Vyf seuns stap ure lank om hond te help

Die Magnificent 5 (Foto: AWS SA)

Vyf jong seuns van Philippi in die Wes-Kaap het Dinsdag uit hul pad gegaan om ʼn verlate en uitgeteerde hond te help wat onder ʼn bos langs die straat gelê het. Hulle het gesorg dat dié hond by ʼn dierewelsynsorganisasie uitkom sodat hy die nodige hulp kan kry.

Die Dierewelsynsorganisasie van Suid-Afrika (AWS SA) het in ʼn Facebook-inskrywing vertel dat die vyf seuns, almal jonger as tien jaar, gelyk het of hulle die wenstreep van ʼn marathon oorgesteek het toe hulle Dinsdag aan die organisasie se deure kom klop het.

“Hulle het tussen hul gejaagde asems beurte gemaak om trots te vertel wat gebeur het,” skryf AWS SA.

Die seuns het die hond onder bosse sien lê en hom probeer roep en fluit, maar die skaam hond het nie opgestaan nie en slegs sy stert gewaai.

Die groep het toe besluit om iets te gaan soek wat as halsband kon dien sodat hulle die hond na die welsynsorganisasie kon begelei. Twee seuns het by die hond agtergebly en die ander het gaan soek na iets wat as halsband ingespan kon word.

Die seuns het ʼn ou belt in die hande gekry en dit liggies om die hond se nek vasgemaak. Tot die groep se verbasing het die hond opgestaan en saam met hulle begin loop.

“Die staptog het ure geneem soos wat hulle van voetpaadjies tot besige paaie moes trotseer. Maar hierdie klein ‘Iron men’ het vir geen oomblik gedink aan moed opgee nie, want hulle wou hul nuwe vriend se lewe red.”

Die hond is intussen geïdentifiseer as ʼn vyf- of sesjarige Labrador wat hulle Champ gedoop het. Hy is besig om aan te sterk en beskikbaar vir aanneming.

Om die jong helde te bedank het AWS SA ʼn skarefinansieringsprofiel vir die groep, wat die Magnificent 5 gedoop is, geskep. Daar kan mense skenkings maak sodat die seuns elkeen ʼn nuwe paar skoene, ʼn warm sweetpakhemp en kos vir hulself en hul diere kan koop.

Sedertdien het die Magnificent 5 se storie harte oor die hele Suid-Afrika geraak. Kommentaar van lof stroom in op Facebook en Jacaranda FM se Martin Bester het ook R1 000 aan elke seun vir die welwillendheidsdaad geskenk.

Volg hierdie skakel om ʼn skenking aan die Magnificent 5 te maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Adam Adriaan ·

Wat ‘n uitstekende gebaar. Baie bly dat daar nog sulke knape in die sameleweing is wat sulke optrede openbaar. Mooi so seuns!!!!!! Julle sal geseënd wees!!

Denise ·

Wat n storie… die trane loop… wel gedaan aan al daai seuns…wow.. ek hoop champ kry n baie goeie huis en word goed versorg

Cecilia ·

Awesome julle manne super hero’s inderdaad ten spyte van hulle eie omstandighede uitgereik ❤️

Mallie ·

So kan ons almal by mekaar leer. Baie dankie jong manne. Julle is ware diere helde.

Ann ·

Hulle is met die regte waardes grootgemaak! Ek is baie trots op hulle!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.