Vrou word ma kort voor 50ste verjaarsdag

Chantel het kort voor haar 50ste verjaarsdag geboorte gegee. (Foto: Chantel Chavez/Facebook)

ʼn Vrou wat 20 jaar lank gewag het om ma te word, het etlike maande voor haar 50ste verjaarsdag geboorte gegee aan haar eerste kind.

Volgens die Daily Mail aanlyn het Chantel Chavez van Brits-Columbië in Kanada deur middel van in vitro-bevrugting swanger geraak en in Maart lewe geskenk aan haar seun, Nikolas. Hy is ná ʼn geslaagde keisersnee gebore.

Chavez het reeds deur die menopouse gegaan toe sy swanger geword het.

“Ek wag al 20 jaar om ma te word. Daar was ʼn verlange in my hart om my kind in my arms te hou, en ek kan nog steeds nie glo dat dit eindelik met my en my man gebeur het nie,” het Chantel gesê.

Chantel en haar man, Elenilson (50), het nege jaar gelede ontmoet en was binne drie maande verloof en getroud. Die egpaar het onmiddellik probeer om swanger te word, maar het agt jaar lank gesukkel.

Elenilson het kinders van ʼn vorige huwelik en dié paar het reeds kleinkinders gehad toe Nikolas gebore is.

“Ons gee nie om as ons soos Nikolas se grootouers lyk nie, want ons is net so lief vir hom.”

Volgens Chantel is sy spyt dat sy nie vroeër behandeling ontvang het om swanger te word nie.

“Ek was 41 jaar oud toe ons begin probeer het. Omdat ek vir so lank ʼn natuurlike swangerskap wou gehad het, was ons pad tot hier soveel langer. Ek wil hê dat ander vroue in hul veertigs meer realisties moet wees en nie soveel tyd mors soos ék voordat ek na ander opsies begin kyk het nie.”

Chantel het ʼn miskraam gehad toe sy 42 jaar oud was. “Ons was heeltemal verpletter. Ek het gedink ons het ons enigste kans op ʼn gesin verloor. Ek was 43 jaar oud toe ek ʼn vrugbaarheidskonsultant gaan spreek het.”

Volgens die konsultant sou Chantel se eie eierselle nie met die in vitro-bevrugting werk nie, maar dié paar wou dit nie aanvaar nie. Vyf jaar later het Chantel egter ingegee en gebruik gemaak van geskenkte eierselle.

Ondanks die Covid-19-pandemie kon Chantel in vitro-bevrugting ontvang en ʼn sorglose swangerskap beleef.

“Gegewe my ouderdom was ek gelukkig om geen oggendnaarheid of hoë bloeddruk te kry nie.”

Die egpaar het nog ʼn aantal bevrugte eierselle wat binne die volgende jaar gebruik moet word, aangesien daar ʼn ouderdomsbeperking van 51 op alle in vitro-behandelings is.

“Ek is net so dankbaar dat ek nooit moed opgegee het nie. Ek het geweet ek gaan eendag mý persoon ontmoet en dat ons ʼn kind sal hê.”

“Mens moet net jou hande in die lug gooi en geloof hê,” het Chantel gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Gert K ·

Ek glo sy gaan ‘n wonderlike ma wees en ek is baie bly vir hulle! Net gister gelees van ‘n bose ma wat nooit kinders moes gehad het nie.

Chantel ·

Dis werklik wonderlik, maar soms moet ouers net besef, dat ouderdom werklik ‘n rol speel in kinders groot maak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.