Vrou stap Camino vir sentrum vir gestremdes

Beit Bracha

Melinda du Plessis oefen vir die Camino de Santiago-roete. Foto: Verskaf

Melinda du Plessis, motiveringspreker en berader, gaan die Camino de Santiago aandurf om R250 000 in te samel vir Beit Bracha, ʼn rehabilitasiesentrum vir gestremdes in Worcester.

Melinda wil graag Beit Bracha ondersteun omdat dié sentrum soveel vir die Hexriviervallei-distrik se gestremdes beteken.

”Hulle (Beit Bracha) se maandelikse oorhoofse kostes om die hoogstaande diens te lewer is ‘n reuse bedrag, die inkomste rondom die helfte daarvan. Die eienaars het tot op hede die groot tekorte uit hul eie sak inbetaal, maar het dringend hulp nodig om dit voort te sit.”

Die gewildste Camino de Santiago-roete strek van Frankryk tot Spanje en Melinda beoog om die 800 km-roete in 40 dae te stap. “Ek vertrek 27 Augustus en begin September stap. Ek gee myself 45 dae, maar ek wil dit graag in 40 dae doen.”

Melinda is reeds besig om te oefen en stap nou al 18 km op ʼn keer. “Ek moet reg wees om ten minste 32 tot 35 km per dag te stap.”

Melinda het twee jaar gelede Kilimandjaro geklim saam met Sandra Wessels vir haar skooltjie, Moresterretjies vir hul kosprojek vir die kleuters. Sy hoop dat mense hierdie inisiatief ook sal ondersteun.

“Laetitia het so ‘n hart vir haar sentrum – nie almal is bereid om vir geen fooi met die menige gestremdes van Worcester te werk nie, van babas tot bejaardes. Die instansies wat hulle versorg kry minimaal of geen hulp van die staat nie, en kan dus nie betaal vir hierdie professionele diens vir hulle inwoners nie.”

Laetitia Hugo, fisioterapeut en eienaar van Beit Bracha Rehabilitasiesentrum, sê bewusmaking is broodnodig omdat hulle soveel pasiënte die nodige rehabilitasie kan gee. “Beit Bracha bied professionele behandeling van gehalte soos arbeids-, fisio- en spraakterapie aan mense uit alle vlakke van die samelewing en met alle soorte gestremdhede. Ons probeer sover moontlik selfonderhoudend bly. Tog bly dit ’n moeilik bereikbare ideaal, want 80 tot 90 persent van ons mense is behoeftig en het geen inkomste nie.”

Besoek gerus Beit Bracha se Facebook-blad of webwerf vir besonderhede oor hoe jy hierdie inisiatief kan ondersteun.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.