Vrou sonder vingerafdrukke kry nuwe hoop

Sandra Horne (38), ʼn vrou van die Kaapse Vlakte, is met ʼn baie skaars veltoestand genaamd epidermolise gebore. Dié veltoestand veroorsaak dat die vel baie sensitief is en baie vinnig rofies vorm. As gevolg hiervan het Horne haar hele lewe lank nie vingerafdrukke nie.

Horne sê om nie vingerafdrukke te hê nie, gaan met ʼn klomp uitdagings gepaard. “Daar is baie plekke waar ʼn mens jou vingerafdruk nodig het, soos byvoorbeeld by die bank. Dit is ʼn groot probleem. Op die einde van die dag sukkel ek maar baie daarmee.”

Horne het verlede jaar aansoek gedoen vir ʼn ID-slimkaart by die departement van binnelandse sake, maar dit was onsuksesvol as gevolg van die afwesigheid van haar vingerafdrukke. Sy het wel later haar ID-slimkaart gekry nadat sy ʼn beëdigde verklaring ingedien het wat haar aansoek ondersteun, maar haar vingerafdrukke is steeds nie op die nasionale bevolkingsregister geberg nie.

Die IT-maatskappy Bytes Systems Integration het van Horne se situasie te hore gekom en was gretig om haar te help.

Hulle het nuwe tegnologie op haar getoets waarmee vingerafdrukke onder die veloppervlak gelees kan word deur middel van skandering.

“Die toets was suksesvol,” het Etienne Basson, projekbestuurder by Bytes Systems Integration, gesê. “Toe Sandra ingestem het om deel te neem aan die toetse, was ons verheug om te bewys dat sy wél vingerafdrukke het,” het hy gesê.

“Die feit dat die vingerafdruk-skandeerders “binne-in” jou vinger kan inkyk, maak dit baie gevorderd en uniek.” Dié spesiale tegnologie is deur HID Global verskaf.

Horne is opgewonde om nou vingerafdrukke te hê. Sy het grappenderwys gesê dat sy nou nie meer die ideale kandidaat vir die perfekte misdaad is nie, omdat sy nou geïdentifiseer kan word.

Horne het gesê sy hoop ander mense met veltoestande of ou mense wat ook nie meer vingerafdrukke het nie, kan nou sien dat daar wel hoop is.

“Ek is sekerlik nie die enigste persoon wat met dié probleem sit nie. Dit is baie ongerieflik, en jy moet iets aan die saak doen as jy ongelukkig is – jy weet nooit wanneer dit deure vir jou sal oopmaak nie. Daar is mense daar buite wat kan help, soos wat Bytes my nou gehelp het. Hulle kan nie wonderwerke verrig nie, maar hulle kan die probleem vir jou beter maak, en dít maak ʼn groot verskil,” het sy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Mariet D ·

My vriendin is ‘n pottebakker. Haar afdrukke kan ook nie gelees word nie. Met my hernuwing van my paspoort was daar ook mense wat gesukkel het sonder afdrukke.

Stella van Rhyn ·

Mense met psoriase ondervind dieselfde probleem. Geen vingerafdrukke nie.

Renette ·

My skoonpa kan nie sy PDP doen nie as gevolg van afwesige vingerafdrukke

Maria ·

My moeder het vinger afdrukke gehad toe sy jonk was maar nou 63 het geen vinger address nie…kan iemand die mense se info vir ons stuur sy moet ook gaan vir haar nuwe ID kaart … wil ook hê hul moet haar help…hoe kom mens met die mense in verbinding en hoe maak mens nou by Binnelandse Sake ? Kan Maroela Media dalk help

RH ·

Baie mense wat daagliks met hul hande harde werk doen, soos met bakstene werk en in die landerye werk met growwe materiale het GEEN vinger afdrukke nie. Het Baie kliente in die bank gehad met die probleem. Nie een vinger kon opgetel word op die biometrics nie. Weird maar waar.

Amanda ·

Ek het ook nie vingerdrukke nie weens n auto umuun probeem wat my hande aantas. Op my bestuur lisensie staan ‘no print’

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.