeke! Wens ek kan vir 2 weke in ‘n boekwinkel toegesluit word. Of stuur my na ‘n onbewoonde eiland met net genoeg vars vrugte, water, sjokolade en boeke, boeke, boeke!!! Vir altyd!

A simple man ·

Kathy Reich en James Patterson. Goeie smaak. Man ek skoon jaloers.
Bly jy so bederf.

fm ·

Pragtig en wonderlik. Dit is lekker om iets goeds te lees. Gelukkige verjaarsdag.

Bettie Theron ·

Dis elke boekliefhebber se droom! Bedagsame kinders.

Aangedaan ·

Ek is skoon in trane… Dis ongelooflik hoe goed die man en kinders vir hul ma was/is. Die bedagsaamheid en omgee is verbysterend. Dis LEKKER om vir eens ‘n mooi storie met ‘n gelukkige einde te lees. Mag die man en kinders.. EN die vrou.. Geseënd wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.