Vrou vind genesing ná seerkry

Nerine Vermeulen. (Foto: verskaf)

“Jy weet nie met wie dit gebeur nie. Van buite af lyk die prentjie perfek.”

Dít is die woorde van Nerine Vermeulen, ’n vrou wat as oorwinnaar uit twee gewelddadige verhoudings gestap het.

Op 11-jarige ouderdom het Nerine se ouers geskei, ’n gebeurtenis wat jare se trauma tot gevolg gehad het. Moeilike tienerjare, ongesonde vriendskappe en ’n gees van rebellie het die res van haar skooljare gevul.

In haar matriekjaar ontmoet sy ’n man, ’n hele paar jaar ouer as sy, wat haar voete onder haar uitslaan.

“Dit was nou kwansuis die package waaroor meisies droom,” vertel Nerine.

Twee jaar nadat hulle begin uitgaan het, het die verhouding vir die eerste keer gewelddadig geword. Hy het haar gestamp, sy het op die kombuisvloer geval en net daar het sy vir die eerste keer werklik besef dat dit nie ’n gesonde verhouding is nie.

Tog het sy hom nog ’n kans gegee. Die paartjie was vyf jaar saam, waarvan hulle die laaste jaar en ’n half verloof was. In daardie stadium het hulle in Windhoek in Namibië gewoon.

“Die bietjie hoop wat jy in jou hart het dat dit wel sal uitwerk, het my laat vasklou aan die verhouding.”

Die laaste drie jaar van daardie verhouding was egter vir Nerine besonders uitdagend gewees. Nie net het die verhouding voortdurend agteruitgegaan nie, haar verloofde se ma het dikwels ook betrokke geraak en Nerine beledigings toegesnou.

Hy het haar selfs met kere in die huis toegesluit terwyl hy met naweekwegbreke gegaan het. Hy het haar ook dikwels by funksies in geheim geknyp wanneer daar ’n man verbygestap het en dalk na haar gekyk het.

(Foto: verskaf)

“Dit was klein, maar ongelooflik afknouend. Dit het gevoel asof ek in ’n glaskas toegesluit was.”

Tog erken sy dat sy telkemale die fout by haarself gesoek het, dat sy anders probeer optree het om te poog om die geweld te blus.

Ná vyf jaar het sy egter besef dat die verhouding tot ’n einde moet kom. Sy het 350 km weg van hom af getrek om nie net weg te kom nie, maar ook om te probeer herstel wat gebroke was.

In die eerste maand nadat hulle die verhouding beëindig het, was Nerine besonder kwesbaar. Nie net het haar eks-verloofde haar emosioneel afgeknou deur haar te dreig met sy eie selfdood nie, sy het in die arms van ’n ander ingestap om te probeer wegkom van die seer wat sy die afgelope vyf jaar ervaar het.

Hierdie arms was egter nie tegemoetkomend, vriendelik of selfs liefdevol nie. Inteendeel, hulle het haar nog stywer vasgehou as dié in haar vorige verhouding.

“Ek was nie reg nie. Ek het nie geweet wat ’n regte verhouding was nie. Ek het nie geweet wat om te voel of te dink nie. Ek het nie geweet wie ek eintlik was nie.”

“Dit wat jy nie van genees nie, trek jy aan.”

Sy was vir drie jaar in dié verhouding, waarvan hulle een jaar verloof en een jaar getroud was.

Alhoewel sy haar hart in sy hande geplaas het en hom vertrou het met die seer wat haar vorige verhouding veroorsaak het, het hy haar vertroue verbreek.

“Ek kan nie beskryf hoeveel erger dit was nie.”

Sy het besef dat sy vinnig die verhouding moet beëindig, maar vrees het haar telkemale terug in sy arms gestuur. Tog het sy ’n sprong van waagmoed geneem en die verhouding verbreek.

“Ek wou graag my goed en my diere in die huis wat ons gedeel het gaan haal, maar hy het my gedreig dat ek nie weer my voete daar mag sit nie.”

Met die einde van haar vorige verhouding het Nerine gekies om net te vlug, in plaas daarvan om terug te gaan om haar besittings saam te neem. Dié keer wou sy dinge anders doen.

Dit was egter ’n traumatiese einde vir die verhouding. Vandag is Nerine dankbaar dat sy lewend daar uitgestap het.

(Foto: verskaf)

Ná twee gewelddadige en verbrokkelde verhoudings, was Nerine moedeloos. Sy het egter besef dat sy deur haar trauma moes werk om by genesing uit te kom.

Sy het haar pad terug na die Here gevind, haar verhoudings met haar ouers herstel en besef dat dit wat sy in dié twee verhoudings beleef het, nie liefde was nie.

“Jy dink dat dit is hoe die lewe, ’n verhouding moet wees. Maar, wanneer daardie oogklappe afval, begin jy die lewe met meer kleur sien. Jy begin onderskei tussen reg en verkeerd,” vertel sy.

“In Junie sal dit vyf jaar wees sedert ek besluit het om by die laaste verhouding uit te stap.”

Alhoewel die trauma altyd deel van haar verlede sal wees, definieer dit haar hoegenaamd nie.

Vandag, kyk Nerine nie terug nie.

“Wanneer jy bestuur kyk jy mos voor jou uit, jy kyk nie heeltyd by die agterruit uit nie. Jy bly vooruitbeweeg.”

Nerine het ’n outobiografie, The Turning Point, geskryf om haar storie met mense te deel.

“Ek wil graag ’n stem vir dié sonder stemme wees. As ek een persoon se hart kan aanraak is ek gelukkig.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Perdeby ·

Elke storie het 2 kante. Gelukkig is ek so genees, dat ek NOOIT NOOIT ooit weer in enige verhouding sal belangstel nie. Doen goed sover al 30 jaar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.