Vrou vind verlore trouring

Die verlore trouring (Foto: Verskaf)

Die verlore trouring (Foto: Verskaf)

Skaars twee uur nadat Maroela Media berig het oor Benedet Thurling van Vereeniging wat haar trouring in die River Square-winkelsentrum verloor het, is haar ring, danksy ʼn op-en-wakker-leser, aan haar terugbesorg.

Maroela Media het berig Benedet het haar trouring Maandag verloor nadat sy haar kind na die babakamer in die winkelsentrum geneem het. Dié trouring het uiteraard sentimentele waarde en sy wou as ʼn laaste poging, ná ʼn besoek aan die polisie en juwelierswarewinkels, haar tot die media wend om haar ring te help opspoor.

Benedet sê woorde kan nie beskryf hoe dankbaar sy is nie. “Ek kan dit nie glo nie. My hart was seer en ek wou ʼn laaste poging aanwend om die trouring op te spoor. Die nuus het nog nie eers heeltemal ingesink nie.”

Sy vertel sy het nét lof en dankbaarheid jeens die vrou wat die ring aan haar terugbesorg het. “Die vrou het só ʼn goeie hart. Sy het gister die ring huis toe geneem, met die hoop om dit weldra aan die eienaar terug te kan gee.”

Die vrou was vanoggend in ʼn naelsalon in dieselfde winkelsentrum toe sy aan die personeel gevra het met wie sy moet praat oor die ring wat sy opgetel het. “Die naeltegnikus het vir haar gesê sy het op Maroela Media gelees ʼn vrou is op soek na haar ring, en dat sy na die hulptoonbank moet gaan en daar vir inligting vra,” verduidelik Benedet.

Die vrou het Benedet se telefoonnommer by die hulptoonbank gekry, waar sy ook die ring as verlore aangemeld het. Die vrou het Benedet gevra om ʼn foto van die ring te stuur om te verseker dat sy wel die eienaar is.

“Ek was só opgewonde en dankbaar toe sy sien dis regtig my ring, en vir my ook ʼn foto van die ring terugstuur, sodat ek kan sien sy het werklik my ring by haar. Dit voel of ek net heeltyd kan gil en skreeu van dankbaarheid,” sê Benedet.

Sy het “die grootste bos blomme” en ʼn beloning vir die vrou gegee. “Ek dink nie iemand het in haar lewe al vir haar so baie dankie gesê nie. Ek is baie dankbaar.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Gesiggie ·

Paar jaar terug het my seun sy foon in die vliegtuig vergeet. die man wat langs hom gesit het het die foon aangesit en die eerste nr geskakel op die foon… en die foon aan my terugbesorg… Ek het hom seker 10 keer daai dag geskakel net om te sê baie dankie….

So mooi om sulke goedjies nog te lees…

Jo-anli ·

Pragtig baie dankie aan ń eerlike mens. Ek weet hoe dit voel. Ekt ook my ring verloor dis deur n eerbare kind opgetel vader weet hoe hy my opgespoor het 3 maande daarna het ek die kind met sy ouers by my huis gekry. Hier is hulle die seun met grootste glimlag op sy gesig. Vader weet daardie dag het vir my weer my vertroue teruggegee in medemens. Hoera en baie dAnkie van my ook af.

Gesiggie ·

Sjoe…. ek wou nou comment, maar tot my skok ondek ek daar is iemand anders met die bynaam… Gesiggie wat alreeds comment het? sorry maar dit is die eerste keer dat ek jou naam sien verskyn…hoe nou gemaak, want ek en jy kan nie onder dieselfde naam gaan ??

Ek is so bly oor die goeie nuus… dankie tog aan die vrou, dat sy eerlik genoeg was, om die vrou se ring aan haar terug te besorg… goeie einde….

Ander Gesiggie… verander jou bynaam… A.S.B ” ( ^_^) GAAN TE DEURMEKAAR WEES”’

Susan ·

Benedet, laat dit vir jou ‘n les wees om nie jou ring af te haal nie! Jy gaan nie weer so gelukkig wees om dit terug te kry nie.

Elizabeth ·

Ek glo ten diepste daaraan dat die allermeeste mense GOED is!

Naomi ·

Fantasties. So lekker om weer te kan beleef dat ons in ons medemens glo. Mag sy geseënd wees.

magda ·

Toe ek jonk was het ek ook n ring wat my ma my gegee het in n kleedkamer afgehaal
om my hande te was. Ek wou nie die ring vol seep maak nie. Vergeet om ring weer aan te sit en nooit weer die ring gesien nie. Hou maar vir ringetjie aan en maak hom weer by die huis skoon.

Nicky ·

Ek is so bly iemand kon hul ring terug kry en dis lekker om sulke stories te lees. Dankie tog dat daar nog sulke mense is wat verlore goed wil terug besorg aan mense.
Ek het ‘n baie spesiale ring vir my 21ste gekry en my ouers het spesiale boodskap op laat graffeer. Ongeluk met die dag van my seun se geboorte, het hulle by ons huis ingebreek en my ring saam ander goed en juwele gesteel. Ek was na al wat ‘n winkel was waar ek dink hulle die goed sou probeer verkoop, om my ring op te spoor. Maar nooit weer gekry nie. Ek was nie gepla oor die ander juwele nie, maar daai ring was vir my spesiaal. Ek het ongelukkig nie myne terug gekry nie. Maar so bly vir Benedet!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.