Vroue laat klere waai vir bewusmaking en wêreldrekord

Duisende vroue wag op die strand. (Foto: Erika Ravenscroft)

Duisende vroue wag op die strand. (Foto: Erika Ravenscroft)

Duisende vroue het Saterdag hul klere én inhibisies op ʼn afgeleë strand in Ierland laat waai ten bate van ʼn kinderkankerliefdadigheidsorganisasie – én het boonop in die proses ʼn wêreldrekord opgestel.

The Guardian berig Lucia Sinigagliesi, die beampte wat namens die Guiness World Records die naakbaaiery beoordeel het, het gesê 2 505 vroue het minstens vyf minute kaal in die see deurgebring om dié rekord op te stel.

Die geleentheid het plaasgevind by die Magheramore-strand sowat 50 km suid van Dublin. Die vorige rekord is in 2015 deur 786 naakbaaiers in Wes-Australië opgestel.

Erika Ravenscroft. (Foto: Verskaf)

Erika Ravenscroft. (Foto: Verskaf)

Die kaalswemgeleentheid is ʼn jaarlikse instelling sedert dit in 2013 deur Dee Featherstone gereël is, enkele weke nadat sy self ʼn mastektomie ondergaan het.

Volgens Breaking News Ireland het baie van die vroue, tussen die ouderdomme van 18 en 80, self kanker oorwin en gebruik hulle die massa-naakbaaiery as ʼn manier om selfbewustheid as gevolg van mastektomie-littekens te oorkom.

Die groep het meer as €275 000 vir die Ierse kankerorganisasie, Aoibheann’s Pink Tie, ingesamel. Featherstone het gesê die aantal vroue wat vanjaar by dié swemgeleenheid opgedaag het, het “haar wildste drome oortref”.

'n Skattige Jack Russell-hondjie ondersteun ook dié liefdadigheidsorganisasie. (Foto: Erika Ravenscroft)

‘n Skattige Jack Russell-hondjie ondersteun ook dié liefdadigheidsorganisasie. (Foto: Erika Ravenscroft)

“Ek het gedink ons sal dalk tot by 1 500 kom, maar dit het net groter en groter geraak. Die hele strand was vol van ons – dit was ongelooflik,” het Featherstone gesê. “Helfte van die mense daar het self kanker of word daardeur geaffekteer, of was daar ter nagedagtenis aan iemand wat kanker gehad het. Elke vrou het hulle eie klein storie gehad oor waarom hulle deelgeneem het. Dit was baie bemagtigend.”

Erika Ravenscroft, ʼn Suid-Afrikaanse vrou wat al vir 13 jaar in Arklow in Ierland woon, het aan Maroela Media vertel sy het van die geleentheid op Facebook te hore gekom en besluit om saam met ʼn groep Ierse vriendinne deel te neem.

“Ek het verlede jaar ʼn baie goeie vriendin aan kanker afgestaan. Ek wou deelneem aan die massaswemgeleentheid om geld te help insamel vir die liefdadigheidsorganisasie, maar ook om vir my kleinkinders te wys hulle ouma het nog gees!” het Ravenscroft gesê.

Sy het gesê die byeenkoms was ʼn wonderlike ervaring. “Dit is moeilik om die gees op die strand in woorde vas te vang! Daar was vroue van alle ouderdomme en saam het ons kanker se gat geskop! Ons daag ander Suid-Afrikaanse vroue uit om dié rekord te oortref!”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

humor ·

n Baie groot en heldhaftige gebaar. Ag kan daar nie maar so iets op ons Namibiese strand gereel word nie.

Belaglik ·

Nee wat. Hoef nie kaal te wees ter bewusmaking. Sommer belaglik.

Manlik ·

Ek as man verstaan dat van die vroue bors(te) verloor het en dat om kaal en vermink te wees uiters moeilik is. Daarom kan en sal dit jou moed gee om te sien en te besef jy is nie die enigste. Ook ek het my vrou verloor aan (brein)kanker. Wat ‘n geweldige siekte wat volgens navorsing EEN uit TWEE mense wêreldwyd tref.

Valerie ·

Manlik, jammer om te hoor. Maar sê nou maar my man het ‘n “testicle” verloor? Hoekom moet die organisasies altyd kaal gaan? Selfs CANSA doen dit met hulle “drives.” Nee wat, daar is duisende beter redes.

SNEL ·

Net nog n manier om iets wat verkeerd is (kaal) goed te noem of goed te probeer maak. Duisende ander maniere om geld in te samel. So sal n mens meer en meer goed sien wat eintlik verkeerd is wat hulle goed praat en as jy dwars trek word jy gekruisig. As die dan reg is, wat is fout met pornografie.

Nudis ·

Ons as nudiste verstaan waaroor dit gaan. Dit gaan oor die feit dat jy niks het om weg te steek nie, almal is mense en almal het hulle lit tekens wat met die tyd aankom. Dit maak nie saak of jy ryk, arm, vet, maer, lelik of mooi is nie, ons almal is dieselfde en kanker of enige ander lewens gevaarlike siektes kan jou tref.
Diegene wat dink dis verspot kan by die huis bly dit bly jou keuse. En die wat dink daar is seksuele konnektasie bly asb ook sommer tuis.

AJ ·

Inderdaad, hul het hul doel bereik met hul aksie maar die meeste kommentaar hier gaan oor is dit reg of verkeerd om dit kaal te doen……?

Gerda ·

Ek sal my hare weer afskeer vir Cansa maar kaal op ‘n strand sal jy my nie kry nie.

Mosjé ·

Maroela, wat het van julle geword? Waar is jul Christelike waardes? Is ons nou mal? Om kaal op ‘n strand rond te loop gaan nie enigeiemand help nie!

Deon ·

As hulle dit nie kaal gedoen het nie het geen haan daarna gekraai!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.