Vrou vertel van borskankerreis ná video miljoene harte aanraak

Gerdi McKenna (links bo) saam met 'n groep vriendinne. (Foto: Verskaf)

Gerdi McKenna (links bo) saam met ‘n groep vriendinne. (Foto: Verskaf)

Gerdi McKenna, die borskankerlyer wat destyds miljoene harte aangegryp het nadat ʼn video van haar vriendinne wat almal hul hare afgeskeer het om hul ondersteuning aan haar te wys wêreldwyd opslae gemaak het, is nou heeltemal gesond.

McKenna (40), vertel in ʼn onderhoud met Maroela Media dat haar kankerverhaal ʼn suksesstorie is. “Toe ek gediagnoseer is, het dit nie goed gelyk nie. Die kanker was baie aggressief, reeds in fase drie en versprei na my limfnodes en onder my arms. Ná talle rondtes chemoterapie en ʼn dubbele mastektomie is ek egter nou 100% skoon.”

Haar kankerstryd was egter nie maklik nie. Ten tyde van haar diagnose was haar kinders onderskeidelik vyf en een jaar oud en die chemoterapie het haar telkens platgeslaan.

“Ek was verskriklik moeg en siek. Mense se liggame reageer verskillend op chemo, maar dit het my hard geslaan. Ek was na elke rondte verskriklik siek en buiten die haarverlies, is dit vreesaanjaend omdat jy nie weet wat gaan gebeur nie. Daar is onbeheerbare dinge wat die Here beplan, maar ek moes positief bly en vertrou op sy plan.”

Sy is oortuig dit was dié positiewe denke wat haar liggaam ook deur die donker tye gekry het. “Ek het net besluit ek gaan positief wees en dit het dinge vir my makliker gemaak. Dit was baie keer ʼn eensame reis, waar jy aande in die donker lê en nie weet wat gaan gebeur nie, maar ek glo vas jou liggaam reageer beter as jou brein positiewe impulse daardeur stuur.”

Die video van McKenna se susters en vriendinne, wat haar vyf jaar gelede verras het deur hulle hare af te skeer om hul ondersteuning vir haar te wys terwyl sy deur diep waters gegaan het, het haar nuwe moed gegee om die kankermonster in die gesig te staar. Dié video, wat geneem is deur die fotograaf Albert Bredenhann, is reeds meer as 20 miljoen keer wêreldwyd gekyk.

Gerdi (onder) en haar suster. (Foto: Verskaf)

Gerdi (onder) en haar suster, Tinka Prinsloo. (Foto: Verskaf)

“Soos wat ʼn mens se stryd met kanker aangaan, is almal daar vir jou en wil deel wees van jou reis, maar mense verdwyn ook een vir een. Dit is te verstane, want almal se lewens moet aangaan,” sê McKenna.

“Die aand voor die verrassing was ek op die punt waar ek gevoel het ek is verskriklik eensaam. Ek was tranerig en het vir my man gesê ek voel nie asof die Here naby my is nie. As ek nou terug dink is dit so ongelooflik dat hulle my juis daardie volgende dag verras het, asof hulle presies geweet het wat ek nodig gehad het.”

Sy vertel sy het gedink sy gaan na ʼn vriendin se verjaarsdagpartytjie toe en daar verskyn haar ma, susters en ʼn klomp vriendinne skielik en pluk eenderse gebreide mussies van hul kaalgeskeerde koppe af. “Ek kon dit nie glo nie! Eers was ek geskok en toe was ek kwaad, want ek kon nie verstaan hoekom hulle dit aan hulself gedoen het nie,” lag sy.

Daarna het dit egter by haar ingesink hoe spesiaal en hartroerend dit was dat haar naaste mense bereid was om só ver te gaan ter wille van haar. “As iemand my gevra het of ek dit sal doen, weet ek nie of ek sou nie. Dit is ʼn groot ding vir ʼn vrou om al haar hare af te skeer! Ek was so emosioneel en hulle daad het my so versterk en inspireer om sterk te staan.”

McKenna voeg by dat haar vriendinne se onbaatsugtige daad ʼn getuienis is dat mense moet uitreik na hul naaste. “Nie noodwendig deur iets so groot te doen soos om jou hare af te sny nie, maar net om liefde uit te straal. Om vir jou medemens te wys dat jy omgee.”

Sy dink dit is juis dié bewys van onselfsugtige liefde deur haar vriendinne wat miljoene mense so aangegryp het. “Hulle het niks daaruit gebaat nie. Hulle het nie eers geweet daar gaan ʼn video gemaak word nie. En die beste van alles, daai vroue is nie eers vroue wat al saam met my van skooldae of universiteitsdae gekom het nie. Van hulle het ek eers by my kinders se skool ontmoet.”

Sy vertel sy het ʼn legio onderhoude met buitelandse mediahuise gedoen nadat die video so wyd versprei is. “Van ʼn koerant in Duitsland tot die Metro in Londen. Dit het gehelp om my brein van die ding af te hou. Dit was ʼn opwindende en lekker tyd en die ander vroue het ook so baie geleer in die proses.”

Gerdi McKenna se vriendinne het haar verras deur al hul hare af te skeer om hul ondersteuning vir haar te wys tydens haar kankerstryd. (Foto: Albert Bredenhann/Pixel Pro Photography)

Gerdi McKenna se vriendinne het haar verras deur al hul hare af te skeer om hul ondersteuning vir haar te wys tydens haar kankerstryd. (Foto: Albert Bredenhann/Pixel Pro Photography)

McKenna vertel laggend dat baie van die vroue hul hare sommer kort gehou het nadat hulle alles laat waai het. “Baie van ons was voor die tyd maar vervelig met ons hare en het dieselfde style vir jare gedra, maar toe dit nou weer begin uitgroei, het sommige van ons dit in funky style gesny. ʼn Mens besef dan jy hoef nie so bang te wees vir groot veranderinge nie. Almal se hare lyk goed!”

Nou nog wanneer hulle as familie bymekaar kom, is hulle saam dankbaar dat sy gespaar kon bly ná ʼn uitmergelende kankerreis. “Kanker gaan nie sommer weg in jou kop nie. Dit is altyd daar. Ons sê dankie vir die Here vir sy genade en ons besef dat ons hier is op geleende tyd. Daar is baie mense wat nié so gelukkig is nie.”

Sy benadruk dat dit belangrik is om positiewe denke te handhaaf. “Jy moet kyk na ander mense en hoe jy hulle kan ondersteun. Jou reis deur die lewe is daar om te help om ander te bemagtig en my reis het my toegelaat om soveel ander mense wat daardeur gaan, te help. Dit gee my plesier om ander te ondersteun, want dit is ʼn ongelooflike moeilike pad wat ʼn mens moet stap en jy sal nooit vir iemand kan verduidelik hoe dit voel as hulle nie self daardeur gegaan het nie.”

Lees die vorige berig oor McKenna hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Susan ·

Ek is een van daardie mense wat sy gehelp het deur die stryd! Dankie nig vir jou daar wees en moed inpraat!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.