Vrou skenk lappoppe vir slagoffers van geweldsmisdaad

As een van AfriForum se oudste lede het sy meer as 20 lappoppe, wat sy met groot liefde gemaak het, aan AfriForum geskenk. (Foto: Forum Nuus)

Tannie Agnes Meyer (94) van Pretoria se hande staan op haar rype ouderdom vir niks verkeerd nie.

As een van AfriForum se oudste lede het sy Vrydag meer as 20 lappoppe, wat sy met groot liefde gemaak het, aan die burgerregteorganisasie geskenk wat hulle traumaeenheid gaan gebruik in die ondersteuning van slagoffers van plaasaanvalle en ander geweldsmisdade.

Tannie Agnes doen feitlik haar hele lewe lank naaldwerk. Elke lappop is spesiaal met die mooiste rokkie, skoene en unieke haarstyl. Die ogies is verskillende kleure en word met akrielverf geverf.

Volgens Tannie Agnes hou sy haar met dié kunswerke besig “omdat dit vir my lekker is om ’n kind gelukkig te sien. Ek geniet naaldwerk baie. As ’n mens dit kan doen, is dit maklik.

“Ek maak ook eerder lappoppe omdat dit iets is wat mens darem kan sien. As jy kosmaak of ’n koek bak, is dit te gou verby,” lag sy.

Sy het nog al die jare ’n spesiale werkkamer in haar huis in Waterkloof waar sy duidelik presies weet waar elke tolletjie gare en lappie moet kom.

Die maak van die poppe neem nogal tyd. Hulle moet heel eerste uitgesny word en daarom doen sy sommer drie of vier op ’n slag. Daarna word sorgvuldig beplan hoe die hare, oë en rokkie en skoentjies gaan lyk.

Tannie Agnes het in Boksburg aan die Oos-Rand grootgeword, aan die destydse Onderwyskollege in Pretoria studeer en daarna by die Hoërskool Brandwag in Benoni skoolgehou.

“My gunsteling-vak was gimnastiek. Dit was baie lekker met geen nasienwerk nie,” spot sy.

Tannie Agnes het tot op 89 ook nog gholf en tennis gespeel.

Volgens haar dogter Linda Lochner het haar ma van kleins af hulle klere gemaak. Ook haar, haar suster en skoonsuster se trourokke. En sy maak ook nog rokkies vir haar kleinkinders. Sy het ook jare gelede ingegryp en die skooluniforms van Laerskool Anton van Wouw ontwerp wat leerders vandag nog dra.

Sy skryf haar goeie gesondheid daaraan toe dat sy nog altyd gesond geleef en nooit gedrink of gerook het nie. Sy was ook nog altyd iemand wat die positiewe en ligkant in enigiets kon raaksien.

Izel Kruger, kantoor- en projekbestuurder by die AfriForum Traumaeenheid, sê die lappoppe sal voor Kersfees ook aan dogtertjies in ’n kinderhuis geskenk word wat slagoffers van geweldsmisdaad was.

“Ons is ontsettend dankbaar vir hierdie gebaar en skenking van Tannie Agnes. Dit gaan ’n daadwerklike verskil maak in die werk wat ons doen en ’n bietjie vertroosting vir hierdie slagoffertjies bring.”

  • Hierdie artikel is met die vergunning van Forum Nuus geplaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Maroelafonteiner ·

Haar waarde is ver bo korale! Seënwense aan jou, Agnes. Doe zo voort!

Perdeby ·

Tannie Agnes tannie is ‘n ster duisend. Mag tannie nog lang geseënd word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.