Vulstasievlyt: Ledige arbeid lei tot lappieskombers

Marlene Moss (links) en Suzette Oosthuizen met die lappieskombers. (Foto: Verskaf)

Marlene Moss, ʼn vulstasie-eienaar van Fochville in Gauteng, se plan om haar werkers tydens stil tye besig te hou, het gelei tot ʼn projek wat ook ʼn verskil in die plaaslike gemeenskap gemaak het.

Moss en haar man, Louis, is al 24 jaar die eienaars van twee Caltex-vulstasies, Circle Motors en Jakaranda Diensstasie, in die dorp. Marlene het in ʼn onderhoud met Maroela Media vertel dat die Covid-19-pandemie hulle genoodsaak het om die personeel se ure te verminder.

Albei vulstasies was soms, en veral gedurende die nagskof, ook aansienlik stiller as gewoonlik en dan sit haar werkers ledig en wag vir voertuie. Sy het ook agtergekom dat dit vir die personeel ʼn uitdaging is om tydens aandskof wakker te bly en daarom het Marlene planne bedink om hulle besig te hou.

“Ons het byvoorbeeld al ʼn blokkiesraaiselprojek gehad, maar dit het nie so lekker gewerk nie,” sê Marlene. Toe sy so ʼn maand gelede ʼn breiprojek voorstel, was die personeel eintlik skepties, maar sy het hulle, mans en vroue, oorreed om dit op die proef te stel.

“Ek is self nie een van die beste breiers nie – ek kan net reguit brei,” skerts Marlene. “Maar ek het in elk geval ʼn video gemaak waarin ek verduidelik hoe ʼn mens brei en dit toe op die personeel se WhatsApp-groep gedeel.”

Marlene het aan almal breinaalde en wol verskaf en verduidelik dat die gebreide blokke so groot soos A4-papiere moet wees. Kort voor lank het dit ʼn spontane uitdaging tussen dié twee vulstasies geword.

“Van die mans het gesukkel met die breinaalde, maar hulle het kreatief geraak en met hulle vingers begin brei. Ander het glad nie die breitegniek reggekry nie en eerder gehekel,” vertel Marlene.

Die Caltex-span saam met die kinders van Reënboog Kleuterskool. (Foto: Verskaf)

Sy het saans ʼn draai by die vulstasies gemaak om werkers met die breiwerk te help. Marlene sê die werkers se entoesiasme was sigbaar onder mekaar en in hulle deelname aan die projek.

“Ek hou altyd my foon dop vir ingeval daar ʼn krisis by een van die vulstasies opduik. Party van die werkers het sommer in die vroeë oggendure vir my hulle blokke of video’s gewhatsapp om te hoor of dit reg is. Dit was op ongeleë tye, maar ek wou niks sê wat hulle vuur sou blus nie.”

Marlene meen dit was wonderlik om te sien hoe die personeel saamwerk en mekaar reghelp. Die kompetisie het spontaan ontwikkel en buiten die spangees onder die werkers, kon hulle ook terugploeg in die gemeenskap.

Daar is van die begin af besluit om ʼn kombers te brei wat vir iemand beskutting teen die snerpende winterkoue sou kon bied. Al die blokke is toe aanmekaargewerk en ʼn pragtige lappieskombers is gemaak.

“Kyk, ons het behoorlik kopgekrap om al daai blokke bymekaar te sit – party het buite die blok gedink en sommer patrone gebrei. Dit maak egter nie saak dat van die blokke misvorm is nie, want op die einde gaan dit oor die spanwerk en om saam ʼn verskil te maak,” sê Marlene.

Sy het toe vir Suzette Oosthuizen, streeksbestuurder van SAVF, genader en daar is besluit om dié kombers aan die Reënboog Kleuterskool in Greenspark te skenk. Sowat 25 kinders het die span op 23 Junie met ope arms verwelkom toe hulle die kombers gaan aflaai het.

“Die kombers is ons teken van omgee en om te gee, om mekaar saam toe te vou in warm liefde. Dit lê ons as Caltex-eienaars en personeel na aan die hart,” sê Marlene.

Sy verklap dat die breikoors hoog loop en dat hulle reeds besig is met nog ʼn breiprojek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Adri ·

Dit noem ek nou ondernemend! Dat sy selfs mans aan die brei gekry het, is merkwaardig. Baie goeie gedagte. Mag dit andere inspireer!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.