Vroue baat by borsbreiprojek

Die algehele koste van die pakket wat benodig word om een prostese te brei, is R60. (Foto: Verskaf)

Deur Sonet van Zyl

Kanker – daardie gevreesde siekte wat tot 2015 vir my ’n baie onbekende terrein was. Ek onthou my ouers het, toe ek klein was, daarvan gepraat, maar die woord kanker was soos ’n vloekwoord behandel omdat verskeie van ons familie oorlede is aan kanker.

In 2015 het ek as dienstekoördineerder by Kansa in Bloemfontein begin werk en woorde soos chemo, bestraling, metastase en prostese het deel geword van my nuwe woordeskat. Deel van my werk was om bewusmaking te doen onder dames oor borskanker. Ek onthou hoe benoud ek gevoel het toe ek die eerste keer voor dames, die meeste tannies, hieroor moes praat. Wel, borskanker raak een uit elke 26 vroue in Suid-Afrika en die ouderdomme raak al jonger, so nee, dit is nie ’n siekte net vir ou tannies nie.

Ek het al te doen gehad met hartseer stories waar vroue ongelukkig hul stryd verloor het, maar ek het ook al te doen gehad met die mooi stories waar vroue hierdie siekte oorwin.

Die een ding wat my egter opval, is hoe soveel vroue selfbewus is as hulle ’n bors verloor, want ja, ongelukkig glo die samelewing jou tieties maak jou ’n vrou. Daar het al vroue voor my gesit met plastieksakkies opgestop met meel, toiletpapier en lappe net om die feit dat daar nie meer ’n bors is nie, weg te steek. Ek onthou eendag hoe ’n tannie in een van die hospitale in trane was en haar man haar getroos het en gesê het hy sal vir haar ’n lemoentjie gaan soek om in haar bra te sit.

’n Vroue het eendag hierdie interessante gebreide borsies by my kantoor kom afgee. Ons het op ons perseel ’n versorgingstuiste waar verskeie pasiënte bly wat van oral oor die Vrystaat en Noord-Kaap kom vir hul bestralingsbehandelings. Meeste van hulle is borskankerpasiënte. Ek het toe die borsies vir die bestuurder van die Tuiste gegee om vir ’n pasiënt te gee wat nie ’n borsprostese kan bekostig nie, want baie het ongelukkig nie fondse nie en sommige mediese fondse dek nie die prostese nie. Die glimlag sal ek nooit vergeet nie – om te kan sien hoe so iets, wat eintlik so maklik is om te maak, iemand se totale lewe kan verander en help om waardigheid te herstel. Een van die plekke aan wie ek ook gereeld van die gebreide borsies gee, is die mammografie-afdeling by die Universitas Hospitaal in Bloemfontein wat dit dan aan dames gee wat kom vir hul opvolgmammogramme. Omdat baie so selfbewus voel, is dit net makliker as hul mammografis dit uitdeel, aangesien dit dan privaat gedoen kan word.

Die vraag na hierdie borsies het geweldig groot begin word, maar omdat baie mense nie daarvan weet nie, is ons nie altyd in staat om genoeg borsies te kan gee nie. In November verlede jaar het ek ’n streekvergadering van Solidariteit Helpende Hand in die Vrystaat bygewoon en daar het baie van die dames genoem dat hulle lus is om iets anders as die gewone beertjies, truie en komberse vir die Breinaald-projek te brei en so staan ek toe op en vertel van die borsies.

Sonet van Zyl (Foto: Verskaf)

Nooit sou ek kon dink dat dit vandag onder die vaandel van #Boesemvriendinne as ’n nasionale projek deur Helpende Hand se FroueVonds (met opset verkeerd gespel om te beklemtoon dat alles nie altyd reg verloop nie) voortgedryf sal word nie. Dít is wat my hart warm maak – om te weet dat soveel vroue se selfvertroue hierdeur geraak gaan word en ook dat dit wys dat, al is ons twee verskillende organisasies wat afhanklik is van ondersteuners en die gemeenskap, ons mekaar kan help.

Ek is al vir agt jaar ’n Helpende Hand-ondersteuner en projekte soos dié, en die manier hoe die gemeenskapsbetrokkenheid ’n verskil gaan maak, maak my net ’n nog trotser hand.

Ek dra graag hierdie op aan my liefste tannie Koba Henzen wat in 2019 haar stryd teen borskanker verloor het. Haar wysheid inspireer my elke dag om ’n verskil te maak vir borskankerpasiënte en om empatie vir hul omstandighede te hê.

  • Boesemvriendinne is ’n breiprojek van Helpende Hand ter ondersteuning van die Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa). Die publiek kan help om prostese met ’n spesiale wol te hekel of brei vir vroue wat hul borste weens borskanker verloor het. Die algehele koste van die pakkie wat benodig word om ’n prostese te brei, beloop R60. Vir meer inligting, of om saam te brei, stuur ’n e-pos aan [email protected]
  •  Sonet van Zyl, Helpende Hand vrywilliger en Kansa se dienstekoördineerder vir die Vrystaat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Meisie

Vrek oulik