Vroue se skenking hou meisies in die skool

help-hanna-worthy-women

Gretha Wiid, die motiveringspreker wat die jaarlikse konferensie aanbied, het die konferensiegangers gevra om sanitêre ware saam te bring wat aan Solidariteit Helpende Hand se #HelpHanna-projek geskenk is. Foto: Verskaf.

ʼn Duisend tienermeisies sal in 2018 nie ʼn dag skool hoef mis te loop nie, te danke aan die ruimhartige skenking van die vroue wat vanjaar se Worthy Woman-konferensie bygewoon het.

Gretha Wiid, die motiveringspreker wat die jaarlikse konferensie aanbied, het die konferensiegangers gevra om sanitêre ware saam te bring wat aan Solidariteit Helpende Hand se #HelpHanna-projek geskenk is. Daar is só altesaam 3 654 doekies ingesamel.

“Ons wil graag vir Gretha Wiid en almal wat die Worthy Woman-konferensie bygewoon het, bedank vir hulle ondersteuning met die #HelpHanna-projek,” het Lizelle Joubert, projekorganiseerder by Helpende Hand, gesê.

“Mense sal dit nie glo nie, maar sanitêre ware is ʼn luuksheid in baie huishoudings. Ons het ouers wat vertel hulle moet kies tussen brood en sanitêre ware vir hulle dogters.”

Volgens ʼn studie deur Helpende Hand in 2015 het een uit elke tien meisies in Suid-Afrika nie genoeg sanitêre ware om deur die maand te kom nie. Die meisies is ook te skaam om vir hulp te vra en bly dus vir tot vyf dae ʼn maand by die huis. Dit het tot gevolg dat meisies baie agterraak met hulle skoolwerk en tot 55 skooldae per jaar kan misloop.

Hierdie probleem word sedertdien deur Helpende Hand se #HelpHanna-projek aangeraak. Duisende meisies baat by die projek en ontvang sanitêre ware en ander toiletware by hulle onderskeie skole.

Skenkings is by die konferensie in die Kaap ingesamel, asook by die twee geleenthede in Pretoria. Die sanitêre ware sal aangewend word om meisies in die plaaslike omgewing met vier pakkies sanitêre ware per jaar by te staan. Helpende Hand se 170 takke samel ook produkte in om die projek verder te ondersteun.

Joubert het gesê die terugvoer van skoolverteenwoordigers bevestig ook dat die projek ʼn groot leemte vul en meisies se selfvertroue drasties verbeter.

  • Jy kan ook help om tot meisies se selfvertroue by te dra en seker te maak dat hulle nie uit die skool moet bly weens ʼn tekort aan sanitêre ware nie. SMS die woord “helphanna” na 38969 en skenk R10 tot ʼn Hanna-pakkie wat help om meisies in die skool te hou. ʼn SMS kos R10. Vir meer inligting oor die projek en hoe om betrokke te raak en ook by die projek te baat, besoek Helphanna.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Rooikappie ·

Dis wonderlik, maar is dit nie genoeg nie. Die regering moet regtig ingryp hier. Tussen myself en my 2 dogters spandeer ek nagenoeg R100 per maand op sanitêre produkte – en dan is dit nie die luukse van tampons nie.

Lelani ·

Ek het gewonder hoekom kan die skole dit nie in die toilette sit van die meisies se kleedkamers nie so as hulle toilet toe gaan dan vat hulle ‘n doekie

Liza101 ·

Dan word dit vermors, die onderwysers weet wie dit benodig en dit word baie diskreet aan die dogters gegee. Ek weet daar is dogters en ouers wat baie trots is en nie wil vra nie, maar meeste skole hanteer dit baie mooi.

Detail ·

Dit is regtig wonderlik maar wil julle regtig vir my vertel meisies het NIE skool toe gegaan voorheen as gevolg daarvan nie? Ek wil nou nie in detail ingaan nie, maar die mense het ook ander planne gemaak.

Petro Potgieter ·

Dis wonderlik om die meisies so te help, maar hoekom nie herbruikbare, wasbare sanitere doekies gee nie? Dit is nie alleen goedkoper op die langduur nie, maar spaar ook al die nare rommel en is baie minder geneig om sensitiwiteit te veroorsaak.

Kay ·

Met one projek I Give. Het ons ook gevind DAT die meisies het die doekies baie nodig… Dis n groot probleem …baie dankie DAT die vroue dit voorsien …dit gee hulle selfvertroue. Awesome

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.