Vrou uiteindelik trotse student ná stryd teen bloedkanker

Sanchia van der Merwe (Foto: Facebook)

’n 31-jarige vrou van Port Elizabeth in die Oos-Kaap is uiteindelik ʼn trotse student nadat ’n bitter stryd teen bloedkanker haar van dié geleentheid van sorgelose studentejare beroof het.

Sanchia van der Merwe werk voltyds as ’n finansiële administrateur in die Baai, maar het besluit om BCom (Bestuursrekeningkunde) te studeer omdat sy nou uiteindelik kán. “Vir so lank kon ek nie studeer nie en het ek geen drome gehad nie. Ek het in daardie tyd ophou droom,” vertel sy.

Van Der Merwe is vandag, ’n dekade later, as eerstejaarstudent by Akademia ingeskryf nadat sy in 2008 op die ouderdom van 21 met leukemia gediagnoseer is.

Sy het Donderdag aan Maroela Media vertel dat sy graag ná skool wou gaan studeer, maar op die ouderdom van 18 begin siek voel het – min wetend dat sy kanker het. Sy het besluit om eers ’n brugjaar te neem en het ’n paar werkies gekry om besig te bly. Dit is in dié jaar dat sy al sieker geword het.

Van der Merwe het ’n niervergroeisel gehad, maar aanvanklik volstrek geweier om haar nier op haar jonge ouderdom te verwyder. Na talle nierstene het sy byna drie jaar later ingestem om dit op aanbeveling van haar dokter te doen. Van der Merwe moes egter ’n reeks medikasie drink voor dié operasie kon plaasvind.

Sy vertel dat sy al sieker en moeg begin voel het. Sy het ook maklik bloukolle begin kry. Sy was destyds nie daaroor bekommerd nie en het gedink het dat dit bloot ’n newe-effek van die medikasie was. “Ek was nie sommer net moeg nie. Dit was ’n anderste, onnatuurlike moegheid,” verduidelik sy.

Op haar 21ste verjaarsdagpartytjie het Van der Merwe bloed in haar mond geproe. Weereens het sy dit as niks afgemaak. Die kneusplekke het egter al erger geword en sy het op die ou end by ʼn dokter vir raad aangeklop wat haar aangeraai het om bloedtoetse te laat doen.

Haar dokter het teruggebel en my gevra om in te kom. “Hulle het selfs gesê dat hulle ’n ambulans sal stuur om my hospitaal toe te neem.” Sy vertel dat sy toe onraad vermoed het.

By haar aankoms by die spreekkamer het haar dokter ’n afspraak met ’n ander pasiënt kortgeknip om met haar te praat. Dit is toé dat sy besef iets is ernstig fout. Van der Merwe is gevolglik met leukemia gediagnoseer.

“Ek was stukkend,” sê sy.

Die dokters het reeds ʼn bed vir haar gereed gekry en toe die verdoemende nuus: Sy het na verwagting net drie weke oorgehad om te lewe. Sy is Kaap toe vir chemoterapie. Indien sy ’n klein kans op oorlewing wou hê, sou sy vir ’n jaar in die hospitaal moes bly vir behandeling.

Van der Merwe vertel dat haar kanker egter enkele weke later in remissie was. “Toe ek ontslaan is, het die dokter vir my gesê om te gaan leef asof ek 18 is. Hy het gevra wat ek sal wil doen op dié ouderdom en ek het geantwoord dat ek ’n rekenmeester wil word.”

Sy het ʼn verdere nege jaar as finansiële administrateur gewerk, maar nou is dit tyd dat sy die kwalifikasie agter haar naam wil kry. Van der Merwe is tans besig met die eerste ronde eksamens van haar eerstejaar. “Ek wil nie daaroor praat nie,” skerts sy. Van der Merwe spog met ’n jaarpunt van 87%, maar is die afgelope tyd onder druk aangesien haar ma ook onlangs met leukemia gediagnoseer is.

Sy erken dat dit ’n uitdaging is om op 31 te studeer. “Dit vat baie fokus. Jy raak lui oor die jare en dis moeilik om weer daardie dissipline aan te leer.” Sy vertel dat dit ook nie maklik is om voltyds te werk en in die aande klas te draf en te studeer nie.

“Gelukkig begryp ek ’n konsep maklik. Die studies is ook maklik, want dis klaar deel van my werk,” verduidelik sy. Sy erken dat praktyk en teorie egter nie dieselfde ding is nie en sy nou nuwe dinge leer wat sy in haar werk toepas.

Van der Merwe sal oor vier jaar haar kwalifikasie verwerf. “Ek doen reeds my droomwerk. Maar ek wil my graad hê. Dít is die droom.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Anoniem ·

Ek bid vir jou en jou ma. Om dankie te sê vir jou, en om asseblief te vra vir jou ma.

Sanchia van der Merwe ·

Dit is baie gaaf, baie dankie! Dit beteken regtig baie vir my!

LB S ·

Sanchia, ek het ook Leukemia, (CLL), maar was nooit eers siek nie, nie eers deur chemo behandeling nie, en nou in remissie al vir 4 jaar. Dit was toevallig ontdek met ‘n bloedtoets toe ek vir ‘n knie-operasie sou gaan. Ek is 67 en vertel vir almal ek gaan nog ten minste 85 sien! Bly positief, vir jou en vir jou Ma, want die behandeling vandag is al baie goed en kan ons kanker soms lank beheer word en jy ‘n normale lewe hê.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.