Vrou se storie van seer, hoop lei tot verkragtingsbystand in dorp

Santi Britz. (Foto: iDUC/Facebook)

Santi Britz, ʼn jarelange inwoner van Potchefstroom, is jare gelede in haar eie huis verkrag. Iets wat ʼn uiters traumatiese ervaring in haar eie lewe was, het haar uiteindelik geïnspireer om ʼn lewensboei vir verkragtingslagoffers in dié studentedorp te word.

Tydens die wreedaardige aanval, was Santi se man in die intensiewe sorgeenheid met kanker, terwyl haar kinders by die Noordwes-Universiteit studeer het.

“Toe gebeur hierdie verskriklike ding,” onthou sy.

“Ek het besef dat so iets nie net met een persoon gebeur nie. Die hele gesin word daardeur geraak.”

Sy vergelyk dit met ʼn oorlog, die hele gesin word lamgelê.

En toe kry Santi ʼn rubbereend.

Sy het dié badspeelding vier dae ná die verkragting by ʼn student geskenk gekry. Vreemd, het sy gedink, wat sou sy dan daarmee maak?

(Foto: iDUC/Facebook)

Tog het die ou eendjie ʼn mate van vriendskap gebied. ʼn Baken van geborgenheid wanneer die eensaamheid van haar traumatiese ervaring snags by haar gespook het.

Hy het vir lank op haar bedkassie gestaan. Tot die dag wat sy hom nie meer nodig gehad het nie.

“Laat daardie platbek-eend nou soveel vir my kon beteken.”

Santi was verbyster om die ware nagevolge van verkragtig te ervaar. Sy het besef dat die pad wat ʼn slagoffer van verkragting stap, een is wat die traumatiese ervaring herhaaldelik herroep. Elke toets, elke stap van die regsproses dwing die slagoffer om een van die slegste dae van hul lewens oor en oor te herleef.

“En dit raak mens se diepste menswees.”

Op ʼn dag het Santi ʼn oproep ontvang wat haar skielik teruggeruk het tot die dag waarop die vreemde man in haar eie huis ingestap het. ʼn Ma van ʼn nabygeleë gemeenskap is in haar huis verkrag, en haar dogtertjie het dit gesien gebeur.

Daar was min bewyse teen dié verkragter, die getuienis van die dogtertjie was noodsaaklik vir die hofsaak om tot ʼn einde te kom. Die dogtertjie was egter tjoepstil – haar trauma het haar tot stilswye gedwing.

Santi is gevra om met die dogtertjie te kom praat, die polisiebeamptes en maatskaplike beraders het haar en haar storie goed geken. Hulle het geweet dat haar empatiese blik en aanslag die sleutel sou wees om dié dogtertjie se stilswye te verbreek.

“Ek wou nie. Ek het geweier,” onthou Santi, wat op daardie tydstip nie haar eie trauma wou opdelf nie.

Tog het die dogtertjie se storie by haar gespook, en sy het geweet wat sy moes doen. Die rubbereend wat soveel vertroosting vir haar in tye van nood en eensaamheid gebied het, sou eindelik die deurbraak vir die dogtertjie ook wees.

Santi het die eendjie tydens haar ontmoeting met die kind saamgeneem. Dit was dalk iets wat haar sou kon bystaan, het sy gedink. Kort daarna het dié eendjie se vlerke van vriendskap die dogtertjie omarm, nes dit Santi omarm het.

Sy het haar hart uitgestort teenoor dié speelding, en toe ook eindelik die hof.

Santi het daar en dan geweet dat haar roeping in die bystand van verkragtingslagoffers was. Die Initiative for Dynamic Upliftment and Care (iDUC) is ʼn hartsprojek wat sy in Potchefstroom van stapel gestuur het om slagoffers van verkragting in die herstel- en regsproses by te staan. Daar word ook bewustheidsgesprekke en -veldtogte deur dié organisasie gefasiliteer.

Daardie eenvoudige speelding, wat eens die eensame pad van trauma saam met Santi gestap het, word nou in die naam en embleem van die organisasie verteenwoordig.

Met dié projek hoop Santi om volhoubare verkragtingsbystand in dié studentedorp te bied.

Daar staan tans ʼn gebou op die Bult, een van die bekende gebiede in Potchefstroom, waar slagoffers van seksuele teistering en aanranding vir hulp kan kom aanklop.

Die iDUC-sentrum in Potchefstroom. (Foto: iDUC/Facebook)

Daar is ook paniekknoppies in elke kuierplek in die dorp geïnstalleer. Kelners en kroegmanne kan dit druk wanneer hulle iets sou waarneem wat nie pluis is nie. Dié knoppies is egter versteek om sodoende studente nie in die versoeking te lei om dit onnodig te druk nie.

Die proses nadat ʼn persoon verkrag is, is ook deur iDUC verbeter, om sodoende die herlewing van trauma te bekamp.

Sedert iDUC in 2022 in Potchefstroom begin werk het, en daar meer bewustheid in die dorp geskep is, is daar meer klagtes van verkragting ingedien, vertel Santi.

Slagoffers strek oor alle geslagte, mans ook, sê sy.

“Jy weet, dit vat ongelooflikheid moed van ʼn man om so ʼn aanval aan te meld.”

Verkragting is nie iets wat agter enkele mure skuil nie, vertel Santi. Dit kronkel deur menigte huise en gemeenskappe en raak verskillende mense in Suid-Afrika. ʼn Gebrek aan kennis is een van die grootste sondebokke.

Een van iDUC se doelstellings, is om bewustheid te skep en nie net onder vroue nie, maar onder mans ook.

“Jong mans besef nie wat die grense van toestemming is nie. Hulle besef nie dat iemand wat onder die invloed van alkohol is, nie toestemming kan gee nie,” vertel sy.

Sy fasiliteer gereeld bewustheidsgesprekke in manskoshuise in Potchefstroom, vertel sy. Sy benadruk dat jong meisies nie onverantwoordelike besluite moet neem nie, en dat versigtigheid aan die orde van die dag moet wees. Tog, wil sy daardie versigtigheid deur mans se gedagtes, dade en besluite ook laat vloei.

iDUC poog ook om die prosesse rondom verkragtingsgevalle te verander en te vergemaklik. Santi benadruk dat talle mense nie hul ervarings aanmeld nie, dat hulle verkies om dit self te hanteer en te verwerk weens die pad wat verkragtingsake gewoonlik loop.

“Ons moet die stem word vir die slagoffers wat weens die kultuur van verkragting nie hul aanvallers aankla nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.