Vrou vlieg alleen op 189-sitplek vliegtuig

Karon Grieve alleen op die vleigtuig na Griekeland (Foto: Twitter)

Normaalweg kla passasiers oor vliegtuie wat te beknop is, maar Karon Grieve het haarself alleen in ʼn 189-sitplek vliegtuig bevind – en dit vir net $60 (of sowat R850).

Grieve, ʼn skrywer van Glasgow, Skotland, het Saterdag na Griekeland gevlieg toe sy die enigste passasier in die hele vliegtuig was.

“Dit was baie onwerklik,” het Grieve aan CNN gesê. “Die kajuitpersoneel het opgedaag en hulle het almal my naam geken! Hulle almal het my kom groet en my op die naam genoem. Hulle het gelag en gespot dat ek nou my eie privaat vliegtuig het.”

Grieve sê sy het gesukkel om haar lag te hou toe die lugwaardinne die veiligheidsprosedure moes deurvoer, omdat hulle dit net vir haar gedoen het.

“Die meisie het opgestaan en die hele ding gedoen. Sy het gesê sy moet dit doen omdat dit ʼn wettige vereiste is voordat ons kan opstyg. Ek kon nie ophou lag nie!”

Die vlug Saterdag was die laaste een van Glasgow na die Griekse eiland Kreta vir hierdie jaar.

ʼn Woordvoerder van Jet2 het gesê dit is nie ongewoon vir die laaste vlug na Kreta om minder besprekings as normaalweg te hê nie. “Die vlug terug van Kreta na die Verenigde Koninkryk was wel stampvol.”

“Ons is bly dat Karon die BBP-kliëntediens kon ondervind.”

Grieve het later ʼn foto op sosiale media geplaas waar sy ’n drankie vashou met rye en rye leë stoele agter haar.

Ten spyte daarvan dat Grieve gesê het die ondervinding “kon nie beter gewees het nie”, het sy baie negatiewe kommentaar gekry. Baie mense het gesê dit is ʼn “vieslike” mors van geld om een persoon in ʼn vliegtuig te vervoer.

“Daar gaan seker altyd iemand wees wat iets negatiefs te sê het, of hoe?” het sy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Loeis ·

Sjoe! Mense noem dit ‘n “vieslike ” mors van geld om net een persoon op ‘n vliegtuig te vervoer…

Hulle moet die Suid-Afrikaanse lugdiens sien as hulle ‘n vieslike vermorsing van geld wil sien!

maryann ·

Dis nou ‘n feit soos ‘n koei daardie stelling van jou SjN – SAL blaas dit sonder om te vlieg,
en as hulle vlieg word die regering en hul familie en vriende rond gevlieg op ons kostes en die Guptas mag land op Waterkloof. Lekker man ek gun Karon Grieve so ‘n lekker vrou alleen vlug waarvoor sy betaal het.

Annie ·

Ons het een maal op ‘n British Air 747 gevlieg waar ons 15 passasiers was. Londen- Johannesburg. Ek glo die ouens het opgemaak met vrag…. Die ouens moet vlieg, hulle het geen keuse nie. Hopelik was hulle terugvlug vol… Dit was heerlik, want ons was baie moeg. Ons het die vorige dag uit Los Angelos gevlieg.

Piet Snot ·

Ja nee wraggies Maroela, julle kan beter doen.
Kreta man, Kreta.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.