Vrou se gunstelingdosent toe boonop haar suster

Karen Cometa-Zempel het eers 30 jaar later uitgevind haar suster was toe al die tyd een van die studente in haar klas. Foto: Facebook

Karen Cometa-Zempel het eers 30 jaar later uitgevind haar suster was toe al die tyd een van die studente in haar klas. Foto: Facebook

ʼn Amerikaanse vrou se soektog na haar lang verlore suster het op ʼn verrassende wyse tot ʼn einde gekom toe sy vasstel haar suster is niemand anders nie as haar gunstelingdosent.

Fox 13 berig Diane DiProspero Cook was in 1985 ʼn student aan Bryant and Stratton College in New York waar sy ʼn klas bygewoon het wat deur Karen Cometa-Zempel aangebied is. Die twee vroue het geen benul gehad dat hulle eintlik familie van mekaar is nie, maar het baie goed oor die weg gekom.

Albei is as kinders aangeneem en het in New York grootgeword. Eers toe hulle verlede maand, 30 jaar ná hul eerste ontmoeting, elkeen ʼn brief met dié inligting van die New Yorkse aannemingsagentskap ontvang het, het hulle besef dat hulle susters is.

DiProspero Cook het aan ABC News vertel dat sy verbaas is oor al die klein goedjies wat sy en haar suster gemeen het, soos dat albei linkshandig is, na ʼn Katolieke skool toe gegaan het en as versorgers vir bejaarde familielede gedien het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.