Vul ’n bruinpapiersak met hoop 

(Foto: Kaboompics / Pixabay)

Miljoene mense gebruik daagliks papiersakke. Van inkopies dra, springmielies opdien, vir handwerk- en kunsprojekte, geskenksakkies tot selfs om jou te keer hiperventileer.

Dié nuttige uitvindsel van word in lande soos die VSA op 12 Julie gevier en op plaaslike bodem kan ʼn bruinpapiersak nou ʼn simbool van hoop word vir mense wat in moeilike omstandighede probeer oorleef.

Ter viering van Mandeladag op 18 Julie wil die Afrikaanse Toekomstrust (ATT) lesers aanspoor om ʼn bruinpapiersak met noodsaaklike items te vul en só ʼn verskil in die lewe van behoeftige kinders te maak.

“Daar is tientalle mense daar buite wat wíl gee, maar nie weet hoe nie. Die bruinpapiersakprojek is ʼn ideale manier om ʼn impak te maak. So kan jy ook jou kinders tydens die skoolvakansie by liefdadigheid te betrek,” sê Dinah Bronkhorst, uitvoerende hoof van ATT.

ATT gee aan minderbevoorregte mense die geleentheid om hulself uit hul omstandighede te ontwikkel deur die hulp van gefokusde projekte. Dit sluit onder meer voedingsprogramme, korttermynuitreikaksies sowel as langtermynoplossings soos opleiding en pleeghuise in.

Die welsynorganisasie moedig lesers aan om in Julie ʼn bruinpapiersak met die volgende basiese items te vul en by hul kantoor by die Voortrekkermonument in Pretoria te besorg:

  • doeke
  • formule melk
  • wintersklere vir kinders en volwassenes
  • toiletware
  • vitamienaanvullings
  • komberse
  • handskoene en serpe vir kinders en volwassenes
  • boeke (vir kinders en volwassenes)
  • niebederfbare kruideniersware
  • vars produkte
  • vleis
  • geskenkbewyse van Checkers, Pick n Pay of Dis-Chem;
  • tweedehandse selfone, tablette en skootrekenaars wat ATT in die leersentrum kan gebruik
  • handdoeke en waslappe
  • maskers
  • Dettol-seep

Pakkies kan ook deur Paxi na Elarduspark se PEP-winkel gestuur word. Vir meer inligting bel Bronkhorst gerus by 012 111 8352 of besoek www.afrikaansetoekomstrust.org vir meer inligting. Help ATT om ander te help.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Elmarie ·

Dankie tog vir Pep se Paxi diens, almal woon nie in Pretoria en op dié manier kan enigeen bydra

melaney ·

By die dag hoor ons hoe mense hulle werk verloor. Ek hoop tog daar is nog mense met ‘n inkomste wat kan help.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.