Vrou verloor 60 kg: ‘Ek wou lewe vir my seun’

Carol du Preez het byna 60 kg afgeskud. (Foto: Verskaf)

Carol du Preez, ʼn 30-jarige eiendomsverhuurder van Wolmaransstad in Noordwes, het in Oktober verlede jaar een oggend uit die bed uit opgestaan en besluit dit is die dag waarop sy haar gewigsverliesreis gaan begin.

Du Preez, wat die skaal destyds op 160 kg laat kreun het, sê aan Maroela Media die gesondheidsprobleme wat met dié gewig gepaard gegaan het, was hoofsaaklik haar motivering om gewig te verloor.

Bipolêre gemoedsversteuring, slaaploosheid, hoë bloeddruk en insulienweerstandigheid is onder meer by haar gediagnoseer en sy ly ook aan oorerflike cholesterolprobleme.

Du Preez vertel sy is geskei en het haar pa en twee oupas in een jaar verloor. Dit het bygedra tot haar gewigstoename aangesien sy geëet het wanneer sy emosioneel gevoel het.

“Ek het elke dag 25 pille gedrink net om deur die dag te kom. Ek het net besef ek kan nie meer só aangaan nie.”

Haar negejarige seuntjie het ook ʼn groot rol in haar besluit gespeel. “Ek het besef dat ek nie my seuntjie gaan sien grootword as ek nie ʼn daadwerklike poging aanwend om te verander nie. Ek het besef ek sal gesond moet word vir my seun.”

Sy wou egter nie van nog pille of ander medikasie gebruik maak om gewig te verloor nie en het bloot ʼn paar veranderinge aan haar dieet aangebring om die vet te laat wegsmelt.

“Ek het eerste my antidepressante gelos, want ek het gevoel dit maak my siek. Ek het ook kleiner porsies begin eet en minder gereeld deur die dag geëet. Ek het ook alle soetgoed uitgesny, wat baie moeilik is, want ek is ʼn soettand. Ek moes elke dag myself van voor af motiveer om nie moed op te gee nie.”

Vandag staan die skaal op 102 kg. Dit beteken dat sy reeds 58 kg verloor het – deur slegs gesonder te eet en ook net te eet wanneer sy honger is.

“Ek is ook lief vir stysel en sou dit elke dag eet, maar nou eet ek dalk twee keer per week ʼn aartappel of pasta. Ek glo nie daaraan om jouself van alles te ontneem nie.”

Waar sy voorheen ʼn 42-grootte denim gedra het, pas sy nou in ʼn 14-grootte. Sy het selfs al in ʼn 12-grootte ingepas.

Sy kon ook intussen die gebruik van alle medikasie, soos bloeddruk- en suikerpille, staak, aangesien haar bloeddruk en suikervlakke weens die gewigsverlies gestabiliseer het. Sy gebruik nog net haar cholesterolmedikasie, sê sy.

“My teikengewig is 90 kg, maar ek is tot dusver baie gelukkig oor wat ek kon vermag. Die belangrikste is dat dit nie vir my gegaan het oor hoe ek gelyk het nie, maar meer oor hoe ek gevoel het.”

Carol du Preez het byna 60 kg afgeskud. (Foto: Verskaf)

Sy verkies deesdae hoender en groente of beeshaas en slaai bo ʼn romerige, ryk bord pasta, maar bieg dat dit nog moeilik is om op Sondae nee te sê vir haar ma se heerlike nagereg.

“Dit is ʼn algehele kopskuif wat jy moet maak. Terwyl almal om jou sit en poeding eet, moet jy kan nee sê daarvoor. Waar ek voorheen ʼn hele stafie sjokolade sou opeet, eet ek nou net ʼn blokkie en dan het ek genoeg gehad.”

Du Preez het intussen weer liefde gevind en het onlangs verloof geraak.

“Die mag van die liefde is so kragtig. Dit het my ook gemotiveer om beter na myself te kyk.”

Weens haar gewig was dit altyd baie ongemaklik om oefening te doen, maar Du Preez wil eersdaags ook begin stap om fikser te word.

“Toe ek so groot was, het ek nie die energie gehad om enige oefening te doen nie. Ek sou tien tree loop en dan is ek uitasem. Ek sien uit daarna om te begin stap.”

Sy sê almal wat haar gewigsverlies gesien het, wil weet watter produkte sy gebruik het om die proses te bespoedig. Sy benadruk egter dat sy geen gewigsverliesprodukte gebruik het nie.

“Dit was deur en deur ʼn wilsbesluit. Ek het elke dag vir myself gesê vandag is nie die dag wat ek die pad byster gaan raak nie. Die belangrikste is om die reis aan te pak vir jouself, en nie vir iemand anders nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Louise ·

Wow you go girl, dit is nou motiveering uit die boonste rakke

Trotse Boervrou ·

Baie geluk Carol. Jy lyk reeds pragtig en is ‘n inspirasie vir ander. Jy kan trots wees op jouself. Met die regte gesindheid het jy in jou doel geslaag. Pragtige voorbeeld vir baie wat in dieselfde skoene staan en moedeloos is.

Mads ·

Wow, dis FANTASTIES!!! Baie geluk!!
En ek is seker jou seuntjie geniet sy ‘nuwe’ mamma se energie, ligter gemoed en algemene happiness baie! Hou so aan! Word nou lekker fiks en GENIET die lewe! Die somer se swembroek koop en die absolute lekkerte om sorgvry saam hom op die strand en in die branders te baljaar.
Ek is sommer trots op jou!
Sterkte en voorspoed verder!

Elinette ·

Jislaaik ek wens dit kon ek wees. Ek weeg 123 kg. My ideale gewig is so rondom 80kg. Ek ly aan depressie, bipolêre gemoedsversteuring, het diabetes, GEVAARLIKE hoë cholesterolvlakke, koronêre hartsiekte, hoë bloeddruk en neuropatie …. maar genugtig, nie eens ‘n “size 50” klere pas my meer nie – waar kan dié vrou net ‘n “size 42” gewees het? Sy het dan byna 160kg geweeg!

Alma ·

Dit is regtig inspirerend, maar ek moet sê die sizes klink vir my ook nie lekker nie.

tweeling ·

Well done, dis nou disipline uit die boonste rakke. Ek wens baie ander mense wil jou voorbeeld volg.

Chantel ·

WOW, welgedaan. Dit is soos sy noem, ‘n kopbesluit en weg elke dag wilskrag.

Patch ·

Fantasties! Jy kan voorwaar trots wees op jouself. Wat ‘n inspirasie!

Kathleen ·

Welgedaan Carol , ek haal my hoed vir jou so hoog af . Inspirerend sou ek reken ! Ek hoop daar is ander mense wat dieselfde wil doen wat dit nou gaan regkry ! jy lyk pragtig !

Ronel ·

Fantasties!!! Baie geluk!!! Ek weet watse wilskrag dit neem. Ekself het 42kg afgeskud deur my dieet te verander en te oefen. Parkrun het dit vir my moontlik gemaak om aan die stap en toe later te begin draf.

Ansie ·

Dis fantasties, Carol. Baie geluk. Ek stem saam met jou manier van gewig verloor. As mens jouself alles wat lekker is ontneem, straf jy jouself en dis onvolhoubaar. Doen so voort.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.