Vuur vir taal, kultuur brand warm in Dricus se hart

Dr. Danie Langner (besturende direkteur van die Voortrekkermonument) (L) saam met Dricus du Plessis (Foto: Luzanne Gresse)

Toe Dricus “Stillknocks” du Plessis Vrydagmiddag oor fiksheid by die Voortrekkermonument gepols is, het hy om hom rondgekyk en na die spul trappe beduie wat na die monument lei: Klim hulle gereeld uit en jy sal sterker word.

En die gemengdegevegskuns-atleet weet wat dit verg om die trappe na sukses op die internasionale sportverhoog uit te klim: Harde werk, deursettingsvermoë en die trots op wie jy is en waar jy vandaan kom.

Want dit is nie slegs sy vuiste wat die praatwerk in die UFC-hok doen nie – ná twee oorwinnings te danke aan uitklophoue is hulle besig om ’n reputasie as twee gladdebekke te kry  – maar ook sy ambassadeurskap vir sy kultuur, taal en erfenis.

Die 27-jarige ster het al op die groot verhoog plaasmoorde belig, terwyl hy ook vir  die UFC se Dana White en Joe Rogan (so Amerikaans as wat kan kom) ’n blitsles gegee het om sy naam korrek uit te spreek.

Hier op tuisbodem het dr. Danie Langner, besturende direkteur van die Voortrekkermonument, ’n toekenning aan Du Plessis as beskermer van die monument as Afrikaners se kultuurtuiste oorhandig.

Dr. Danie Langner (besturende direkteur van die Voortrekkermonument) (L) saam met Dricus du Plessis (Foto: Luzanne Gresse)

“Dricus is meer as net ’n sportman. Hy is Afrikaans en trots op sy erfenis en geskiedenis. Hy hou ons naam hoog in die buiteland en het al sommer Afrikaans op internasionale TV gepraat,” het dr. Langner gesê.

Du Plessis het op skool aan sportsoorte soos rugby en atletiek deelgeneem, maar waarvan min mense bewus is, is dat hy ook tot sy matriekjaar ’n lid van die Voortrekkers was.

“Ek kan al my Voortrekker-kampe onthou en dit is van die beste herinneringe uit my grootwordjare. Die samekoms, kameraadskap en vaardighede wat ek daar aangeleer het, het beslis ’n rol gespeel in wie ek vandag is,” het Du Plessis gesê.

Volgens die UFC-atleet is jou erfenis van groot waarde. Want indien jy dit opsy skuif en daarvan vergeet, is die kans goed dat jy terselfdertyd ook vergeet wie jy is.

“Wie jy is, is te danke aan jou kultuur; aan die mense wat in die verlede die opofferings gemaak het om ons die lewe en identiteit te gee wat ons vandag het. Daar is foute gemaak, regte dinge gedoen en lesse geleer – dít is wat maak wie ons is.”

Hy meen dat Afrikaners nooit nie belangrikheid van die Voortrekkermonument moet geringskat nie.

“Mense moet besef hoe belangrik die Voortrekkermonument is om te kan boekhou van ons geskiedenis. Ek dink nie mense besef altyd hoe bevoorreg ons is om hierdie kulturele baken te hê nie.”

Dricus du Plessis vier sy oorwinning nadat hy vir Trevin Giles in Las Vegas uitgeslaan het (Foto: UFC/Twitter)

Sportgewys het Du Plessis pas ’n kontrak van twee jaar met die UFC onderteken en hy wil poog om stelselmatig die ranglys na titelglorie te klim.

En indien hy aanhou presteer, sal UFC-ondersteuners binne ’n japtrap weet wie Dricus du Plessis is, hoe om sy naam uit te spreek én waarvoor hy staan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Kokkie ·

Ons is trots op jou, jongman. Jy is ‘n ware ambassadeur vir ons land en ‘n trotse voorbeeld vir ons jongmense. Ek wens vir jou voorspoed en sukses toe op jou loopbaan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.