Vroue staan skoene vol in ‘Die Gelofte’

Nadia Beukes (Foto: verskaf)

Wanneer Jan Alleman aan ’n geskiedkundige oorlogsverhaal dink, val die kollig nie noodwendig op vroue of vrouwees nie. Die Gelofte daag egter hierdie stereotipe uit.

Maroela Media het ’n draai by die AfriForum Teater gaan maak tydens een van dié nuwe musiekblyspel se repetisies om uit te vind oor hoe die merkwaardige Voortrekkervroue op die planke uitgebeeld gaan word.

“Vir my as aktrise, ma en vrou was dit verfrissend om te sien daar is ’n plek waar die vrou ’n stem gegee word en dat mense die belangrikheid van vroue binne ’n produksie en skryfproses ag. Dit kan so maklik opsy geskuif word, en ek dink nie dis enigsins hier die geval nie,” het Nadia Beukes, wat een van die hoofkarakters, Anna Cilliers, in Die Gelofte vertolk, gesê.

Jannes Erasmus, die skrywer en regisseur van die musiekblyspel, het verder verduidelik dat dit ’n storie van menslikheid is wat hulle wil vertel.

“Hierdie is klaar geskryf, ek kan nie geskiedenis herskryf nie, maar tussen die kommas en die punte kan ek menslikheid inbring,” het Erasmus gesê.

Erasmus het tydens ’n gesprek met dr. Danie Langner, uitvoerende direkteur van die Voortrekkermonument en die FAK, reeds besef dat hy ’n toneel wil skep waar daar slegs vroue op die verhoog is.

Toe hy Beukes se oudisie-video die eerste keer sien en tyd aan breedvoerige navorsingsessies bestee, het hierdie toneel in sy geestesoog verder gegroei.

“Ons is vrou, ons is Voortrekker. Die hele toekoms word in ons gesit, en uit ons gebore. Jy moet sterk staan,” het Erasmus die einste toneel aangehaal.

Beukes het tydens die gesprek verduidelik hoe beïndruk sy met Erasmus is dat hy as man soveel diversiteit en krag in die skep van ’n groep vroulike karakters kon inploeg.

Tydens ’n onlangse besoek aan die Voortrekkermonument het Langner aan die toneelgeselskap die verhaal van die Voortrekkervrou vertel.

“Baie van die vroue in die geselskap het gedink dat dit merkwaardig is om te sien dat daardie vroue soveel deursettingsvermoë, moed en geloof gehad het dat hulle as ’n ondersteuningstelsel die mans kon onderskraag. Hulle het geen waarborg gehad dat daardie mans gaan terugkom nie.”

Beukes vertel dat die volharding van die vroue iets is wat haar bybly.

“Maak nie saak in watter seisoen jy as vrou staan nie, jy kan jou plek vol staan. Ons vier al hierdie dinge soos Vrouemaand en Moedersdag, maar vroue kan maklik hard wees op onsself. Daar is soveel vrae om te antwoord en dinge om te doen, maar in jou en deur jou is daar toekoms en is jy genoeg,” het sy gesê.

Beukes beaam dat hierdie einste toneel vroue vier.

“As ’n metafoor word die vrou soos ’n hawe, tuiskoms of plek van veiligheid. In teenstelling daarmee is sy ook hard genoeg om nee te kan sê, om te kan sê: ‘Tot hier toe en nie verder nie’.”

Bernice West (Foto: verskaf)

Nie net word die krag van vroue op die voorgrond geplaas nie, daar word soveel verskillende tipes vroue op die planke verteenwoordig dat die kyker nie anders sal kan as om iets van haarself in een, of al die karakters, te identifiseer nie.

Erasmus vertel dat hy met twee sterk vroue, sy ma en ouma, grootgeword het en dat hulle invloed op sy lewe verrykend was.

“My ma het my geleer dat jou omstandighede jou nie definieer nie, maar dat jou keuses doen.”

Hy verduidelik verder die heldeverering wat hy vir sy ma het, syfer deur elke teks en produksie wat uit sy pen verskyn.

“Wat Jannes goed reggekry het, is om die swaar karakters en tonele te kontrasteer met ’n karakter soos Maria [vertolk deur Bernice West]. Sy is hierdie baken van hoop, elke keer as sy op die verhoog kom, is dit hierdie ligstraal. Sy is nog nie beïnvloed deur al die swaar en die seer nie. Die lewe gebeur mos maar met ons, maar dit maak nie dat ons nie meer is wie ons was nie.”

West verduidelik self dat haar karakter selfstandig is, en dat sy ook haar eie stel uitdagings in die oë moes kyk.

“Sy is glad nie op haar mond geval nie, en alhoewel sy hierdie stryd van haar eie voer, is sy steeds baie lig. Sy glo in die positiewe dele van die lewe, sy is ’n optimis. Sy is ook lekker sjarmant en het ’n wonderlike spelerige kant.”

West erken dat daar dele van haar karakter is waarna sy self kan opkyk.

“Die feit dat sy haar vrou kan staan, haar selfstandigheid, dat sy nie op haar mond geval is nie, is iets waarna ek as vrou opkyk.”

Jacomien de Wet is nie net een van die besige bye agter die skerms nie, sy het saam met Johan Vorster die musiek van die blyspel geskryf en vertolk self ʼn rol daarin.

“Die karakters wat hy [Erasmus] geskep het, is sterk. Johan Vorster, saam met wie ek skryf, is baie vroubemagtigend-georiënteer. Hulle glo in die rol van ʼn vrou en dat sy haar skoene in die samelewing kan vol staan.”

  • Die Gelofte sal van 6 tot 29 Mei vanjaar op die planke wees, en kaartjies daarvoor kan hier aangeskaf word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.